Logo

Boer Soek ’n Vrou: Vriende, familie, ontmoet vir . . .

Nuus
09 Desember 2016
Boer Soek ’n Vrou-kykers is hierdie week weggevoer na ’n prettige aand om die braaivleisvuur, toe ons boere hul dames aan vriende en familie voorgestel het.
BSV 9 Ep 8 Arno 1

Boer Soek ’n Vrou-kykers is hierdie week weggevoer na ’n prettige aand om die braaivleisvuur, toe ons boere hul dames aan vriende en familie voorgestel het.

Maar ’n mens moet wegtrek in eerste rat, en ’n uitstappie op die rug van ’n motorfiets, bergfiets en perd help om die boere en vroue uit die wegspringblok te kry.

Johannes nooi vir Marga om saam met hom op sy ysterperd te klim en ’n draai op die plaas te gaan ry – ook ’n manier om stoom af te blaas, aangesien die twee die vorige dag ietwat vasgesit het. “No hard feelings,” sê die boer.

Later word daar aan Marga en Danielle se skons gesmul, voor die drie deur die sitrusboorde gaan stap.

Dis vir hom belangrik dat die vrou in sy lewe kan sien waar sy geluk vandaan kom, meen Johannes. Hy hoop sy sal hou van die feit dat hy versot is op sy beroep, al doen sy haar “eie ding”.

By die familiebraai sê Johannes se pa, Daniel, beide is “mooi, spontane meisies”.

Marga sê: “Ek hou baie van wat ek gesien het vanaand”.

Die boer klink egter nie so seker van sy saak nie. Hy het dinge gesien “wat ek nie wou gesien het nie”, en daar is dinge “wat ek nie gesien het nie wat ek graag wou gesien het.”

Hy sê verder: “Die regte keuse is nog steeds daar om te maak. Ek moet nog net besluit of ek dapper genoeg gaan wees om dit te maak.”

Kyk die video hier.

34 bsv 9 ep 8 johannes 1

34 bsv 9 ep 8 johannes 2

34 bsv 9 ep 8 johannes 3



By Arno word daar eers lekker ontbyt gemaak voor hy vir hulle wys hoe goed hy agter die stuurwiel van ’n reuse-masjien vaar.

Hulle voel soos goeie vriende wat saamkuier, sê Jacobu – en, ja, sy weet dis nie “Boer Soek ’n Vriendskap” nie, maar vriendskap is tog ’n goeie basis.

Arno kán masjiene ry, sê Jenny, en Jacobu is ewe beïndruk.

“Jacobu het haarself gate uit geniet op die excavator,” sê Arno. “Sy was nie baie lus om op te hou nie.”

Hy dink beide vroue sal “sonder moeite” kan aanpas. Die vraag is nou net hoe goed hulle by hóm gaan pas.

Hy is vanaand omring deur “sy tipe mense”, sê Arno by die braai, en sy ideale pasmaat gaan ook by hulle moet pas.

Die boer se suster, Anke, meen hy het ’n moeilike keuse om te maak, maar sy dink tog daar is een vrou wat beter by Arno pas.

“Jy moet wíl inpas,” sê Arno se ma, Christelle.

Hy was onseker voor vanaand, sê die boer, en wat hy by sy vriende gehoor het, het beslis sy keuse beïnvloed.

Kyk die video hier.

34 bsv 9 ep 8 arno 1

34 bsv 9 ep 8 arno 2

34 bsv 9 ep 8 arno 3



Chantelle en Elizbé bederf vir Hennie met ontbyt voor die kaggelvuur. “Dis lekker dat hulle my ook bederf en bietjie spesiaal laat voel,” sê die boer.

Later spring die drie elkeen op ’n perd se rug, en Hennie sê: “Knyp net en bly op!”

Wanneer Elizbé se perd bokspring, beïndruk sy die boer deur bo te bly. “Ek moet sê, hulle sit ’n perd vas!” sê Hennie.

Dan kies hulle die pad na Willowmore, om voor te berei vir ’n braai by Hennie se gastehuis saam met sy naastes.

“Moenie die waarheid praat nie,” sê Hennie vir sy gaste wanneer hy die dames aan hulle voorstel.

“Almal sê vanaand my moeilikheid is geboek,” sê die boer.

Sy broer, Dirk, dink Elizbé gaan pas (omdat sy die omgewing ken), terwyl sy pa, Kobus, dink Chantelle ’n beter maat vir hom sal wees.

“Ek soek net my katte!” roep Hennie na die dames. “Moenie op my skree nie!” kap Chantelle terug. “Jy moet dit gewoond raak!” spot die boer.

Kyk die video hier.

34 bsv 9 ep 8 hennie 1

34 bsv 9 ep 8 hennie 2

34 bsv 9 ep 8 hennie 3



By Rob is dit ’n beeldskone dag in Knysna, en die boer besluit om die dames se vaardighede op ’n bergfiets te toets.

Op ’n fiets leer ’n mens vinnig iets van iemand se persoonlikheid, sê Rob. “As jy slegte nukke het, dan kom dit sommer dadelik op ’n fiets uit.”

Hy meen die dames het dié toets geslaag. “Daar het niks sleg uitgekom nie.”

Niks of niemand kan vir Rob aanjaag nie, sê Elizna by die braai. “Hy doen dinge op sy manier, en hy is net rustig.”

Sy hou báie van beide die dames aan Rob se sy, sê die boer se vriendin, Claudia. Rob se vriend Oubaas sê Elizna is sy gunsteling, seker omdat sy ook Afrikaans is. Nog ’n vriendin, Claire, dink weer Maureen en Rob sal beter pas.

Kyk die video hier.

34 bsv 9 ep 8 rob 1

34 bsv 9 ep 8 rob 2

34 bsv 9 ep 8 rob 3



Op Leon-Fritz se plaas is almal vroeg uit die vere en geniet ontbyt in die buitelug.

Sy geniet dit noudat hulle net twee vroue op die plaas is, sê Chanté, omdat dit nie voel die twee hoef vir aandag te kompeteer nie. Marna meen dis makliker vir haar om ’n ander kant van haarself vir die boer te wys.

Leon-Fritz neem die dames saam om koeie en kalwers te weeg. “Klim jy op – ons wil sien wat weeg hierdie bul!” spot Marna.

“Dit wat sy vriende sê gaan tog vir hom belangrik wees,” sê Chanté, maar dit sal nie noodwendig sy besluit bepaal nie.

Leon-Fritz se vriend Lukas sê die dames wat dié boer gekies het is “juwele”.

Marisa, sy ma, sê sy kan haar kind gewoonlik “lees”, maar het geen idee wie hy gaan kies nie.

Kyk die video hier.

34 bsv 9 ep 8 leonfritz 1

34 bsv 9 ep 8 leonfritz 2



Volg saam met ons die boere in hul soeke na liefde op die kassie, ons webblad en sosiale media!

Boer Soek ’n Vrou is Donderdae om 20:30 op die kassie.


Herhalings word Vrydae om 13:30, Sondae om 10:00 en 21:30, Maandae om 10:30, Woensdae om 11:00 en Donderdae om 09:30 uitgesaai.