Logo
Mooiweer en warm
web uni tv guide

Mooiweer En Warm

144Drama13 VL

Deon en Ira: Vir die tweede keer man en vrou

Nuus
21 Februarie 2023
Lees meer!
Mooiweer en warm

Daar waar Willem is, is daar nie vrede nie. Hy saai onmin, behandel sy vrou soos gemors en verlang terug na sy gloriedae as omroeper. Sy is Nerine, ’n ywerige en flukse kok wat probeer om die pot aan die kook te hou en onder Willem se moerigheid uit te kom. Deon Lotz is Willem en Ira Blanckenberg is Nerine en hulle vertel meer van hulle aweregse karakters in Mooiweer en warm.

Willem is nie juis ’n karakter waarvan mens hou nie. Hoe het jy hom geskep en onder sy vel ingeklim?

Deon: Willem is bombasties, selfgesentreerd, alles draai om hom. Ek ken sulke mense en het hom op hulle gebasseer en hoe hulle hulle families hanteer; daardie man in die huis en alles wat pa sê moet gedoen word. Ek dink in Willem se geval is dit iemand wat homself sien as hierdie groot stem op die radio en wanneer mense hom nie herken nie, herinner hy hulle daaraan. Hy het tog ook ’n klein hartjie, maar diep binne hom is hy ’n swakkeling. Hy verkrummel wanneer dinge nie werk soos hy dink dit moet nie en daarom is Nerine eintlik die sterker een van die twee.

Hoe het jy vir Nerine geskep? Het jy iemand as inspirasie gebruik?

Ira: Nerine was vir my ’n baie interessante karakter. Enige akteur gebruik hulle eie ondervinding, maar dan trek ons inspirasie uit die mense wat ons ken of die mense om ons. Nerine is een van daardie sterk vroue wat wys dat wanneer die lewe moeilik raak, raak jy net sterker. Ek ken sulke vroue en is self so vrou. Ons agtergrond en wortels – kaalvoet oor die berge en so aan – help ons baie daarmee. Die mishandeling wat sy by haar man kry, was vir my moeilik want ek verstaan dit nie aldag nie. Maar weer het ek teruggegaan na iemand wat jy ken en besef dat hulle liefde sterker is of dat hulle dalk bang is om ’n man te verlaat.  

Wat bring ’n groot rolverdeling soos hierdie in ander spelers uit?

Deon: Die kwaliteit spelers wat ons gehad het, bring goeie ensemble-vertolking en goeie werk in almal uit. Hulle bring hulle beste en daarom bring jy jou beste. Dit maak dit makliker om te speel en te werk en nuwe goed te probeer. Dit is ’n wonderlike ervaring en dit maak dit moontlik om iets spesiaal na jou karakter te bring.

Ira: Dit was ’n uitdaging omdat ons nie altyd saam op stel was nie. Natuurlik het ek baie tonele saam met Deon en ook saam met Kim Cloete gehad, maar ons was min almal saam op stel. Dit gesê: wat ’n eer en voorreg om deel van die talentvolle rolverdeling van so ’n groot produksie te wees.

Wat was vir jou die hoogtepunt met die maak van die reeks?

Deon: Die produksie kom al ’n lang pad en het ná die pandemie ’n ander naam en ’n ander produksiehuis gekry. Ek is een van die min wat van die begin deel was. Vir my was ’n hoogtepunt om weer teenoor Ira te speel – sy was my vrou in Griekwastad – want sy is ’n fenominale aktrise en so ’n egte mens. Ook om saam met die regisseurs Zandré Coetzer en Ephraim Gordon te werk. Hulle weet wat hulle wil hê en dit maak dit maklik vir ons spelers.

Ira: Sonder twyfel die span saam met wie ek gewerk het. Nie net voor die kameras nie, maar veral daaragter. Van die regisseurs tot elke mens wat elke dag minstens twaalf ure per dag op stel was. Hulle was ongelooflik, altyd geduldig en vriendelik. Die meeste van my tonele was saam met die ongelooflike Deon Lotz en een van my heldinne, Kim Cloete. Wonderlike aktrise! Ek kon net ’n spons wees en binne my karakter speel omdat ek almal om my soveel vertrou het.

Wat kan kykers van die res van die reeks verwag?

Deon: Soveel gebeur. Daar is soveel storielyne binne die storielyne dat dit kykers vasgenael gaan hou. Dan is daar die spanningslyn met die wete dat iets gaan gebeur en ook kykers wat kan vereenselwig met karakters op ’n klein dorpie. Daar kom nog heelwat drama, lag en trane. Moet beslis nie ophou kyk nie.

Hoe jy jou dagboek vir die res van die jaar?

Deon: Ek is tans in Johannesburg waar ek aan Binnelanders werk, het ook geskiet aan ’n nuwe komediereeks vir kykNET asook die nuwe reeks van Reyka. Daar is ’n radiodrama vir RSG en twee teaterstukke vir KKNK – Klinkklaar saam met Susanne Beyers en Marinda Engelbrecht en Geen teks saam met Geon Nel – wat later ook Suidoosterfees toe gaan. Ek hoop om later vanjaar die Wêreldbekerrugbytoernooi in Frankryk by te woon en tussendeur werk ons aan befondsing vir twee flieks wat hopelik saam met Koos Roets gemaak gaan word.

Ira: Ek het my eie dramaskool in Somerset-Wes, Stageright, en om die jeug op te lei – van laerskool tot matriek – gee my soveel plesier en ek dink soms ek leer meer by hulle as wat ek hulle kan leer. Ek het ’n rol in ’n nuwe reeks gekry wat in Maart begin verfilm waaroor ek opgewonde is. As vryskut wag jy van produksie tot produksie om te sien wat volgende kom. Ek sien uit na die feesjaar en al die nuwe produksies op die planke.

Skakel elke Dinsdag om 20:00 in vir #MooiweerEnWarm!