Logo
Byl
web uni tv guide

Die Byl

144Drama16VL

Die Byl neem kykers deur sielkundige doolhof

Nuus
31 Mei 2016
Die misdaadreeks Die Byl word vanaf 12 Julie 2016 om 20:00 op kykNET uitgesaai.
Die Byl Logo

Om ’n reeksmoordenaar te jag, moet jy soos ’n reeksmoordenaar kan dink. En as ’n mens nie meer ’n kind is nie, kom jy agter die monsters is nie meer onder jou bed nie maar in ander mense.

Die Byl, wat op 12 Julie om 20:00 op kykNET begin, is ’n misdaadreeks wat êrens in Kaapstad afspeel in ’n fiktiewe elite-eenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se afdeling vir geweldsmisdaad.

Hierdie eenheid spesialiseer in ondersoeke na reeksmoorde en word aangevoer deur kolonel Piet ‘Byl’ van der Bijl, ’n oud-moord-en-roof-speurder wat roem verwerf het vir die afhandeling van vele bykans onoplosbare reeksmoorde.

Die Byl neem kykers op ’n reis deur die geologiese doolhowe en sielkundige skuilhoeke van die reeksmoordenaar.

Van der Bijl word bygestaan deur ’n gedugte span spesialiste wat elkeen ’n onmisbare bydrae lewer om hierdie uitgesoekte eenheid die trots van die Polisiediens te maak. Behalwe vir elke interessante en ingewikkelde saak wat na hulle verwys word, handel die reeks oor die interpersoonlike verhoudings van hierdie groepie toegewyde, eksentrieke en veelkantige persoonlikhede.

Hulle wel en weë word deur elke grusame reeksmoord geraak. Emosies soos liefde, afguns, romanse, agterdog, kameraderie en jaloesie kom dramaties na vore ten midde van die spanningsvolle werk wat die eenheid elke dag moet doen.

Elke episode van die reeks het ’n spesifieke reeksmoord as tema en in die loop van elke 90 minuut lange episode word die saak ondersoek, nagevors en opgelos – of dalk kom iemand met moord weg.









Meer oor die karakters

KOLONEL PIET VAN DER BIJL – BYL (WALDI SCHULTZ) is ’n oud-moord-en-roof-speurder, verbind aan die SAPD se eenheid vir geweldsmisdaad.

Van buite gesien: Was dit nie vir die indringende blik in die oë, die energie wat grens aan hiperaktiwiteit, tekens van OCD, die feit dat hy ooglopend nêrens inpas nie en die pyp wat hy met mening nie rook nie, sou Byl beskryf kon word as onopvallend.

Hy is altyd pynlik netjies geklee in sy donker pakke klere, maar blyk nie bewus te wees van sy voorkoms nie. Hy kommunikeer nie maklik nie, tog luister almal, veral misdaadverdagtes, wanneer hy iets te sê het.

Die woord ‘onmoontlik’ vorm nie deel van sy woordeskat nie. Diegene wat hom goed ken en gereeld saam met hom werk, beskryf Byl as toegewyd, doelgerig, onwrikbaar en iemand wat dit moeilik vind om in ’n span te funksioneer. Misdadigers beskryf hom as vaderlik, broederlik, ’n ware vriend en uiteindelik: slinks; ’n verraaier.

Van binne gesien: Byl het in relatiewe eensaamheid op ’n afgesonderde plaas onder die tiranie van Die Woord en Die Lat grootgeword. Hoewel sy ouers liefdevol was, was hulle nietemin baie konserwatief en twee van Byl se sterkste karaktereienskappe spruit hieruit: Jy misluk nie, en jy gee nie oor nie.

Edel, tog paradoksaal. Byl misluk nie en gee nie oor nie, nie omdat hy inherent ’n wenner is nie, maar omdat hy op vadersknie geleer het dat hierdie tekortkominge tot skande lei.

Jy trek netjies aan, nie omdat jy wil goed lyk nie, maar omdat slonserigheid skandalig is. Dieselfde met sy voertuie. Dus: Byl is fanaties oor die oplos van ondersoeke omdat die skande verbonde aan mislukking net te groot is.

Op skool het Byl vir die eerste keer agtergekom dat hy effens anders as ander kinders is. Hy kon deur hulle sien. Die ander kinders het graag saam met hom gespeel, maar iets in hulle houding, lyftaal en die nuanse in die stem het hom laat besef dat hulle soms vals was. Dit was amper asof Byl instinktief geweet het wat ander mense dink. En daardie denke was nie altyd positief teenoor hom nie.

Die enigste ander plek waar hy geen fokusprobleme het nie is die misdaadtoneel. Daar kan hy vir dae lank doodstil sit en wag totdat die toneel alles omtrent die gebeure, die slagoffers en die moordenaars vertel – dan steek hy sy pyp aan en ons weet: Hier kom ’n ding!

GENERAAL NEELS VAN AS (TERTIUS MEINTJES) staan aan die hoof van die plaaslike eenheid vir geweldsmisdaad.

Van buite gesien: ’n Aantrelike man met gravitas en gesag.

Van binne gesien: As gevolg van die bogenoemde kan Neels nie verstaan hoekom sy geliefde vrou, Nicky Malan (sien onder), hom ‘om geen rede denkbaar’ verlaat het en nou kwansuis ogies maak vir ’n vaal muis soos Byl nie.

Dit grief hom, maar hy beskik oor die grootsheid om sy gevoelens te betwyfel: Dalk is hy ook maar net jaloers op Byl se suksesse, soos die meeste van hulle medewerkers, maar dan is daar weer die bewondering in haar oë wanneer sy met Byl praat en die manier hoe sy haar hand op die een heup plaas (so bliksems verleidelik!) wanneer sy met hom praat. Wat het Byl wat hy nie het nie? Hy – iemand met rang, gesag en mag!

Die moelikste deel van Neels se posisie is dat hy die filter is tussen die politiek en die eenheid. Ten spyte daarvan dat hy hom professioneel gereeld op die snykant van die lem bevind, is die eenheid sy eerste liefde.

ADVOKAAT NICKY MALAN (MILAN MURRAY) is ’n openbare vervolger en die staatsaanklaer verantwoordelik vir Byl se reeksmoord-ondersoeke.

Van buite gesien: Hard. ’n Ystervrou. Iemand wat die gatkant van die lewe te veel kere gesien het. ’n Vrou wat net versag wanneer sy in Byl se geselskap is.

Van binne gesien: Jare se blootstelling aan grusame moorde op vroue en kinders, seksuele molestering en verkragting het sy tol geëis. Dus is haar ‘hardheid’ en oënskynlike tekort aan simpatie en empatie bloot ’n skans om haarself mee te beskerm. En daarom vat sy nie kaf van kabouters wanneer dit by polisie-ondersoeke kom nie.

Die dossiere en bewysstukke sal in die hof bly staan, want sy verteenwoordig nie net reg en geregtigheid nie, maar ook die slagoffers se naasbestaandes. En hulle verdien net die beste.

Haar enigmatiese verhouding met Byl? Sy respekteer sy toewydheid, doelgerigdheid en die feit dat sy hofgereedheid sonder gelyke is. Tog, diep binne-in Byl, sien sy ook ’n slagoffer. Maar dit is Byl se vermoë om, wanneer hy met haar praat, net met háár te praat wat sy onweeerstaanbaar vind. Hy laat haar goed oor haarself voel. Dit is asof die grusaamheid wat hulle saam beleef hul nader aan mekaar bring – daardie plek waar sy die weerlose kindjie in Byl kan beskerm.

KAPTEIN LENA MAREE (LIKA BERNING) is ’n forensiese sielkundige wat ten tye van reeksmoord-ondersoeke deel van Byl se span vorm.

Van buite gesien: ’n Aanvallige vrou met ’n vlymskerp intellek en sielkundige insig. ’n Persoon waarmee Byl glad nie oor die weg kom nie.

Van binne gesien: Lena is nié een van daardie sielkundiges wat die vakgebied betree het om haar eie skete op te los nie. Sy is ’n wetenskaplike wat net na die feite kyk en op sterkte daarvan ’n profiel saamstel – helaas, dit is waar sy en Byl kopstamp.

Byl het ook ’n goddelike respek vir die wetenskap, maar ’n wetenskap bestaande uit bywysstukke wat hy kan sien en aan kan vat. Nie mumbo-jumbo wat sielkundiges, volgens hom, uit die lug pluk en met groot woorde, sonder betekenis, saamflans en in sy keel wil afdwing nie.

Die doring in Byl se vlees is dat Lena meestal reg is. Die verhouding tussen hulle herinner aan ’n Midde-Oosterse skietstilstand. Waar Byl baie sê met min en eenvoudige woorde, sê Lena dieselfde met baie en groot woorde. Sy weier om die knie voor Byl te buig, aangesien sy hom meestal bloot as ’n interessante insek sien en nie die heldeverering vir hom het soos byvoorbeeld Juan (sien onder) nie. En Byl is te yster om dieselfde te doen.

Lena en Juan is teenoorgesteldes. Sy het ryk grootgeword en is gewoond aan net die beste. Juan, daarenteen, se huishoudelike omstandighede as kind en jongeling was karig. Lena is na die beste universiteit – sy’t haar meestersgraad by Yale gedoen. Hoewel Juan die vermoë gehad om universiteit toe te gaan, was die Polisiekollege sy enigste uitweg as gevolg van sy familie se finansiële tekortkominge. Lena sien haarself as ’n ernstige intellektueel. Juan skeer die gat daarmee. Dan is daar hulle professionele wedywering. Juan behoort geen kompetiesie vir haar te wees nie, maar hy werk die naaste aan Byl. En Byl is die spilpunt van hierdie elite-eenheid waarin hulle werk. Die een ding wat Lena grensloos irriteer is mans wat haar op die uiterlike takseer.

SERSANT JUAN STUURMAN (MARVIN-LEE BEUKES) is Byl se protégée en meestal regterhand as hy toegelaat word.

Van buite gesien: In kontras met hoe hy lyk en wat ons stereotipiese verwagtinge is, is Juan ’n tegnologiese wonderkind, gewapen met sy iPad en iPhone.

Van binne gesien: Vroue val soos domino’s voor Juan se aanslae – en hy is ’n besige mannetjie. Maar nie Lena nie. Hy sien haar as pretensieus en ’n ysberg.

Juan se verhouding met Byl is egter baie meer uitdagend. Waar Byl met sy kartondose vol dossiere (huidige en argaïese) rondsukkel, het Juan alles op sy rekenaar. Wanneer Byl vir dae lank deur duisende bladsye sal soek, het Juan al die inligting byderhand. Byl wil aan die papier kan raak en ruik. Juan wil net ’n knoppie druk. Byl wil net oor ondersoeke praat. Juan wil gereeld mannepraatjies maak. Juan wil vir Byl die wêreld van gewilde kroeë wys. Byl hou sy snoet in dossiere. Tog sal Byl soms verdwaal in sy dossiere en dan staan Juan met die antwoorde byderhand.

Alle speurders wil natuurlik Byl se suksesse behaal, maar baie min van hulle is bereid om die Groot Prys daarvoor te betaal. Wie wil ’n lewe lei wat bloot uit moordenaars, slagoffers en geen sosiale lewe bestaan? Beslis nie Juan nie. Dus ly hy onder die wete dat hy nooit Byl se skoene sal kan volstaan nie. Hy sal nooit die beste in sy beroep kan wees nie, maar bloot in Byl se skaduwee kan werk en bestaan.

Dit lei tot frustrasie, maar as die lewe druk, maak ’n grap en lag. Lena is ’n ander storie. Hy voel redelik minderwaardig teenoor haar – sy het immers ’n string universiteitsgrade en ander verwante kwalifikasies én werk boonop aan ’n doktorsgraad – en die feit dat sy net nie voor sy sjarme wil swik nie is vir hom die doring in die vlees. Tot Juan se voordeel is Byl die vuur waarom hulle almal lewe en hy is die naaste aan die hitte. Hy weet dat Byl Lena se vakgebied glad nie kan verdra nie en sal juis hierdie aspek gebruik om haar gereeld mee af te bring na sy vlak toe.

DOKTER FRITZ BARNARD (ERIC NOBBS) is ’n forensiese deskundige en patoloog en een van die beste ter wêreld.

Van buite gesien: ’n Bleek, ouer man wat die grootste gedeelte van sy lewe binneshuis deurgebring het in die teenwoordigheid van kadawers.

Van binne gesien: Hy is deur en deur ’n wetenskaplike en, soos Byl, glo hy slegs in dit wat hy empiries kan bewys. En dit is die rede hoekom hy en Byl so goed oor die weg kom.

Die vriendskap is egter nie op ’n gemeenskaplike fassinasie met die morbiede en makabere gegrond nie. Fritz is ’n ensiklopedie van relevante kennis en, soos Byl, weet hy alles van alle sake wat nóg wêreldwyd ondersoek, opgelos en nie opgelos is nie. Die rede hoekom hy ’n patoloog geword het, is weens sy liefde vir rockmusiek.

Hy wou dus as medikus ’n pos beklee waarin hy saans vry kon wees om sy musiek te beoefen. Helaas is hy glad nie musikaal nie.

Kyk Die Byl, vanaf 12 Julie 2016 elke Dinsdag om 20:00 op kykNET.