Logo

Casper is deel van die 10de kykNET Fiëstas

Nuus
03 Februarie 2020
Oor minder as ’n week is dit weer tyd vir die jaarlikse kykNET Fiëstas, waartydens die beste werke van die afgelope feesjaar vereer word.
1

Oor minder as ’n week is dit weer tyd vir die jaarlikse kykNET Fiëstas, waartydens die beste werke van die afgelope feesjaar vereer word. Kykers kan op Sondag 9 Februarie om 20:00 op kykNET DStv-kanaal 144 inskakel om te sien wie met die gesogte Fiëstas-toekennings wegstap.

Vanjaar vier ons die tiende bestaansjaar van die kykNET Fiëstas. Dié geleentheid is ’n inisiatief om die beste werk van die afgelope feesjaar te vereer. Debuutproduksies op die land se ses grootste vervaardigende Afrikaanse kunstefeeste – US Woordfees, KKNK, Suidoosterfees, Innibos, Vrystaat Kunstefees en Aardklop – kom in aanmerking vir dié gesogte pryse.

Die seremoniemeester van die 10de kykNET Fiëstas is die veelsydige akteur en komediant, Casper de Vries, wat sonder twyfel die gehoor met sy skerp humorsin gaan vermaak. Daar is ook ’n paar verrassings wat wag op die gehoor en kykers.

Casper word bygestaan deur die gas-aanbieders, Dean John Smith, June van Merch en Success Lekabe. Die gaskunstenaars sluit in van Suid-Afrika se grootste ikone – Amanda Strydom, Emma van Heyn, Germandt Geldenhuys, Ilse Klink en Nataniël. Kyk ook uit vir optredes deur die opera-sanger, Nombulelo Yende, Eet kreef! (Laudo Liebenberg, Frank Freeman, Mikhaela Kruger, Schalk van der Merwe en Sheldon Yoko), komediant Ian Young, die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes, die Cape Town Opera Chorus en die New World Dance Theatre.

Die kykNET Fiëstas vereer ook jaarliks verskeie legendes vir hul lewenslange bydrae tot die teater-en vermaaklikheidsbedryf. Dis ’n groot voorreg om vanjaar die volgende mense te vereer:

  • Elize Cawood: legende vir haar bydrae tot teater, film en televisie

  • Virginia Davids: legende vir haar bydrae tot opera en musiek

  • Janice Honeyman: legende vir haar bydrae tot die kunste

  • Pieter-Dirk Uys: legende vir sy bydrae tot die kunste en Suid-Afrika

Vanjaar vind die kykNET Fiëstas by die Kunstekaap-teater in Kaapstad plaas en word regstreeks op kykNET DStv-kanaal 144 uitgesaai.