Logo

Boer Soek ’n Vrou: Eerste indrukke

Nuus
11 Januarie 2018
Eerste indrukke is dikwels blywend. Hier is wat die dames se naastes oor die boere te sê het.
BSV_Johan_Billboard

"Ek dink sy’t haar pot se deksel ontmoet, hulle pas mooi bymekaar. Stout laggie en alles." - Marilyn se vriend, Pieter. Foto uit die episode.
 

Die rolle is omgeruil in die nuutste aflewering van Boer Soek ’n Vrou. Die boere is gereed om die volgende stap in die verhouding te neem en die dames se naastes te ontmoet. Hier is wat die dames se ouers, familie en vriende van die boere dink.

Boer Ruan en Bianca -  “Dit lyk asof hulle mekaar al jare ken”

1515666906 27 bsv ruan

 

Ruan daag ewe ordentlik met ’n bos blomme by Bianca se mense in Pretoria op. Bianca waarsku vooraf dat hoewel haar pa kwaai voorkom hy eintlik ’n sweetie is en dat dit belangrik is dat Ruan haar ma moet beïndruk.

KYK: Só het die boere se oggend verloop

Ná haar ouers ’n snytjie koek saam met Ruan geniet het, vertel ma Marguerite: “Vandat Bianca teruggekom het van die plaas af, lyk sy verskriklik gelukkig. Sy giggel net die hele tyd, so ek dink daar is iets aan die kom.” Pa Dries ruik ook ’n rot. “Die kort rukkie wat ek hom nou ontmoet het, dink ek dis ’n baie oulike seun. Hy’t ’n oop gesig. En dis ’n plaasseun. Ek bedoel, dit tel vir my baie.”

By die braai knaag Ruan se senuwees vir ’n oomblik, maar soos die son water trek, raak die Jan Kempdorp-boer weer op sy gemak.

KYK: Ruan kies vir Bianca

Tydens die kuier vertel Bianca se ma dat sy baie kieskeurig is. “Dis hoekom sy nie baie verhoudings in die verlede gehad het nie. Want sy het haar voorafopgestelde idees hoe haar droomman moet lyk.”

Juis oor dié saak, brei haar niggie Zinanteaux uit. “Ek dink dit was so twee jaar terug, het Bianca vir ons presies verduidelik die tipe ou wat sy aantreklik vind en van hou. En toe ek die foto sien, sê ek vir Sunja (haar ander niggie), hy lyk op ’n druppel soos wat sy beskryf het.” Sunja voeg by dat Bianca baie gelukkig lyk. “Sy het actually vir ons gister gesê dat sy gee nie eintlik om wat aangaan nie, sy is net so gelukkig en verlief.”

’n Vriendin van Bianca, Elzette, vertel dat sy ’n baie sterk persoonlikheid het. “Haar persoonlikheid moet hom nie oordonder nie. Hulle moet mekaar aanvul. Ek dink dit is nogal die geval hierso. Hy lyk rustig, maar hy laat nie dat Bianca op sy kop sit nie.”

Broer André voel dat Ruan klaar een voet in die deur het omdat sy humorsin reg is. “Ons familie is nogals groot op die humor.”

Ma Marguerite som die aand mooi op: “Dis asof sy (Bianca) in ’n ander wêreld is en dis asof daar nou net ’n heeltemal ander element is wat haar aandag van alles aflei. So ek dink sy is definitief verlief.” Pa Dries beaam. “Dit lyk asof hulle mekaar al jare ken.”

Boer Jacques en Corné – “Hy beskerm haar baie mooi”

1515667717 27 bsv jacques web

 

Volgens Corné is haar ouers baie gemaklike mense. "My pa is die stiller ene. Hy gesels lekker as hy alleen met iemand sit en gesels. Hy is nie ’n groepsmens nie. Maar my ma is ’n chatter box. Sy hou van gesels, sy is ’n warm mens."

Ná ’n koppie koffie saam met sy dogter se nuwe liefde, vertel pa Fanus: “Ek dink dis bietjie vroeg om te sê watse tipe man Jacques wel is, maar van die bietjie wat ek nou van hom gesien het, lyk dit vir my of hy leiding vat vir ’n man in sy twintigerjare." Ma Gerda is weer beïndruk met Jacques se gemaklikheid in ’n geselskap. “Hy het ’n fyn sin vir humor om maklik ’n atmosfeer te kan breek as daar dalk een is. Hy is nie iemand wat, dink ek, sy persoonlikheid gaan afdwing nie. Hy is eintlik ’n rustige mens om mee saam te kuier.”

Vind uit watter tipe skoonouer is jy

Aan die ander kant gaan Corné se twee boeties dit vir geen man maklik maak om naby hul suster te kom nie, maar hul het dalk hul moses teëgekom toe die boer van Loeriesfontein uit sy bakkie klim. Die ontmoeting word geseël met ’n stywe handdruk.

KYK: Jacques kies vir Corné

By die braai vind daai einste handdruk ook byklank by Corné se oom, Pieter. “Jacques het ’n lekker stywe handdruk. Hy kyk jou ook in die oë as jy hom groet. En dis als wat vir my belangrik is in ’n man wat ’n ruggraat het.”

KYK: Só het die familiekuiers verloop 

Broer Manie se eerste indrukke van Jacques is dat hy ’n “boeroutjie is” wat “vas op sy voete is”. Broer Fanus dink heel duidelik ook só. “Ek kan nie hom nie baie moeiliheid gee nie, nie baie vinnig nie. Dit werk nie. Hy gee jou moeilikheid. Hy gaan nog tweede kom."

Oom Petrus meen dis nie maklik om só in ’n familie in te stap en ’n goeie kant voor te hou nie, maar dat Jacques hom goed van sy taak gekwyt het. 

Tannie Anna-Marie is van mening dat daar definitief meer as vriendskap tussen die twee broei. “As ek luister hoe hy praat en sy praat, kan ek sien daar is ’n groot berskermingsdeel aan sy kant. Hy beskerm haar baie mooi.”

Corné se niggie Elmé dink ook die twee pas goed by mekaar. “Ek dink die gesiggies lyk mooi langs mekaar. Die persoonlikhede clash glad nie. Ek dink hulle sal mooi saam kan smelt.”

Boer Adriaan en Helene - "Ek dink hulle is ’n perfekte match."

1515667036 27 bsv adriaan

 

Adriaan vry nie te ver van Riversdal af nie, sy potensiële skoonouers bly om die draai in Durbanville.

Dit is vir Helene belangrik om vir Adriaan te wys dat haar familie baie na aan mekaar is. "Hulle is ’n groot deel van my lewe. Jy moet hulle maar almal vat saam met my.”

Uit die eerste ontmoeting met Adriaan, kon Helene se pa Marius agterkom dat hy goeie waardes het. “As ek vir hom en my lieflingdogter Helenetjie kyk kan ek duidelik agterkom daar is so bietjie van ’n spark.” Ma Dalene stem heel duidelik saam: “Hulle lyk vir my altwee ’n bietjie verlief. Ek sien ’n gegiggel wat tipies is van verlief(wees).”

KYK: Adriaan kies vir Helene

Helene se suster Jana-Marie vertel laggend dat sy dink Adriaan Kaapstad ’n bietjie beter gaan leer ken. “Ek weet Lientjie het gesê hy is bietjie bang, want daar is baie geboue en baie skaduwees. Ek weet nie wat dit beteken nie.”

Tydens die braai vertel pa Marius dat dit lekker is om met Adriaan te gesels. Ma Dalene hou weer van die manier waarop Adriaan vir Helene hanteer. "Hy’s die heeltyd ingestel op haar. Waar sy is, wat sy doen. Hy sal in ’n gesprek wees met iemand, maar hy sal altyd aandag gee aan haar. So ek hou daarvan."

Tannie Alice het dié einste ding ook opgemerk. "Ek hou baie van die manier wat Adriaan, nie net vir haar hanteer nie, sommer net vir haar kyk met daai sagtheid en daai teerheid in sy oë wat sy somtyds nie eers sien nie."

Helene se vriendinne Chantelle en Kristen is ook vol lof oor die blouoogboerseun. "Die eerste ding wat ek kon aflei met hulle altwee is dat hulle baie gemaklik is met mekaar. Hulle voer mekaar baie mooi aan in hulle gesprekke," sê Chantelle. "Ja, die gesprekke was nooit stil nie. Hy lag vir ons jokes ten minste, so dis ’n goeie ding. Want sy (Helene) het ook ’n baie goeie sin vir humor," voeg Kristen by.

Helene se niggie Lisa meen dat as jy ’n drankie vir jouself kry en ook vir jou vrou aanbied, kry jy tien punte in haar oë (welgedaan, Adriaan!).

Tannie Christa gaan dit op haarself neem om vir Adriaan te máák inpas. "Daar is nie ’n mens wat nie by hierdie familie inpas nie, hoor. Dit is een groot happy family. Hy sal baie maklik inpas by ons."

Adriaan dra ook tannie Blanche se goedkeuring weg. "Ek dink hulle is ’n perfekte match. Ek gaan help om dit te bevorder."

Boer Johan en Marilyn -  "Ek dink sy’t haar pot se deksel ontmoet"

1515666984 27 bsv johan

 

Marilyn vertel dat dit belangrik is dat Johan haar ma moet beïndruk omdat sy, as een van vier kinders, die enigste dogter is. 

In Johan se geval is die "ys klaar gebreek" te danke aan sy flink vingers en etiket op ma Hetta se verjaarsdag. Marilyn vertel dat dié teksboodskap vir haar ma baie beteken het. 

Ma Hetta vertel ná hul oggendontmoeting: “Marilyn het sulke positiewe dinge van hom vertel dat ons baie opgewonde was om hom te ontmoet. Hy gesels lekker, hy weet wat hy wil hê in die lewe en hy is ’n baie reguit mens. En ek dink dis iets wat ons waardeer."

Stiefpa Fanus meen dat Johan baie anders is as Marilyn se vorige kêrels en dat dit lyk asof hulle op ’n ander vlak connect wat Marilyn nog nie voorheen ervaar het nie.

KYK: Johan en Marilyn gesels oor hul gevoelens

Tog erken ma Hetta dat sy aanvanklik getwyfel het oor die nuwe paartjie. "My eerste indruk oor Johan was dat hy eintlik te oud is vir Marilyn. Die ouderdomsverskil was te groot, maar my dogter is so gelukkig dat ek as ma baie gelukkig is vir haar part. As sy gelukkig is, is ons ook gelukkig."

Vir Marilyn se broer Andrzej maak die ouderdom nie so baie saak nie. Hy is betower deur die boer van Carolina se "welcoming-stem" en dat dit iemand is met wie hy net kan op ’n dieper vlak kan gesels.

Vriend Erich is ook positief oor die paartjie: "Hy het klaar ingepas. Hy hoef niks te bewys nie. Hy is gemaklik en hy pas by almal aan." Nig Noleen skerm: "Solank hy net mooi agter ons niggie kyk."

Marilyn se vriend Pieter is baie entoesiasties oor die verhouding: "Ek dink sy’t haar pot se deksel ontmoet, hulle pas mooi bymekaar. Stout laggie en alles."

’n Ander vriend Ian is egter ’n bietjie moeiliker om te beïndruk: "Ek sien ’n man wat baie sosiaal is wat met enigeen kan mix. Of hy homself is, dis moeilik om te sê."

KYK OOK: Hier is die lesse wat ons boere vorentoe gaan vat

LEES OOK: Rian van Heerden gee raad om jou boer te hou

Boer Soek ’n Vrou is elke Donderdag om 20:00 op die kassie. Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.