Logo
Hotel

Boer Jaap: Die prins op die fiets

Nuus
26 Desember 2017
Sal ware liefde seëvier tussen Boer Jaap en Jony?
Boer-Jaap_Boer_Soek_n_Vrou

In die kykNET-mokumentêr Hotel sien ons week na week hoe Boer Jaap (vertolk deur De Klerk Oelofse) Jony, die Fransenburg Hotel se ontvangsdame, se hart probeer verower.

Hy bevind homself egter in die middel van ’n liefdesdriehoek, omdat Jony (vertolk deur Simoné Nortmann) haar oog op die Fransenburg Hotel se bestuurder, Thomas (vertolk deur Beer Adriaanse) het.

LEES OOK: OP PAD PLAAS TOE SAAM MET SIMONÉ NORTMANN

Ons het ondersoek ingestel, en Boer Jaap ook ’n bietjie van nader leer ken:

  1. Hoe lyk jou ideale meisie en watter eienskappe soek jy in haar?
    Jony Scholtz is die ideale meisie vir my. Sy kyk partykeer vir my soos sy op dié foto hier onder na Jonty kyk. Dit wys ook sy’s lief vir diertjies en ek het klomp.
     
  2. Jaap, wat is jou liefdestaal?
    Ek praat maar meeste van die tyd Afrikaans. In liefde en in haat. Nie dat ek eintlik vreeslik kwaad raak nie, ek is mos maar ’n duifie sonder gal.
     
  3. Nou dat Jony jou gelos het, waartoe van hier?
    Ja-nee, Jony het my al gelos (’n paar keer), maar sover ek weet, is ons nou weer saam. Dis vir my so lekker! Ek gaan probeer om nie die slag die osse so ver voor die wa in te span nie.
     
  4. Wat het jy uit jou ondervinding met die liefdesdriehoek in die Fransen Hotel geleer?
    Ek het dit vreeslik geniet om ’n vriend en ’n meisie by die Fransen te hê, maar ek het later nie meer lekker geweet wie’s wie se vriend en wie’s hoe se wat nie. Dis nou half moeilik, want ek brand die heeltyd om vir my Jony te gaan verras. Maar ek wil ook nie hê my arme vriend, Thomas, moet by die werk sien hoe sy groot liefde haar nuwe kêrel soen nie. Ek weet nie – was nog nooit regtig goed met meetkunde nie.
     
  5. Bro’s before ho’s – dink jy vriendskap is belangriker as liefde?
    Die vraag is amper net so moeilik om te antwoord soos Pilates se: “Wat is die waarheid?” Maar ek sien dit so bietjie soos die weerpatrone by ons op die plaas. Kyk, hier trou Jakkals gereeld met Wolf se, en my ma het my geleer as dit pap reën moet jy skep.
     
  6. Sal jy graag weer aan Boer Soek ’n Vrou wil deelneem, en dink jy dit is ’n goeie manier om liefde te vind?
    Ek was op Boer Soek ’n Vrou seisoen 4. Dit was nogal ietsie, ja. Ek dink dit is ’n goeie manier om liefde te vind, maar Jony sê daar is deesdae allerhande ander maniere ook. Sy praat van ’n selfoon-ding. Sy sê dis amper soos die Uber-storie wat Thomas met die karre probeer het, maar daar is mense op. Ek weet nie heeltemal hoe dit werk nie, maar dis glo ’n ding in die groot stede soos Nelspruit. Boer Soek ’n Vrou het darem nou al vir ’n paar manne vrugte gedra, maar ek glo nog altyd die weë van water is onvoorspelbaar. Selfs na my teleurstelling op Boer Soek ’n Vrou, loop ek toe sommer die vrou van my drome, Jony, in die Spar op Fransenburg raak. Dit wys jou: die liefde is oral, jy kan lank lê, maar dan moet jy raak skiet.
  7. Boer Soek ’n Vrou se boere het ’n paar moeilike keuses om te maak. Wat is jou raad aan hulle gegewe jou ondervinding met Jony en Thomas?
    Ek onthou hoe moeilik dit was om te besluit toe ek deel was van Boer Soek ’n Vrou. ’n Ou se kop gaan dié kant toe en dan dáái kant toe. Maar een ding wat nie twee is nie, is dat iemand aan die einde van die aand baie hartseer gaan wees. In my geval was die iemand toe mos nou ek nadat Jaconéldra en Andrelize besluit het om mekaar te kies. So, my raad is om dalk maar die een te kies wie vir jou in daai situasie sou gekies het.
     
  8. Wat sal jy anders doen as jy weer ’n meisie van die stad ontmoet?
    Ek sal dié slag vir haar ’n ordentlike stel stapstewels by die huis op die plaas aanhou. Ek en Jony kon net die eerste keer wat sy kom kuier het op die plaas loop stap. Ons kon nog nooit weer nie, want sy bly haar stewels by haar huis vergeet.
     
  9. Wat is jou ma se opinie van Jony?
    Sy was elke keer briesend as ek met die reën in my oë op die plaas aankom omdat Jony my gelos het. Sy sê Jony klink vir haar “so los soos ’n nommer veertien fan belt op ’n nommer twaalf pulley” met die dat sy my so los vir Thomas. Maar sy ken haar net nog nie soos ek haar ken nie. As sy nou eers vir Jony lekker leer ken gaan sy sien, Jony is ’n engel. Nes sy.
     
  10. Dink jy Jony sou aard op die plaas?
    Sonder twyfel. Naas my ma, is Jony die mooiste, slimste en sterkte vrou wat ek al ooit ontmoet het. Sy sal enige plek kan regkom.

Kyk hier na 'n paar skreeusnaakse blapse vanuit Hotel:

 

Sal Jony uiteindelik Boer Jaap se onvoorwaardelike liefde vir haar aanvaar? Vind uit elke Maandag om 20:30 in Hotel op kykNET, DStv-kanaal 144. Gesels saam op sosiale media met die hutsmerk #kykNETHotel.

Donderdag om 20:00 in Boer Soek ’n Vrou moet die twee oorblywende dames op die plaas hul laaste dag op die plaas slim benut voor die boer sy finale keuse maak. Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou


 Jony saam met Jonty, Boer Jaap se ander hart se punt