Logo
MMF

Die finale vyf – Maak My Famous 2

Nuus
20 Mei 2020
’n Mens kon die spanning met ’n mes sny in die Roxy Revue ateljee, tydens die finale top-48 optredes.
Wenners

Met die wete dat daar slegs vyf plekke op die top-20 oor is, was die deelnemers, mentors en selfs die gehoor op hul senuwees. Die deelnemers het geweet dat hulle nou, meer as ooit, 120% moet gee en die gehoor se asem weg slaan.

Die manne het die aand afgeskop met ongelooflike talent. Henrico Coetzer, het die gehoor bekoor én sy plek vasgenaal in die top-20 met sy weergawe van die sanggroep One Republic se treffer ‘I Lived’.

Volgende het die dames met die engel-stemme hul talente gewys. Agtien-jarige, Kezia Swartz, het kykers se asem weggeslaan met haar weergawe van popdiva Beyoncé se ‘Halo’.

Maar sy was nie die enigste een wat harte gewen het nie ... Emo Adams het besluit om sy Emo Ticket te gebruik en om Emma Ellis óók te kies vir die top-20, na haar hartroerende weergawe van Elvis Blue se ‘Mooi’.

Rymkletser Rodney Goliath (ook bekend as Rotas The Rapper), broers Locomotiv en acapella-groep Vocal Dynamix het die gehoor met ’n baie moeilike besluit gelaat. Rodney Goliath se rymklets het almal in trane gehad en dus die gehoor se stemme gewen.



Die finale afdeling was die Spesialiteit-deelnemers, met ‘n dansgroep, ‘n opera-sanger en ‘n Michael Jackson impressionis. Dansgroep Tenacity Movement het die gehoor beïndruk met hul danspassies en die laaste plek in die top-20 ingeneem.

Die gehore van die eerste vier episodes was vreeslik opgewonde oor die standaard van talent wat vanjaar op die Maak My Famous verhoog deelgeneem het. Ons kan nie wag om te sien wat dié top-20 finaliste in die volgende episodes vir die kykers inhou nie.

Maak My Famous word elke Woensdag om 20:00 op kykNET en 21:00 op kykNET & kie uitgesaai.