Logo

‘Elke teleurstelling is ’n bestelling’

Nuus
23 Desember 2017
Wie is Boer Jacques as die kameras ophou rol? Ons het by sy suster, Herine, gaan inloer om uit te vind.
BSV_Jacques_Billboard

FOTO: Verskaf

Boer Jacques is die sag-op-die-oog-boer van Loeriesfontein wat weet wat hy uit die lewe wil hê. Jacques het vroue oor die land gaande gehad met sy okkerneutbruin-oë en sterk Boesmanland-aksent in sy bekendstellingsvideo. Ná hy weekliks in Boer Soek ’n Vrou-kykers se sitkamers begin kuier het, het almal stilweg begin hoop dat dié jong boer wat “op die kliprante geplant is," liefde sal vind. Wie is Jacques as die kameras ophou rol? Ons het by sy suster, Herine, gaan inloer om uit te vind.

1. Was Jacques netjies as kind?
Ja, hy was altyd netjies, nou nie perfeksionisties nie, maar sy karretjies was altyd weggebêre as hy klaar gespeel het. Hy is vandag nog baie netjies op sy bakkie en lorries. As ek en my sussie by die huis kom, sal hy nogsteeds ons karre “inspekteer” en kyk dat ons dit netjies hou – binne en buite.

2. Het Jacques sy speelgoed gedeel?
Ja, ons verskil net ’n jaar so hy moes maar alles met my deel, of hy nou wou of nie. Hy was nooit regtig selfsugtig met sy speelgoed nie, behalwe die speelgoed wat hy bang was ek sou breek. Lekkergoed was egter ’n hele ander storie.

3. Hoe was dit om op Loeriesfontein groot te word?
Ek ag myself bevoorreg om op Loeriesfontein te kon grootword. Hoewel ons min op die dorp self was, is dit ’n boeregemeenskap wat mekaar nogsteeds goed ken. Dit is ’n gemeenskap waar mense nog vir mekaar omgee en vir mekaar belangrik is omdat jy ’n mens/vriend is. Ons het saam met ons vriende nonsens aangevang, en het ook sommer pak gekry by hulle ouers as ons ons nie kon gedra nie.

1513935249 34 bsv jacques 1

Die drie sibbe bymekaar, van links Mathia, Jacques en Herine. 

4. Wat het julle as kinders gedoen om mekaar te vermaak en julself besig te hou?
Op die plaas was daar altyd iets om te doen – al is dit kwaad. Ons het baie buite gespeel, meestal karretjies, boom geklim, kleilat gegooi, motorfiets gery, ens. Ons het ook van vroeg af onsself verbeel dat ons boere is wat ’n belangrike bydra op die plaas lewer.

5. Het julle altyd geweet Jacques gaan boer?
Ja, meeste van die seuns in ons omgewing, wat op ’n plaas grootgeword het, het gaan boer. My broer wou sommer dadelik ná skool op die plaas inval, maar dit was vir my pa belangrik dat hy eers moes gaan swot. Omdat Jacques lief is vir die natuur en diere het ek altyd geweet hy sou terugkeer na die boerdery.

Doen dié 'quiz' om uit te vind of jy soos Jacques is.

6. Net om vir die kykers konteks te gee – hoe ver boer Jacques van die dorp af en wat is daar om te doen in die omtrek?
Ons familieplaas, Lekkeroog, sit presies in die middel tussen Brandvlei en Loeriesfontein (60 km na beide kante). Elke nou en dan is daar ’n dans, dus het ons almal al van vroeg af leer dans. Ons kuier en braai ook gereeld by bure en vriende. As jy gelukkig is, is daar altyd iets te doen – op enige plek.

Kyk hier of al die jare se skoffel afbetaal het: 

7. Waar is die familiefoto wat in die kombuis hang geneem en wat is die storie daaragter?
Die foto is in 2012 geneem, by my kamermaat van skool se boetie se troue, naby Porterville. Hul ouerhuis het vir al drie ons kinders soos ’n tweede huis geword. Gevolglik het ons ouers ook groot vriende geword.

1513935452 34 bsv jacques 2

Die familiefoto wat in die kombuis hang, van links Jacques, Ma Alida, Pa Kallie, Mathia en Herine.

8. Sou jy julle as ’n hegte gesin beskryf?  Wat is julle gunsteling-aktiwiteit om saam te doen?
Ons is beslis ’n hegte gesin. Daar is ’n sterk liefdesband tussen ons en my ouerhuis was nog altyd ’n veilige hawe vir ons drie kinders. Ons is nou bietjie verspreid oor die land wat dit moeilik maak om baie tyd saam deur te bring, maar ons probeer om so gereeld as moontlik bymekaar kuier. As gesin speel ons graag kaart, ry op die plaas rond of kuier sommer net lekker by die huis rondom die etenstafel, en trek mekaar se siel uit. Ons het almal ’n goeie sin vir humor, wat sorg vir baie lag en ’n lekker tyd as ons bymekaar is.

9. Hoe gereeld sien julle mekaar?
Ek en my man bly in Hartbeespoort en my sussie studeer in Potchefstroom. Gelukkig is ek ’n onderwyseres wat gereeld vakansies kry, gevolglik kan ek gereeld op die plaas gaan kuier. Jacques ry gelukkig baie met die lorrie naby ons verby, en sal nooit by ons verby ry sonder om te groet of selfs oor te slaap nie.

10. Jacques het genoem dat hy “wilder as die wildtuin was” voor ’n​ motorfietsongeluk sy lewe verander het en dat hy voor die ongeluk nog nie kennis met die ernstiger kant van die lewe gemaak het nie. Hoe sou jy se het Jacques se ongeluk julle as ’n familie geraak en hoe het dit vir Jacques verander?
Jacques was darem nie ’n onverskillige jongman, soos dit klink nie. Hy waardeer die lewe nou net meer. Voor sy ongeluk het hy eers gedoen en dan gedink, nou dink hy eers en dan doen hy. Sy ongeluk was ’n groot skok vir ons almal, maar op die ou end het soveel positiewe dinge daaruit gevloei, dat ’n mens met reg kan sê: elke teleurstelling is ’n bestelling. Ons, as gesin is definitief baie nader aan mekaar, dit het ons laat besef dat die lewe regtig kort is en ons elke dag ons seëninge moet tel.

11. Was Jacques al  voorheen in verhoudings – vertel ons ’n bietjie meer daarvan?
Ja, hy het al ’n meisie of twee gehad maar die tydsberekening was net nooit reg nie. Hy is nou op ’n plek in sy lewe waar hy weet wat hy wil hê en gereed is vir iets meer standvastig.

12. Watter eienskappe soek Jacques in ’n vrou en watter tipe vrou dink jy sal by Jacques pas?
Hierdie is ’n moeilike vraag. Ek dink die meisie wat by my broer sal pas, sal iemand wees wat weet wie sy is, en hom aanvaar vir wie hy is. Hy sal seker in die begin kyk na goedjies soos netheid, veral hoe netjies sy op haarself is, en hoe sy ander mense rondom haar hanteer. Op die ou end van die dag oorskadu liefde alles, so as sy hom lief het, ek is seker hy sal haar baie lief hê, dan maak niks anders saak nie.

KYK: Jacques is reg om in 'n vrou te belê

KYK: Jacques se groepsaktiwiteit

KYK: Jacques kies twee dames

In die volgende episode van Boer Soek 'n Vrou ontmoet die dames die boere se vriende en familie. Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou