Logo

Boer Soek ’n Vrou: Minki op die plaas

Nuus
21 Oktober 2016
Boer Soek ’n Vrou-aanbieder Minki Joubert gesels met ons oor die tien boere en haar plaas-ervaring.
BSV Minki Boere
Boer Soek ’n Vrou-aanbieder Minki Joubert gesels met ons oor die tien boere en haar plaas-ervaring:

Minki meen die lekkerste deel van aanbieder-wees is die geleentheid wat jy kry om die mooie Suid-Afrika te verken. Vanjaar se tien boere se plase is regoor die land versprei – van Robertson tot die Roedtan-omgewing, wat aan Minki splinternuwe ervarings gebied het.

Die produksiespan het vir die verfilming van die eerste episode (waar Minki die tien boere in lewende lywe ontmoet) en die tweede episode (waar Minki posman speel en die briewe en geskenke op die plase gaan aflewer) 10 000 km afgelê.

“Ons het gelukkig ’n drywer, Simon, wat baie oulik is,” sê sy.

Op Wessel se plaas kon Minki vir die eerste keer sien hoe lyk ’n pekanneutboom, vertel sy. Dit was vir haar “ongelooflik interessant” om te kon sien hoe word die neute geoes.

“Op Arno se plaas het ek perdgery,” sê sy. “Alles in die naam van TV,” spot sy. “Ek het eintlik perdgeloop!”

By Pieter het sy dit geniet om quad bike te ry. “Pieter het ’n ongelooflike sin vir humor,” sê Minki. “Partykeer het van sy goed oor my kop gegaan, want hy is so vinnig en so skerp.

Rob se plaas het die wêreld se grootste ramp, wat ongelooflik interessant is. Hy het gelukkig self nog nie daarop gery nie.”

Cornè se plaas grens aan die see, wat weer ’n heel ander ervaring was. Minki, ’n Kapenaar, meen sy het “naby aan die huis gevoel”. Sy beskryf dié boer as ’n “goeie ou”.

Die span het ook hul tyd by Hennie geniet, wat op ’n beeldskone plaas buite Willowmore boer. “Die natuurskoon van Hennie se plaas was rêrig vir my besonders,” sê die aanbieder, wat veral ’n sagte plekkie vir die Karoo het.

By die gasvrye Johan is daar heerlik vleis gebraai en gekuier. Dié boer het Minki en die produksiespan glo heeltyd bederf.

Op Johannes se plaas is daar witblits geproe – “iets wat jy nie sommer gereeld drink nie.”

Die reënbui wat uitgesak het tydens haar besoek aan Erhard was vir Minki ’n spesiale oomblik, omdat boere in die Beaufort-Wes-omgewing erg gebuk gaan onder droogte. “Oral waar ek gaan, gaan die reën,” is waaroor daar later gespot is, lag sy. “Ek sal dit vat, as dit die boere help.”

Die sonneblomme op Leon-Fritz se plaas was ’n hoogtepunt. Híér kon sy iets oor sonneblomme en bestuiwing leer. “Elkeen se plaas het iets uniek,” vertel sy. “Ons het ook ongelooflik lekker geëet by Leon-Fritz”.

Kyk die volledige video:



Volg saam met ons die boere in hul soeke na liefde op die kassie, ons webblad en sosiale media!

Boer Soek ’n Vrou is Donderdae om 20:30 op die kassie.

Herhalings word Vrydae om 13:30, Sondae om 10:00 en 21:30, Maandae om 10:30, Woensdae om 11:00 en Donderdae om 09:30 uitgesaai.