Logo
Byl
web uni tv guide

Die Byl

144Drama16VL

Die Byl sorg weer vir naelbyt-aksie in April

Nuus
03 Februarie 2021
Kol. Piet van der Bijl, alombekend as Die Byl, en sy span is terug in April vir nog ‘n naelbyt-seisoen van hierdie gewilde reeks.
Byl

In die tweede seisoen het Smiley, en veral Adriaan Klopper, ‘n skrikbewind van wraak en haat gevoer wat ‘n reuse letsel op Byl en sy span gelaat het. Hulle moes nie net die verlies van hulle kollegas verwerk nie, maar ook die individuele trauma wat elkeen ondervind het.

Kapt. Lena Maree (Lika Berning) worstel met haar verantwoordelikhed as ma en vrou wat verdwerg word deur dit wat van haar by die werk verwag word. Sers. Juan Stuurman (Marvin-Lee Beukes) se herstel is nie net fisies nie, maar ook sielkundig en sy jong verhouding met Dr. Shani van Rooi (Trudy van Rooy) word vroeg reeds getoets.

Dr. Fritz Barnard (Eric Nobbs) en Nicky van As (Milan Murray) is soos altyd die kompas en anker van die span, maar selfs hulle sukkel om die stukke bymekaar te hou. Byl (Waldemar Schultz) voel verantwoordelik, want sonder hom sou die span nooit die teiken van soveel haat geword het nie. Meng al hierdie emosies en gebeure en moordenaars wat nie ophou moor nie, is die resep vir die derde seisoen duidelik.

“Ek kan nie beskryf hoe opgewonde ek is om deel van die reeks te wees nie,” sê Liezl Spies, mede-regisseur. “Die draaiboeke is een lang wipplankrit met die land se beste akteurs en die beste span agter die skerms.”

Jaco Smith, ook een van die regisseurs, stem saam. “Daar is oorgenoeg intrige en natuurlik die kompleksiteit van die geliefde karakters.”

Die Byl is daardie perfekte kombinasie van aksie, spanning en intrige, maar wat dit werklik raar binne die genre maak, is die noukeurige aandag wat aan elke karakter se ontwikkeling gegee word,” sê Berdene Burger, mede-regisseur. “Dis vir my ‘n reuse-voorreg om vir die eerste keer deel van hierdie reis te wees en saam met ‘n uiters bekwame produksiespan en groep talentvolle akteurs nuwe dieptes van kol. Van der Bijl se wêreld te verken.”

Die reeks is, soos die vorige reekse, deur Leon Kruger geskryf en is om en in Kaapstad verfilm. Die eerste episode van Die Byl word op 27 April om 20:00 uitgesaai.

Kettingkyk seisoen 1 en 2 van Die Byl op Showmax voor die afskop van die derde seisoen in April.