Logo

Die Boland Moorde: Seisoen 2 binnekort op die kassie

Nuus
23 Januarie 2017
Die Boland Moorde keer op 14 Februarie 2017 om 20:00 terug vir ’n tweede seisoen van 8 episodes. Lees meer oor dié opwindende nuwe seisoen hier.
Die Boland Moorde 201

Die Boland Moorde keer op 14 Februarie 2017 terug vir ’n tweede seisoen van 8 episodes. Elke episode is, soos met die oorspronklike reeks, ’n uur en ’n half lank en is geskoei op die tradisionele formaat van Britse whodunnits soos Lewis, Midsomer Murders en Vera.

Stian Bam en Brendon Daniels neem weer die leisels as luitenante André Fourie en Shane Williams: lede van die Boland Ondersoekeenheid. Saam met hulle gedugte span los hulle raaiselagtige moorde in die Wynland op en word hulle logika en kundigheid tot die uiterste beproef om die moordenaar te ontbloot.

Die tweede seisoen begin vier jaar na die afloop van die eerste seisoen en baie het verander vir die span. Japie (Marlo Minnaar), die IT-spesialis, is nog steeds deel van die span, maar die res is almal nuwe gesigte.

Die span se hoof is nou Kolonel Khumalo (Mbulelo Grootboom) en Busi (Ebby Weyime) het oorgeneem as forensiese spesialis. Shane en André het ook ’n nuwe kantoorbestuurder, wat Shane teen die mure uitdryf. Elise (Nicole Holm) dink egter hy is heeltemal te sensitief.



Van links na regs is Ebby Weyime, Brendon Daniels, Nicole Holm, Stian Bam, Tinarie Van Wyk-Loots, Mbulelo Grootboom en Marlo Minnaar.

Laastens het Dok le Roux afgetree en sluit ’n nuwe patoloog by die span aan. Dokter Rachelle de Jager (Tinarie Van Wyk-Loots) is ’n vars briesie wat deur die kantoor waai en André se hart verbasend warm laat klop. O, ja. En Shane is nou ’n pa en sy seuntjie, Benji, gee hom al sy dae...








In die nuwe seisoen word die span weer gekonfronteer met ’n wye verskeidenheid sake. In die eerste episode word hulle gedompel in die teater-wêreld wanneer die lede van ’n geselskap wat Macbeth opvoer skielik op vreemde maniere begin sterf. Is dit die vloek van die Skotse toneelstuk of sit daar iets meer agter dit alles?

In die volgende episode word die span uitgeroep na La’Viva-plaas, waar troues en onthale deur vier vriendinne gereël word. Maar dit is alles behalwe ’n droomdag wanneer die mense begin omkap soos vlieë. En dis nie die slegte kos nie.

In episode 3 raak Shane en André betrokke by die geheime van ’n politieke familie wanneer ’n lyk skielik ’n jaar later ontdek word. Daarna neem die seisoen ’n bietjie van ’n afdraaipad en “leen” Elise een van die speurders se saak-lêers om te gebruik vir haar speurroman. Deur Elise se ryke verbeelding word ons weggevoer na ’n familie in die Strand en hul pogings om net eenvoudig ’n bestaan te voer. In dié episode word familiebande tot die uiterste beproef.

In episode 5 bevind die span hulleself in ’n amper ondenkbare situasie en word dit ’n wedloop teen tyd om die skuldige vas te trek voor daar moontlik noodlottige gevolge is. In die daaropvolgende episode word Shane en André ingetrek in ’n studentewêreld van internet-radiostasies, kunsuitstallings en dwelms.

In episode 7 word André en Shane gedwing om hul eie foute in die oë te staar wanneer hulle betrokke raak by die verdwyning van ’n advokaat. Wat hulle egter ontdek is meer afgryslik as wat hulle ooit sou kon raai.

In die laaste episode is die span op die spoor van ’n reeksmoordenaar en moet André sy grootste vrese direk in die gesig staar: vroue en kersligetes.

Hier is ’n voorskou:



Uiteindelik behou dié seisoen dieselfde trant as die eerste seisoen en is dit ’n mengsel van humor, moord en vriendskap wat hopelik net soveel kykgenot sal verskaf as die eerste.



Kyk Die Boland Moorde, vanaf 14 Februarie elke Dinsdag om 20:00 – slegs op kanaal 144.