Logo
Alles Malan – Slim
web uni tv guide

Alles Malan

144DramaPG13 L

Boelies: Help só jou kinders – Alles Malan

Nuus
08 Februarie 2022
Skakel elke Dinsdagaand om 20:00 in vir Alles Malan op kykNET (DStv-kanaal 144).
Alles Malan – Episode 11

Freek (Mateo Olivier) en sy vriende loop sleg deur wanneer Thys (Alex van Dyk) en sy span hulle nie net boelie nie, maar sommer afpers ook. Wat kan jy doen om jou kinders te help om nie in dieselfde slaggat te trap nie?

Boeliegedrag is ongelukkig so oud soos die berge en saam met die vordering van tegnologie, het kuberboelies ook begin kopuitsteek.

Volgens Childline, ’n nie-winsgewende organisasie wat in Suid-Afrika na die regte van kinders omsien, is daar verskeie maniere waarop kinders geboelie kan word:

  • kinders wat mekaar skeldname noem;
  • leuens vertel om ander in die moeilikheid te laat beland;
  • die slaan, stamp, byt en knyp van ander kinders;
  • om iets te neem wat nie aan hulle behoort nie of iemand anders se eiendom te beskadig;
  • om vriende af te rokkel;
  • om leuenstories te versprei en
  • om iemand te bedreig of te intimideer.

Wat moet jy doen as jy geboelie word? Die heel eerste ding wat jy moet doen, is om vir iemand daarvan te vertel. Jy sal dit dalk nie wil doen nie, want jy dink dalk niemand gaan jou glo nie of mense gaan dink jy is ’n swakkeling, maar indien jy dit nie doen nie, sal dit dalk net erger raak. Praat met ’n vriend, ouer of familielid en indien dit by die skool gebeur, praat beslis met ’n onderwyser.

  • Probeer in plekke bly waar jy veilig is soos byvoorbeeld tussen anders kinders wanneer dit pouse is. Meeste boelies hou nie daarvan dat ander mense sien wat hulle doen nie.
  • Indien jy openbare vervoer skool toe en terug neem, sorg dat jy naby volwassenes sit. Verander dalk die tye wanneer jy skool toe en terug ry om die boelies te vermy en weereens: praat met iemand oor wat gebeur het.
  • Moenie jou telefoonnommer vir enigiemand gee nie. Indien jy wel boelie-boodskappe kry, wys dit dadelik vir jou ouers of onderwysers. Daar kan selfs ’n klag by die polisie gelê word.
  • Moenie stilbly wanneer jy sien iemand anders word geboelie nie. Moenie moeilikheid soek met die boelies nie, gaan eerder dadelik na iemand wat kan help. Kinders wat geboelie word het vriende en bondgenote nodig en jy is dalk net die een wat die boelie-sirkel kan breek.

Is jy dalk die boelie? Vra jouself die volgende vrae af:

  • Wat het gebeur dat ek die boelie geword het?
  • Hoekom doen ek dit?
  • Hoe voel ek wanneer ek iemand boelie?
  • Hoe hou ek op om dit te doen?

Kuberboelies het die wêreld oor al vir tragiese gevolge gesorg. Kinders wat selfdood as die enigste uitweg kies of soveel skade aangedoen word, dat hulle persoonlikhede geheel en al verander. Angs en depressie is maar net twee nagevolge van wat kuberboelies kan veroorsaak.

Waarvoor moet ouers uitkyk?

  • Is jou kind ontsteld nadat hulle op die foon of internet was?
  • Is jou kind geheimsinnig oor wat op hulle foon is?
  • Spandeer jou kind te veel tyd alleen in hulle kamer?
  • Het jou kind ontrek van julle gesinslewe, skoollewe en ander byeenkomste?
  • Sien jy dat hulle skoolwerk agteruit gaan?
  • Is daar ’n verandering in hulle bui, eet- en slaapgewoontes?
  • Vermy hulle gesprekke oor hulle foon of rekenaar?
  • Lyk hulle senuagtig wanneer hulle ’n boodskap op hulle foon kry?

Hoe kan ouers help?

  • Verduidelik reg van die begin, wanneer dit kind vir die eerste keer ’n foon kry, die gevare van kuberboelies. Waarsku jou kind om nooit hulle nommer sommer vir enigeen te gee nie, nooit persoonlike inligting te deel nie en versigtig te wees vir groepe waar kinders ’n teiken kan word.
  • Praat met jou kind en sê jy sal hulle altyd lief hê en ondersteun, maak nie saak wat nie.
  • Laat jou kind goed verstaan dat dit nie hulle skuld is nie en dat boeliegedrag meer te doen het met die boelie, as met hulle.
  • Indien jy uitvind dit is ’n mede-leerling wat jou kind boelie, moet jy die skool laat weet.
  • Hou rekords (screen grabs) van die boodskappe en foto’s sodat dit as bewyse gebruik kan word.
  • Kry vir jou kind hulp en laat hulle met ’n berader of sielkundige praat. Ondersteun jou kind deur vir hulle die gereedskap te gee om met ’n boelie af te reken.
  • Monitor jou kind se gebruik op sosiale media. Kinders kan baie geheimsinnig wees oor wat op hulle fone is, maar jy het die reg as ouer om toegang daaroor te hê. Eerder ’n probleem vroeg genoem identifiseer as dit te probeer beredder wanneer dit reeds te laat is.
  • Wees deel van jou kind se aanlyn-lewe. Volg hulle op sosiale media, maar sonder om opdringerig te wees. Maak ook seker dat hulle nie te veel tyd op sosiale media spandeer nie en wees op die uitkyk wanneer jy sien dit is besig om hulle lewe oor te neem.

Gaan na https://www.childlinesa.org.za vir meer inligting. Daar is onder meer ’n diens waar kinders direk met iemand oor hulle probleme kan praat.

Skakel elke Dinsdagaand om 20:00 in vir Alles Malan op kykNET (DStv-kanaal 144).