Logo
CW Slim BB BSV S15 Redelivery
web uni tv guide

Boer Soek 'n Vrou

144Realiteit13 L

“Boer soek ’n vrou” vier vyftien jaar van liefde

Nuus
08 Desember 2022
Trek jou veldskoene aan en kies in die nuwe jaar saam met kykNET koers na plase regoor Suid-Afrika vir soektogte na ware liefde.
BSV Launch Presser Article Image

En wanneer Boer soek ’n vrou op Donderdag, 19 Januarie 2023 met Marciel Hopkins as aanbieder begin, sal dit die vyftiende “oes” van dié gewilde maatsoekreeks wees, wat sedert 2007 ’n móét-kyk afspraak op die Suid-Afrikaanse televisiekalender geword het.

Om die 15 jaar van Boer soek ’n vrou te vier, saai kykNET op Sondag, 15 Januarie 2023 ’n spesiale episode van Bravo! uit, waar Boer soek ’n vrou -aanbieders van oor die jare,  hulle staaltjies en herinneringe met mekaar deel. Buiten Marciel, wat vir die derde keer boere gaan help liefde vind, is die reeks ook deur Leah van Niekerk, Minki van der Westhuizen, Nadia Beukes, Angelique Gerber en Elma Postma aangebied.

Soos voorheen sal Boer soek ’n vrou, grootliks fokus op die vyf boere wat die meeste inskrywings ontvang het en kykers sal hulle liefdesreis op Donderdae om 20:00 op kykNET volg.

Die ouderdomme van 2023 se boere wissel tussen 26 en 50, en hulle kom van ses provinsies. Daar is ook weer een vroulike boer onder die top-10-boere.

1. Cherié (34) van Herbertsdale in die Wes-Kaap 

Cherié het ‘n gemengde- en kleinveeboerdery. Haar belangstellings is Jesus, diere, die natuur, aktief wees en mense. In daardie volgorde, sê sy. 

2. David (31) van Augrabies in die Noord-Kaap

Dié boer, wat 2 m in sy sokkies staan, boer met tafeldruiwe en sitrus.  David hou van gholf speel en om sosiaal saam met sy vriende te verkeer. Daarom moet sy ideale pasmaat ook ‘n bok vir sports moet wees en van kuiers hou.

3. Francois (50) van Oudtshoorn in die Wes-Kaap 

Francois het 'n gemengde- en volstruisboerdery. Hy versamel skaalmodelle en hou van toer en kampeer – natuurlik met ‘n wyntjie en ‘n karoo-skaaptjoppie byderhand. 

4. Hennie (35) van Moorreesburg in die Wes-Kaap 

Hennie, wie ‘n M.Sc.-graad in finansiële bestuur agter sy naam het, boer met graan en merinoskape. Geloof, kommunikasie en eerlikheid in ‘n verhouding is vir hom belangrik.

5. Kotie (43) van Harrismith in die Vrystaat 

Kotie het 'n saai- en beesboerdery en hy soek ‘n vrou wat liefde uitstraal en ‘n lus vir die lewe het. Behalwe boer, geniet hy ook jag, fietsry en visvang.   

6. Louis B (26) van Ottosdal in Noord-Wes 

Louis B, wat 'n saai- en beesboerdery het, beskryf homself as ‘n energieke mens met ‘n diep kant. Pizza, wyn en ‘n mooi sonsondergang bekoor hom, terwyl dit ‘n bonus sal wees as sy droomvrou van langarm-skoffel hou.

7. Louis M (26) van Mabula in Mpumalanga

Dié wildboer is op soek na ‘n vriend en lewensmaat “wat die slegste dag beter kan maak en die moeilikste situasie makliker kan maak”.

8. Philru (26) van Pertrus Steyn in die Vrystaat 

Die beesboer vertel hy het ‘n liefde vir sy beeste, sy honde en sy bakkie. Verder hou hy ook van rugby, krieket, tennis en gholf. 

9. Rampie (29) van Modderrivier in die Noord-Kaap 

Rampie het 'n jagplaas waar hy met wild en boerbokke boer. Hy het ook ‘n B.Com.-graad en nagraadse diplomas in finansiële- en boedelbeplanning.

10. Riaan (40) van Nigel in Gauteng 

Riaan was eers ‘n landboukundige, maar boer al die afgelope vyf jaar saam met sy pa en broer op die plaas. Dié saaiboer het sommer ’n rits belangstellings: Jag, fietsry, draf, swem, fotografie, restourasie van ou voertuie, visvang, motorfietsry, kamp en kosmaak.

Skakel vanaf 19 Januarie 2023 elke Donderdag om 20:00 in op kykNET, kanaal 144 vir ‘n splinternuwe episode van Boer soek ‘n vrou en onthou om ook saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerk, #BoerSoeknVrou te gebruik.