Logo

Die Boland Moorde: Seisoen 1 weer op kykNET

Nuus
31 Desember 2015
Die Boland Moorde, ’n speurreeks wat uit ses episodes bestaan, draai rondom die vernuftige speurwerk van die lede van die Boland Ondersoekeenheid.
Boland Moorde 01

Die Boland Moorde, ’n speurreeks wat uit ses episodes bestaan, draai rondom die vernuftige speurwerk van die lede van die Boland Ondersoekeenheid. Die eerste seisoen word vanaf 1 Januarie 2016 op kykNET herhaal. Kykers kan op Vrydae om 20:00 inskakel.

Reis saam met adjudant-offisiere Shane Williams en André Fourie deur die Wynland en ontdek ’n wêreld gevul met aweregse karakters, humor en raaiselagtige moorde.

Jy sou dink die speurspan het nie veel te doen in dié stukkie paradys nie, maar die mens is nou maar eenmaal mens... Passie, woede, jaloesie en haat kry maar altyd die oorhand. Dit is dán wanneer die speurders hul moue oprol en aan die werk spring. Hulle word bygestaan deur ’n bekwame tegniese span, maar dit is meestal Shane en André se intelligensie, logika en begrip van die mens se natuur wat hulle na die skuldiges lei.

Die rolle van die twee speurders word vertolk deur die welbekende akteurs Stian Bam (André) en Brendon Daniels (Shane). Ander lede van die span word gespeel deur bekroonde akteurs soos Martelize Kolver, Antoinette Kellermann, Vicky Davis, Johan Esterhuizen en Marlo Minnaar. Naas die hoofkarakters is daar sowat 65 akteurs oor die ses episodes gebruik en dit sluit groot name in soos Anna-Mart van der Merwe, Marko van der Colff, Hannes van Wyk en AJ van der Merwe. Die reeks bring ook ’n magdom nuwe gesigte na die skerm en selfs Laudo Liebenberg – hoofsanger van aKing – maak sy TV-debuut.

Wat die reeks anders maak is dat elke episode ’n uur en ’n half lank is en die speurders kom elke keer te staan voor ’n nuwe uitdaging. Hulle word gedompel in die deurmekaar wêrelde van flieks maak en rockmusiek, maak kennis met ’n gebroke familie op ’n wynplaas en die geheime wêreld van ’n privaat universiteitskoshuis. Hulle word ook ingesleep by die binnegevegte van die literêre wêreld en word selfs genooi na ’n dodelike verjaarsdagpartytjie.



Die draaiboeke en stories is ontwikkel en geskryf deur Louis Pretorius (medeskrywer van Vallei van Sluiers) en Albert Snyman (meewerker aan Binnelanders). Die regie is behartig deur die bekroonde teater-regisseur Jaco Bouwer wat veral bekend is vir produksies soos Verkeer, Smag en die onlangse Rooiland. Musiek vir die reeks is spesiaal gekomponeer deur Mr. Cat and the Jackal.

Die reeks is in die winter van 2012 oor ’n tydperk van twee maande in en om Stellenbosch geskiet. Omdat die reeks soveel uiteenlopende stories bevat is daar op meer as 30 verskillende plekke verfilm. Die reeks is vervaardig in samewerking met die US Drama-departement en daar is gebruik gemaak van hul fasiliteite asook tegniese studente agter die skerms. Enkele van die toneelspelstudente het ook kameerolle vertolk.

Kyk Die Boland Moorde se eerste seisoen vanaf 1 Januarie 2016 om 20:00.