Logo
Arendsvlei S5 Slim BB
web uni tv guide

Arendsvlei

145Telenovela13

Dié AV-ster laat ook die poppe dans op Tik Tok – Arendsvlei

Nuus
28 Julie 2021
Skaam Reece is ‘n TikTok-sensasie...
BB

Die 19-jarige Kapenaar Reece Chloé Lewis is Arendsvlei se Ezra Langeveldt, die danser wat kykers se oë laat rek. Weg van Arendsvlei se kameras is Reece ‘n professionele danser en ‘n groot TikTok-ster met meer as 300 000 volgelinge met van haar videos wat al meer as ‘n miljoen keer gekyk is.

“Ek is opgelei in hip-hop, modern, tap en jazz en dans reeds vir 12 jaar. Ek is ook ‘n inhoudvervaardiger wat deel is van sosiale media-veldtogte en geniet dit om TikTok-videos te maak,” sê Reece. “Melissa de Vries-Joseph (sy speel Juffrou Sasha), is ‘n groot rolmodel in die danswêreld en sy het my vertel dat Arendsvlei danser soek. Ek het ‘n oudisie gedoen en hier is ons nou!”

Wanneer het jy begin dans?
Ek was sewe jaar oud. Ek het met ballet begin, maar dit was nie opwindend genoeg vir my nie. Ek het toe begin met hip-hop en het nog nie opgehou nie.

In watter produksies was jy al?
Arendsvlei is die eerste produksie waarin ek ook aktrise is, maar ek was al in verskeie produksies by Kunstekaap in Kaapstad. Ek was ook al ‘n paar keer op Expresso Morning Show en Afternoon Express.

Hoe voel jy oor jou TikTok-bekendheid?
Om TikTok-bekend te wees, is baie opwindend, maar dit kan ook uitputtend wees. Dit was nog nooit vir my oor die likes en die followers nie, maar om my talent te deel en pret te hê. Jy kry die kans om nuwe mense te ontmoet en dit gee jou ‘n reuse-kans om die wêreld oor herken te word. Dit kan uitputtend raak wanneer jy belaglike en haatlike kommentaar kry – gelukkig het ek net so vier of vyf van hulle – maar dit is ongelooflik om boodskappe te kry van jong mense wat deur my videos geinspireer en gemotiveer word.

Wat is jou groot drome vir die toekoms?
Ek sal baie graag my studies in opvoedkunde wil voltooi, ‘n dansskool oopmaak en dalk meer as aktrise wil werk. Ek sal baie graag die wêreld vol wil reis en van ander choreograwe wil leer. Ek sal graag ‘n TEFL- (Teaching English as a Foreign Language) kwalifikasie wil kry sodat ek kan skoolhou in ander lande.

Wie is jou gunsteling-dansers?
Dis ‘n moeilike vraag want daar is so baie. My gunstelinge is choreograwe wat my leer dans het en bydra tot my groei – Rudi Smit, Brandon Herbst, Brandon Vraagom. Wanneer dit by internasionale danser kom, is dit Ysabelle Capitulé, Sienna Lalau en Kirsten Dodgen.

Saam met wie sal jy graag wil optree?
As dit by dans kom, sal ek graag saam met ‘n groot ster soos Jennifer Lopez wil optree. Ek sal ook graag by ‘n ateljee oorsee wil aansluit om my uit my gemaksone te kry.

Wat weet Arendsvlei-kykers nie van jou nie?
My moedertaal is Engels en ek kan nie vlot Afrikaans praat nie. Hierdie is my eerste keer wat ek as aktrise werk en eintlik is ek ‘n baie skaam persoon buite sosiale media.