Logo
Kyk Wie Praat Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Kyk Wie Praat

144KompetisiePG

De Klerk en die kinders – Kyk wie praat

Nuus
14 Oktober 2021
De Klerk Oelofse en ’n groep kinders het die afgelope tyd kykers laat skater in Kyk wie praat?, die program waar volwassenes moet kyk of hulle weet wat in kinders se koppe aangaan.
Kyk wie praat

Wat het jy die meeste van Kyk wie praat? geniet?
Die onderhoude met die kinders wat my gunsteling deel. Hoewel daar 63 kinders in die program gebruik word, het ons honderde kinders genooi vir onderhoude. Dit was elke dag ’n hele dag se lag en elke kind se unieke manier waarop hy/sy na die wêreld kyk, was  wonderlik om te ervaar. Ek het lief geraak vir elke een van daai klein mensies.

Hoekom dink jy is die program so gewild by kykers?
Ek dink daar is verskeie faktore wat ’n rol speel. Die tydsberekening van die program kon nie beter wees nie. Ons leef in baie vreemde (om die minste te sê) tye en daarom is dit so wonderlik om vir ’n uur net te kan vergeet van al die uitdagings daar buite en net as ’n gesin saam te kan lag.

’n Mens kan ook nie verkeerd gaan met kinderlike eerlikheid nie. Ek dink die program laat kykers hunker na ’n tyd waar ons gedagtes en opinies so suiwer en onskuldig was. Dit help natuurlik dat hierdie opinies ongelooflik snaaks is.

Jy was al in verskeie produksies op die verhoog betrokke wat op kinders gemik is onder meer Vlooi en Babbelagtig. Wat geniet jy daaraan om kinders te vermaak?
Ek dink mense onderskat kindervermaak. Uit my ervaring is kinders jou eerlikste gehoor wat ook beteken hulle val nie sommer vir ’n ding as jy as akteur dit nie te volle glo nie. Kinders leef in die oomblik, so jy moet die waarheid van elke oomblik speel anders sien hulle deur jou. Ek geniet dus die uitdaging om kinders te vermaak. As jy dit regkry, beloon hulle jou sonder skroom met hulle eerlike reaksies.

Wie is moeiliker om te vermaak: kinders of volwassenes?
Soos jy kan aflei uit my antwoord hier bo, dink ek kinders. Jy hoe kinders nie te beïndruk met die skaap waarop jy iets aanbied of die spelers op die verhoog nie, hule wil net op ’n reis geneem word waarin almal op die verhoog ook glo.

Wat was jou persoonlike hoogtepunte in Kyk wie praat?
Daar is soveel! Dis moeilik om te kies. Ek het verlede week saam met die kreatiewe span (Jaco Notnagel, El Wolf en Mandelise van Loggerenberg) ’n drankie gaan drink om die reeks te vier. Ons gesels toe hoeka oor ons hoogtepunte en elkeen onthou iets wat ’n ander al vergeet het. Mens se hoogtepunte verander byna daagliks. As ek moet kies, is dit klein Phillip Basson se antwoord op “sal jy vir ewig wil lewe?” in episode 13. Buiten dat dit die wonderlikste antwoord is, dien dit ook vir my as ’n stawende bewys dat hierdie klein mensies net so diep oor die groot vrae in die lewe dink as die groot vrae waaroor grootmense kwel.

Was jy self ’n pittige kind?
Wel, ek weet ek was ’n besig kind. Ek verlang baie na die vreeslose aanslap wat klein De Klerk gehad het en ek vermoed Kyk wie praat en al die kindervermaak wat ek aanpak is pogings om hom te herroep.

Jy is ook te sien in Nêrens, Noord-Kaap en is eersdaags weer te sien in die finale seisoen van Hotel. Watter hoed is vir jou die maklikste om te dra: drama, komedie of aanbieding?
Ek het nie eintlik ’n voorkeur nie. Dis soos as mense my vra of ek teater of televisie verkies. Vir my het elke een sy eie unieke uitdagings en geen een is ooit regtig vir my maklik nie.

Hoe lyk jou planne vir die res van die jaar?
Ek, Cintaine Schutte en Dean Balie is besig om te slyp aan ’n huisteater-produksie met die naam Mutton Hour. Ek dink dit gaan ’n rukkie wees voor ons kan terugkeer na teater soos ons hom ken, so tot dan wil ons kyk of ons so ’n stukkie teater na jou woonkamer of grasperk kan bring.

Wat is die lewensleuse waarby jy die afgelope jaar geleef het?
Ek het onlangs Eitemal se vertaling van Midsomernagdroom gelees en op ’n stadium sê Tolleman, die sameroeper van die toneelgeselskap in die stuk, vir die res: “Doen julle bes; wees woordperfek; adieu”. Uiteraard is dit direk van toepassing op my werk, maar ek vermoed mens kan die lewe ook so aanpak.