Logo

Boere-ubuntu dalk die antwoord?

Nuus
25 Maart 2015
Sosiale kapitaal het eers redelik onlangs ‘n gonswoord geword. Soos dikwels die geval is, beskryf dié modewoord iets wat al so lank soos die mensdom self bestaan, skryf Tim du Plessis.
Screen Shot 2014-11-17 at 7.53.19 PM

Deur TIM DU PLESSIS

Ek kom onlangs af op dié stukkie wysheid van prof. Niek Grové, registrateur van die Universiteit van Pretoria, oor wat met die Afrikaanse gemeenskap gebeur het ná 1994. Hy sê die gemeenskap is nou die toonbeeld van wat genoem kan word ‘n “personalised society”.

“Ons gaan oor in hiperindividualisme. Mense leef na binne. Hulle leef vir hulleself. Hoe meer individualisties ons word, hoe swakker word die bande met familie, vriende, bure, klubs, kerkgemeenskap en groepe. Op dié wyse word sosiale kapitaal vernietig. Sosiale kapitaal wat vernietig word, vernietig ook optisme,” aldus prof Niek.

Dis sowat ses jaar gelede geskryf. Daar is waarnemers wat vir jou sal sê die proses het sedertdien versnel. Ander dink weer nie so nie en glo veral die Afrikaanse gemeenskap is besig om hegter te raak.

Sosiale kapitaal het eers redelik onlangs ‘n gonswoord geword. Soos dikwels die geval is, beskryf dié modewoord iets wat al so lank soos die mensdom self bestaan.

Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling, ‘n wêreldwye nie-regeringsorganisasie wat in Parys, Frankryk, gesetel is, definieer sosiale kapitaal as “netwerke, tesame met gedeelde norme, waardes en verstandhoudings wat samewerking binne of tussen groepe fasiliteer”.

Die Amerikaanse skrywer Lyda Hanifan was een van die heel eerste geleerdes wat daaroor geskryf het. Hy bestempel sosiale kapitaal as tasbare bates in die alledaagse lewe: welwillendheid, deelgenootskap, simpatie en die sosiale interaksie tussen die mense en familie wat ‘n sosiale eenheid vorm.

Die vernietiging van sosiale kapitaal waaroor prof. Niek dit gehad het, is nie uniek aan Suid-Afrika nie. Dit kom skynbaar veral in Amerika voor. En bes moontlik in talle ander lande ook.

Die bou en/of vernietiging van sosiale kapitaal in Suid-Afrika is ‘n unieke proses gegewe ons verlede. Toe die Afrikaners nog grootliks ‘n landelike groep was, was dit bes moontlik hoog. Namate hulle verstedelik het, het die netwerke binne en tussen families verskraal.

Baie swart Suid-Afrikaners wat ná 1994 uit die townships getrek het, sê in die “wit” buurte waar hulle gaan woon het, mis hulle die gemeenskapgevoel (lees sosiale kapitaal) wat hulle in townships geken het. Soveel dat sommige van hulle teruggetrek het township toe. Ander weer het naweke in die towship gaan deurbring.

Misdaad, spesifiek die gewelddadige aard daarvan, het baie sosiale kapitaal in Suid-Afrika vernietig. Mure rondom woonerwe word net hoër en hoër. In talle woonbuurte is ‘n huis sonder ‘n elektriese heining die uitsondering.

Besoekers word nie meer by die voorhekkie ontvang soos in die ou dae nie. As jou kuiermense se motors nie almal in die erf inpas nie, word ‘n motorwag gehuur om die motors in die straat te bewaak. Bure bly vir jare weerskante van die hoë mure sonder dat hulle ‘n woord met mekaar praat. Of mekaar se name ken.

Die bou van sosiale kapitaal in Suid-Afrika het unieke uitdagings: wie is die vennote saam met wie ek moet bou? Is dit hoofsaaklik my eie taal –en kultuurgroep? Of moet ek ook sosiale kapitaal buite my eie groep gaan bou?

Wat die Afrikaanse gemeenskap betref, het die bekende toekomskundige Clem Sunter in 2010 geskryf: “Nes die Jode in Amerika, die Pakistanis in Londen en die Chinese in Australië, het die Afrikaners ‘n kollektiewe bewussyn wat die geestelike grondslag is van enige effektiewe kommersiële netwerk. Taal, godsdiens, kultuur en ‘n gedeelde lewensuitkyk bind hulle saam in spanne wat byna onoorwinbaar is wanneer hulle uitgedaag word deur mededingers wat nie so saamgebonde is nie”.

Jare gelede, toe die digter en skrywer Antjie Krog by ‘n boekbekendstelling oor haar familie gepraat het, het sy gesê: “Ek is wat ek is omdat julle is wat julle is en omdat ons van mekaar is”. ‘n Stukkie Boere-ubuntu, as jy wil.

Suid-Afrikaners is op hul beste wanneer hulle eensgesind is. En op hul slegste wanneer hulle verdeeld is. Dit kan nie kwaad doen as ons ‘n bietjie harder werk aan sosiale kapitaal nie.