Logo

Die Boekklub: Almal het ’n storie

Nuus
30 November 2015
Die Boekklub, ’n opwindende nuwe dramareeks, sal vanaf 12 Januarie 2016 op kykNET uitgesaai word.
Boekklub Feature

Die Boekklub, ’n opwindende nuwe dramareeks, sal vanaf 12 Januarie 2016 op kykNET uitgesaai word. Met groot name soos Jana Cilliers, Armand Aucamp en June van Merch en ’n omvangryke storielyn, beloof dié reeks van 13 episodes om kykers week ná week terug te roep vir nóg ’n hoofstuk.

Die lewe loop soms vreemde draaie. Vir Tom Niemandt het dit alles begin met die afsterwe van sy ouma Bettie. Dit was ’n vreemde oproep om te ontvang, want hy was onder die indruk dat sy ouma twintig jaar gelede al oorlede is. Maar dís ’n storie vir ’n ander dag. Feit is: Beth Niemand het stil heengegaan.

Tom was glad nie lus vir die begrafnis nie. Hoofsaaklik omdat sy ouma in Merweville bly (’n afgeleë Karoo-dorpie met net een teerstraat). Tom verstaan nie hoekom mense daar wil woon nie. Daar is twee plekke in Suid-Afrika: Kaapstad en Johannesburg. Tussenin en rondom is ’n groot klomp niks, gemeng met... niks. Terloops, Tom is deur en deur ’n hipster wat leeglê in koffiewinkels en baie hard werk aan sy “roman” terwyl sy meisie ’n regte werk het. Maar hy gaan eendag ’n great boek skryf. Hy wil net eers hierdie cappuccino klaar drink.

Om terug te keer na Bettie se begrafnis. Tom was van plan om net ’n paar dae te bly, maar sy planne word omver gegooi wanneer hy sy ouma se gastehuis erf en deur haar testament vriendelik verplig word om vir ’n jaar in die dorp te bly. Dit is die laaste ding waarvoor hy lus was. Boonop sit hy opgeskeep met Sofia, sy ouma se jarelange vriend en nou ook Tom se vennoot in die gastehuis. Hulle twee vryf mekaar heeltemal verkeerd op. Dit word alles amper te veel vir Tom en hy wil-wil ontsnap. Die dag na sy ouma se begrafnis ontmoet hy egter haar boekklub en dit verander alles. Dít en Lillie Human.

Die boekklub is ’n interessante groep mense saam. Daar is Anna, sy ouma se beste vriendin en kruiedokter; die vriendelike boer, Herman, wat ewe goed skaapskeer en orrel speel; Hanli, die stralend gelukkige plomp plaasvrou wat vir elke geleentheid bak en tog so trots is op haar kinders; Gerwin, ’n juffrou by die laerskool; Gert, die slagter (ook ’n wewenaar wat hou van draf); Sofia en dan natuurlik Lillie, die misterieuse meisie wat hy in die veld ontmoet het met die vlymskerp tong. Wat soek sy in Merweville? In elk geval, Tom kon eers nie glo hier is ’n boekklub nie. Dan antwoord die kruievrou bot: “Ons bestaan al vir 25 jaar. Bettie is nie die eerste lid wat doodgaan nie en sy is beslis ook nie die laaste nie.”

Voor Tom kan keer, word hy ingetrek in die gebeure en intriges van dié klein dorpie en vind hy ’n onwaarskynlike tuiste tussen die boekklublede. Dis nie net Tom wat geraak word deur sy aankoms in die dorpie nie, maar ook die mense om hom en saam met Tom borduur hulle verder aan die laslappiekombers wat ons die lewe noem. So met alles saam word die kronkelpad wat Tom gedink het hy op verdwaal uiteindelik die lewenspad wat hy veronderstel is om te loop.



Die reeks is verfilm in die prentjiemooi Merweville, net so anderkant die N1, iewers tussen Laingsburg en Beaufort-Wes, asook in Stellenbosch.

Marcel van Heerden, Christia Visser, Nicole Holm, Paul du Toit, Lee-Ann van Rooi, Arno Marais, Anrich Herbst en Louw Venter vorm die res van die swaargewig-rolverdeling. Die reeks is geskryf deur Louis Pretorius (medeskrywer van Vallei van Sluiers en Die Boland Moorde), terwyl Quentin Krog (Ballade vir ’n Enkeling en Sterlopers) die regie behartig.

Die verlede, hede en toekoms word alles vervleg om aan die reeks ’n unieke vertelstyl te gee. Uiteindelik is Die Boekklub ’n verhaal oor mense se alledaagse bestaan met gelyke dele humor en tragedie.