Dewald Wasserfall het ’n Suid-Afrikaanse musiektoekenning (Sama) gewen vir die beste kontemporêre album in Afrikaans vir sy album Ek en jy. Dit was Dewald se eerste Sama-nominasie en dis ook die eerste keer wat hy dié prys losslaan.
Die Samas is gisteraand tydens ’n seremonie in Sun City uitgedeel. Dewald is ook vanjaar vir vier Ghoema-toekennings genomineer: beste kontemporêre album deur ’n manlike kunstenaar, manlike kunstenaar van die jaar, liedjie van die jaar (“So eensaam soos die son”) en beste liedjieskrywer.
“Dis ongelooflik belangrik om jouself te omring met mense wat jou inspireer,” het Dewald voor die toekenningsaand gesê. “Ek respekteer elke persoon wat aan hierdie album gewerk het geweldig baie.”
Twee van die liedjies op Ek en jy, “Gebore om te lewe” en “So eensaam soos die son”, het reeds die nommereen-posisie op verskeie radiostasies se trefferlyste behaal. Aanhangers in Nederland en België kan uitsien na Dewald se besoek aan dié lande in Junie.