Logo

Byl se baas is bedrywig

Nuus
05 September 2016
Ná ’n paar jaar in die buiteland het Tertius Meintjes besluit sy hart lê in Suid-Afrika. Ons gesels met dié Die Byl-akteur in die jongste uitgawe van Digityd.
Die Byl Digityd Tertius
Ná ’n paar jaar in die buiteland het Tertius Meintjes besluit sy hart lê in Suid-Afrika. Ons gesels met dié Die Byl-akteur in die jongste uitgawe van Digityd.

Jy was in reekse soos Plek van die Vleiseters en Isidingo te sien, maar dit voel asof jy vir ’n ruk lank van TV verdwyn het. Nou is jy weer te sien in Die Byl.

Ek het beslis nie stil gesit nie. Ek het oorsee gewoon, maar vandat ek terug is, het ek aanhoudend gewerk. Daar was verskeie uitstallings van my fotografie, ek het dokumentêre programme gemaak en ook bemarkingsvideo’s vir reekse en rolprente. Ek het ook ’n paar ondersteunende rolle gespeel in reekse soos Vloeksteen.

In Die Byl speel ek die rol van generaal Van As, Byl se baas. Hy is knorrig, het sy eie persoonlike probleme en het verskeie uitdagings by die werk. Dis ’n lekker rol. Ek het dit baie geniet om saam met die regisseur Regardt van den Bergh te werk en ook die ander spelers soos Waldimar Schultz, Lika Berning en Milan Murray. Om ’n speurder te speel, was ook iets nuuts vir my.

Die Byl neem kykers deur sielkundige doolhof

Waarmee hou jy jouself besig?

Dit wissel. In my bedryf moet jy die werk doen wat vir jou op die tafel gesit word. Dit gaan deur fases. Dan is dit werk voor die kamera, dan werk agter die kamera.

Waar het jou liefde vir fotografie vandaan gekom?


Ek het ’n bokskamera en 8mm-filmkamera van my pa ontdek toe ek jonk was. My pa het op ’n dag die motorhuis reggepak en wou ’n boek oor fotografie verbrand. Ek het dit gegryp en op 12-jarige ouderdom my eie donkerkamer gebou. Verkies ek film of digitaal? Meeste van die werk deesdae is digitaal omdat dit vinniger en goedkoper as film is. Dit het beslis sy voordele, maar vir my is film nog steeds die fynproewer se keuse.

Wat sou jy sê is jou grootste suksesse as fotograaf?

Die eerste deurbraak wat ek gemaak het. Ek was in Berlyn, Duitsland, vir werk en het in die oggende werk toe gestap. Ek het altyd my kamera by my gehad en mense daar het my foto’s gesien. Terug in Suid-Afrika het hulle my genooi om ’n uitstalling te kom hou. Dit het weer gelei tot werk in Amerika, Australië en die res van Europa en uitstallings in Suid-Afrika.

Ek is ook trots op die ateljeefoto’s wat ek in Los Angeles geneem het en reisfoto’s deur die jare. Ek het wonderlike mense al deur fotografie ontmoet. Mense by galerye en publikasies, vervaardigers, skrywers, kunstenaars.

Hoekom het jy tien jaar gelede teruggekom na Suid-Afrika?


Daar was verskeie redes. My seun, Werner – hy is nou 30 en is ’n grafiese ontwerper wat vir ’n geleentheidsmaatskappy (events company) werk – het my nodig gehad en ek het Suid-Afrika gemis. Ek is nie ’n Europeër nie. Ek kon glad nie cope met die winters nie. My tyd daar het sy tyd geloop. Ek wou terugkom om Suid-Afrikaanse stories te vertel.

Wat het Suid-Afrika wat lande in Europa nie het nie?


Sonskyn vir ’n begin. Daar is ’n natuurskoon soos nêrens anders in die wêreld nie. Die natuurskoon verander van streek na streek. Daar is ’n kontras in die mense en ek hou daarvan. Suid-Afrikaners is ook baie meer oop as Europeërs. Ons het ’n vryheid in Suid-Afrika wat ons nie waardeer nie. Ander lande het reëls en regulasies vir álles. Die wildheid hier het sy uitdagings, maar die vryheid maak op daarvoor.

Hierdie artikel is ’n uittreksel uit kykNET se digitale tydskrif, Digityd. Lees die volledige artikel hier.

Kyk Die Byl, Dinsdae om 20:00 op kykNET.