Logo
Kwarantyn 1600x160 Slim Homepage (2)

Dag 26: Nooit te oud vir wegkruipertjie nie - Kwarantyn

Nuus
05 Julie 2020
Die families het ons vandag terug geneem in tyd met die tuinspeletjies.
Karaoke cover (2)

Een van die wonderlike dinge van in ons pragtige land woon, is ons wintermiddae. Dit is miskien nie so aangenaam soos die somer nie, maar die son slaag steeds daarin om net genoeg hitte te voorsien om 'n lui dag in die buite moontlik te maak. 

Albei die gesinne het hulle Sondag-middag in die tuin deurgebring en speletjies gespeel wat ons herinner het aan ons kinderjare. 

Nadat hulle ons op 'n reis in die verlede in gevat het, het ons gaan kyk na al die ander speletjies wat ons as kinders gespeel het. 

Kyk hoeveel van hierdie speletjies julle nog onthou, en vertel ons watter julle gespeel het, of nogsteeds met julle klein mensies speel. 

Vroteier

Al die deelnemers sit met gekruisde bene en hulle hande agter hulle rug in 'n sirkel op die grond na mekaar en kyk. Een deelnemer word as hardloper gekies en begin die spel deur om die sirkel te hardloop met 'n sakdoek in hulle hande. Die hardloper kies dan een van die spelers wat sit en sit die sakdoek in sy hande. Die speler wat gekies is moet dan die leier vang voordat hy om die sirkel gehardloop het en op sy plek gaan sit het. 

Aan-Aan

Die deelnemer wat "aan" is moet sy maats rondjaag en probeer om aan een van hulle te vat, en sodoende as "aan" te merk. 

Adam en Eva

Twee of meer spelers kan saam speel met hierdie lekker soek speletjie, en dit kan buite of selfs binne die swembad gespeel word. Een speler word as "Adam" gekies en moet na die ander soek met sy oë toe. Die speler wat gekies is as "Adam" roep "Eva!", waarop die ander spelers moet reageer "Adam". 

Bok, bok, staan styf

Die deelnemers tree in 'n ry agter mekaar aan. Die voorste deelnemer buk vooroor en plaas sy hande op die grond voor hom. Hy word dan die eerste bok wat styf staan. Die deelnemer agter hom kom dan aangehardloop, druk met hul hande op sy maatjie se rug en spring wydsbeen bo-oor. Die volgende deelnemer spring dan oor beide ensovoorts. 

Dokter knopie

Hierdie spel benodig tenminste 5 maatjies om saam te speel. Eerstens word die dokter aangewys en dadelik gevra om weg te kyk. Die res van die maatjies staan in 'n kring en hou hande vas. Sonder om hulle hande te los moet hulle dan op mekaar en deur mekaar klim met die doel om hulself so the knoop en te koek, dat Dokter knopie dit moeilik sal vind om hulle uitmekaar te kan kry. As die kinders voel hulle is genoeg geknoop roep hulle almal uit: "Dokter knopie!". Dit is dan die Dr se werk om almal te ontknoop sonder om hulle hande los te maak van mekaar af. 

Krappe en krewe

Die groep deelnemers word in twee ewe groot spanne verdeel, die krappe en die krewe. 'n Spanleier, gewoonlik 'n volwasse, roep dan of kr-r-r-ewe óf kr-r-r-appe uit, wie dan gejaag of gevang moet word deur die ander groep. Al die krappe wat gevang word, verander na krewe (en andersom), totdat al die teenstaanders gevang is. 

Telefoontjie

Die kinders wat saam speel begin in 'n kring met die kring leier wat in die middel van die sirkel sit. Die kring leier moet 'n kort sin uitdink en aan die eerste persoon in die kring fluister. Dan fluister die eerste persoon die sin aan die persoon langs hom, en so begin die telefoontjie. Wat jy hoor moet jy presies so oordra aan die persoon wat langs jou sit. Die laaste persoon in die sirkel moet dan die sin wat hy/sy gehoor het hardop sê. Die sin wat hardop gesê word is amper nooit dieselfde as die oorsponklike sin nie. 

Wolf, wolf, hoe laat is dit?

Hierdie speletjie begin met 'n groep kinders wat in 'n ry agter mekaar staan. Die persoon wat voor staan is aangewys as die wolf. Die wolf bepaal dan die roete wat geloop word terwyl die res van die groep (die skape) agterna loop. Terwyl hulle loop sal die skape uitroep: "Wolf, wolf, hoe laat is dit?" waarop die wolf dan enige tyd kan uitroep. Die wolf kan dan enige tyd besluit om "Etenstyd!" uit te roep, waarna die skape moet probeer om nie gevang te word nie. Die persoon wat gevang word is dan as die nuwe wolf aangewys. 

Kwarantyn sal vanaf Woensdag 10 Junie om 21:00 elke dag en heeldag op kykNET se nuutste opwipkanaal, DStv-kanaal 149, uitgesaai word.

Maandae tot Saterdae sal daar daagliks om 17:00 ’n 24 minuut-lange hoogtepunteprogram (behalwe Woensdae is dit ’n 48 minuut-lange program om 20:00) op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word. 

Gesels saam op FacebookInstagram en Twitter met die hutsmerke, #Kwarantyn, #SpanLeRoux en #SpanScheepers.