Logo
Die broer toer – Slim Billboard
web uni tv guide

Die Broer Toer

144ReisprogramPG13 L

Die Fourie-broers vat die pad – Die Broer Toer

Nuus
07 September 2021
Die Broer Toer begin op Dinsdag, 5 Oktober om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.
Broer Toer sunset

Wat gebeur as ’n akteur, ’n dominee en ’n sakeontwikkelaar op hulle motorfietse klim en op toer gaan? Wat as dié drie nog boonop broers is? Kykers gaan binnekort uitvind wanneer Die Broer Toer op Dinsdag 5 Oktober om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, begin.

Die Fourie-broers – Bennie, Reynold en Wilbrie – gaan kykers saam met hulle op reis neem wanneer hulle plekke soos Riemvasmaak, Vioolsdrif en die Koue Bokkeveld op hulle motorfietse gaan verken.

“Dit was ’n absurde ervaring om al my liefdes saam op een plek te kon bymekaar bring – familie, film en avontuur,” sê Bennie, bekend vir sy rolle in G.I.L., Hotel en Vuil wasgoed.

“Ons gaan ver, ons gaan diep en ons gaan vir goud terwyl ons lag en doen wat broers die beste doen,” sê Reynold, die predikant in die groep.

Kykers het in 2020 ’n voorsmake van Die broer toer gekry toe die broers die Tankwa-Karoo op motorfietse aangepak het. Die doel van die loodsepisode was om te bepaal of kykers in ’n volle reeks sou belangstel. Die reaksie was so oorweldigend positief, dat die broers kon begin beplan aan hulle motorfietsavontuur van 23 dae.

In die eerste episode van die reeks het Bennie ’n verrassing vir sy broers en hulle pak die langpad aan tot in die Koue Bokkeveld. Daar wag hulle eerste uitdaging: die Bike Jimkana. In die tweede episode reis hulle deur die Sederberge na die Biedouwvallei en in die derde episode verken hulle die Weskus.

Ander plekke waar daar ook aangedoen word sluit in Groenriviermond, Hondeklipbaai, Holgatrivierloop, die Oranjerivier by Vioolsdrift, Riemvasmaak en die Kalahari se soutpanne en -duine.

Elke program het ook sy eie uitdagings – van uitdagings wat die broers vir mekaar stel soos “by my sy”, “hommel-tjommel”, “arsenaal-generaal”, “radio geen beheer” en vele meer. Die verloorder moet gestraf word wat natuurlik druk op die broers sit. Só ’n toer kom ook nie sonder meganiese en mediese probleme nie ... Die broers gaan ook ’n paar aktuele kwessies aanspreek.

“Ek sal wil hê dat wanneer iemand klaar die program gekyk het, hulle geskater het van die lag, ’n traan gepink het én impulsief besluit het om in ’n bakkie te spring en ’n avontuur aan te pak saam met mense vir wie hulle lief is,” sê Wilbrie.

Om die pad te vat is nie nuut vir die Fourie-broers nie. Hulle het op skool reeds saam begin toer en op universiteit ‘n bakkie gekoop waarmee hulle in Suid-Afrika en van die buurlande gereis het. So sit aan jou veiligheidsgordel en maak reg, want nou is jou kans om nog so ’n reis saam met hulle aan te pak!

Die Broer Toer begin op Dinsdag, 5 Oktober om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.