Logo
Die broer toer – Slim Billboard
web uni tv guide

Die Broer Toer

144ReisprogramPG13 L

Die Broer Toer – kom saam op ‘n avontuur

Nuus
24 Augustus 2020
Drie broers, drie motorfietse, geen lisensies, een groot avontuur – welkom by Die Broer Toer.
Die Broer toer Article header

Op Donderdag 10 September 21:00 kan kykers inskakel vir die loodsepisode van Die Broer Toer op kykNET (DStv-kanaal 144), met Bennie Fourie en sy twee broers.

Bennie Fourie is bekend as akteur, regisseur en skrywer, maar hy en sy broers, Reynold en Wilbrie, is ook bekend vir hul legendariese avonture. Selfs met die eise wat die grootmenswêreld stel en hul verantwoordelikhede wat hulle in teenoorgestelde rigtings dryf, vind hulle steeds tyd om saam avonture aan te pak.

“Ons hou van remote toer en kamp. Omtrent een keer ‘n jaar gaan ons saam op ‘n avontuur. Of dit nou is om Botswana in te vaar of op die Oranjerivier te gaan roei – ons hou daarvan om ‘anderste’ tipe vakansies te hou,” vertel Bennie. 

Alhoewel hulle soos dag en nag verskil, is daar een ding wat hulle in gemeen het – hulle sê nooit nee vir ‘n uitdaging nie. En, met hul volgende uitdaging gaan hulle behoorlik getoets word, want hierdie keer doen hulle dinge anders. Gewoonlik beplan Reynold en Wilbrie die avonture, maar hierdie keer gaan Bennie die avontuur beplan.

Vir die loodsepisode van Die Broers Toer pak die drie broers die Tankwa-Karoo aan op motorfietse. Bennie maak seker daar is heelwat uitdagings – kompetisie is al van kleins af ‘n primêre bron van vermaak van hulle, met die wenner wat beloon word en die verloorders wat gepenaliseer word. Dié familietradisie is ‘n groot deel van hierdie avontuur – die pad is lank en die luukshede is min. So, wanneer dit kom by belonings, is daar baie op die spel…

Kykers sal dadelik van Bennie se twee broers, Reynold en Wilbrie, hou. “Reynold, ‘n dominee soos ons pa, is by verre die lieflikste, niceste mens in die wêreld en game vir alles,” vertel Bennie. “Wilbrie is die stoutgat en lewe van die partytjie – as hy sê ons moet ‘n opblaasbootjie koop en in die see sit, dan doen ons dit – hy sal ons nie uitlos as ons dit nie doen nie.”

“Ons het besluit om die Tankwa aan te pak vir Die Broer Toer-loodsepisode sodat kykers ‘n idee kan kry van hoe ons avonture gewoonlik lyk. Indien die loodsepisode suksesvol is, beoog ons om ‘n selfs groter avontuur aan te pak,” vertel Bennie.

Vir die broers is dit belangrik om bymekaar te kom en saam herinneringe te maak. “Ons wil vir mense wys dat dit maklik en lekker is om sulke avonture aan te pak – dit hoef ook nie ‘n arm en ‘n been te kos nie,” sê hy. “Daar is ‘n lekker balans tussen stout en snaaks, maar dis ook familievriendelik – dis ‘n episode met hart wat hopelik kykers sal aanmoedig om meer goed saam te doen.”

Skakel Donderdag 10 September 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) in vir die loodsepisode van Die Broer Toer.