Logo
Kwarantyn 1600x160 Slim Homepage (2)

Dag 44: Errieda maak Suid-Afrika trots – Kwarantyn

Nuus
23 Julie 2020
Ons vat vyf met Errieda du Toit oor trots Suid-Afrikaanse disse.
Errieda Kwarantyn

Foto: Henk Hattingh


Wanneer dit by trots Suid-Afrikaans kom, kan jy vir Errieda du Toit niks vertel nie. Moenie ook nie vir een oomblik dink dat die potte ophou prut in dié Suid-Afrikaanse koskoninging se kombuis nie, veral nie tydens inperking nie. 

LEES OOK: ERRIEDA WYS ONS HOE

Sy vertel dat hoewel sy soos almal anders ook piesangbrode gebak het dat die huismense hokaai roep, sy inperking ook gebruik het as ’n tydperk om gesinstradisie te vervolmaak “om juis op te maak vir die familie en vriende wat soms nie meer kon onthaal nie”.

Haar watertand-lekker inperking-spyskaart sluit onder meer Sondaghoender “met al die trimmings” in, braai-aartappels, pampoenkoekies, blomkool met kaassous sowel as gestoofde kwepers. En nie een Sondag gaan verby in die Du Toit-huishouding sonder ’n heerlike soet gebakte poeding nie. Daarom is Errieda net die persoon om te vra hoe Suid-Afrika se trots proe – hier is haar top-5 trots-Suid-Afrikaanse kosse: 

  1. Viskoekies:
    “Ek is gek oor viskoekies soos my ma dit gemaak het – met vis uit die blik,” vertel sy. “Dit maak jy sommer met spensbestanddele. En bedien dit met kapokaartappels, en maak seker jy sit die bottel tamatiesous op die tafel.” 
     
  2. Karringmelkbeskuit:
    Volgens haar is dit ’n daaglikse oggendritueel in haar en manlief Ian du Toit se huis. “Om beskuit in die koffie te druk is tog so eg Suid-Afrikaans – en dis goed om in hierdie tye jou dag te begin met iets so eenvoudig maar so eg.” 
     
  3. Bredie:
    “Enige bredie, afhangende watter seisoen-groente beskikbaar is.” Errieda vertel dat sy deesdae sommer groente in bokse direk van plase af bestel – ideaal vir inperking. Volgens haar moet jy genoeg bredie vir die volgende oggend maak, want hoe langer dit staan, hoe lekkerder raak dit. “Die geure wat deur die huis getrek het toe ek kweperbredie gemaak het, het my onmiddellik gerus laat voel,” sê sy “En die seisoen se eerste waterblommetjiebredie laat mens voel dat alles okei gaan wees.”
     
  4. Kerriemaalvleis:
    “Van daai heerlike basaarkerrie wat jy met rys kan eet of ’n vetkoek mee kan opstop.”
     
  5. Malvapoeding met muskadelsous:
    “Want alles is beter met malvapoeding. Soet, stroperig... En met bestanddele wat mens in die spens het.”

En die een Suid-Afrikaanse dis wat, volgens Errieda, die kollig verdien is frikkadelle met kerriepiesangsous. “Elke koskultuur wat vleis eet het ’n meatball van ’n aard,” vertel sy.

Volgens haar is ’n bykomende piesangkerriesous nie net eg aan Suid-Afrika nie, maar ook ’n goeie alternatief vir as jy nie weet wat om met al die piesangs te maak nie.

“Die kleur van die sous is ook net so heerlik sonnig. En dan het mens iets anders om met die piesang te maak as piesangbrood bak!” Sy vertel dat dié gereg bedien kan word met blatjang, klapper en ’n heerlike tamatieslaai, “net soos jy bobotie sou voorsit”.

Wat het jy gedink van die twee families se trots-Suid-Afrikaanse disse? Gesels saam op FacebookInstagram en Twitter met die hutsmerke #Kwarantyn, #SpanLeRoux en #SpanScheepers.

Onthou om te stem vir jou gunsteling-familielid van Woensdag, 21:00 tot Maandag, 22:00 op jou rekenaar, jou selfoon, per SMS of op die DStv-app. Elke platform bied vir jou 100 unieke stemme.

Elke Maandag, Dinsdag, Donderdag, Vrydag en Saterdag word die daaglikse hoogtepunte op kykNET&kie, DStv-kanaal 145, uitgesaai. Elke Woensdag is dit die weeklikse hoogtepunt-episode om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144 – moet dit nie misloop nie.