Logo

Boer Soek ’n Vrou: Nadia leef in die oomblik

Nuus
05 Oktober 2015
Die opwindende werklikheidsreeks Boer Soek ’n Vrou is vir ’n agtste seisoen terug en tien hubare boere word deur aanbieder Nadia Beukes vergesel in hulle soeke na liefde. Ons het met haar gesels.
FullSizeRender
Die opwindende werklikheidsreeks Boer Soek ’n Vrou is vir ’n agtste seisoen terug en tien hubare boere word deur aanbieder Nadia Beukes vergesel in hulle soeke na liefde. Ons het met haar gesels.

Nadia, wat vanjaar vir die tweede keer as aanbieder van Boer Soek ’n Vrou optree, het haarself die afgelope ruk goed besig gehou. “Ek is trots om te kan sê dat ek by verskeie opwindende produksies betrokke was. Dit sluit onder meer die fliek Mooirivier en die nuwe reeks van Getroud met Rugby in.

“Ek is tans ook betrokke by Die GROOT Ontbyt op kykNET, asook die opvolgreeks van die musikale jeugdrama Sterlopers.”

Sy was ook tussendeur betrokke by menigde korporatiewe funksies, stemopnames, beplanning vir toekomstige produksies en baie sosiale aktiwiteite.

“’n Groot mylpaal vir my was my eerste Sarie-voorblad vroeër vanjaar,” sê sy. “Ek kan dus met oortuiging en ’n dankbare hart sê dat ek baie uitsien na die Desember-vakansie.”

Sy meen dit is onmoontlik om voor te berei vir die onbekende. “’n Nuwe groep boere op ’n  klomp nuwe plase is ’n resep vir avontuur,” sê sy. “Die enigste manier om dit aan te pak is om letterlik te leef in die oomblik.”

Sy sê kykers se reaksie en betrokkenheid by Boer Soek ’n Vrou, asook die boere wat uiteindelik geluk vind, maak dié reeks die moeite werd.

“Ek kan met oortuiging sê dat die boere wat dalk nie met ’n lewensmaat wegstap nie, beslis soos ek – en hopelik ook ons kykers – met ’n klomp lewenslesse sal wegstap.”

Vir Nadia is dit elke keer ’n opwindende reis deur die vlaktes van Suid-Afrika saam met al die boere. “Kykers kan uitsien na hope vermaak, heelwat kinkels in die kabels, oomblikke van insig en tonne hart.”

Kyk Boer Soek ’n Vrou, elke Donderdag om 20:30.