Logo
Byl
web uni tv guide

Die Byl

144Drama16VL

Die Byl is terug

Nuus
15 November 2019
Kom hier agter die kap van die byl.
Die Byl_Waldimar

Veertien splinternuwe naelbyt-episodes. ’n Talentvolle span voor en agter die kamera. Ja, kolonel Piet van der Bijl en sy span is terug vir nog ’n reeks!

Die Byl vertel die verhaal van kolonel Piet van der Bijl, ’n briljante speurder wat spesialiseer in die vastrek van reeksmoordenaars. Sy hele wese is ingestel op die detail van die lewe en die stukke van die legkaart wat nie altyd wil pas nie. Sy persoonlike verhoudings ly egter onder sy werkywer, maar hy sal enigiets vir die mense na aan sy hart doen.

Marvin-Lee Beukes is weer te sien as Juan Stuurman. 

Dit is vyf jaar sedert ons Byl (Waldemar Schultz) en sy span leer ken het. Byl is steeds bekend as ’n super-speurder, maar hy was egter die rede hoekom kaptein Juan Stuurman (Marvin-Lee Beukes) uit die eenheid bedank het. Byl se verhouding met Nicki Swanepoel (Milan Murray) het verbrokkel ná hulle vir ’n tyd lank saam gebly het. Byl en generaal Neels van As (Tertius Meintjes) het die strydbyl begrawe, maar nie vir lank nie …

Milan Murray vertolk die rol van Nicki Swanepoel. 

Ellie Bonthuys (Barbara Marié Immelman) het haar dae as sensasie-joernalis vaarwel geroep en is deesdae ’n woordvoerder die SAPS. Die span se kantore, die ondervragingslokaal en laboratorium het ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Dr. Fritz Barnard (Eric Nobbs) het ’n nuwe assistent, Dr. Shani van Rooi (Trudy van Rooy), en kaptein Lena Evans (Lika Berning) is intussen getroud en is ma van ’n jong seun. Carien van der Bijl (Rolanda Marais), Byl se eksvrou, maak ook onverwags haar verskyning.

Lika Berning as kaptein Lena Evans. 

In die tweede reeks van Die Byl is daar weer ’n rits sake, een in elke episode, wat opgelos word, maar hierdie keer is daar ook ’n paar deurlopende storielyne wat kykers vasgenael gaan hou. Byl word toenemend emosioneel en fisies gekonfronteer wanneer sy span die teiken word van ’n reeks onverklaarbare en onstellende gebeurtenisse.

Die reeks is geskryf deur Leon Kruger, Hein Eksteen en Anton Treurnicht en die regisseurs is Quentin Krog, Liezl Spies en Leon Kruger. Die reeks word deur Marche Media vervaardig. Ander bekendes wat in die dertien episodes gesien gaan word, is Wilhelm van der Walt, Jody Abrahams, Marlo Minnaar, Jana Kruger, Geon Nel, Marius Weyers, Stiaan Smith, Cintaine Schutte, De Klerk Oelofse, Illse Roos en Denise Newman.

Het jy die eerste reeks van Die Byl gemis? Kom hier op hoogte. 

Die Byl 2 is vanaf Julie op Showmax beskikbaar en sal later vanjaar op kykNET uitgesaai word. Vertel al jou vriende op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #DieByl.