Logo
Slim bewonder
web uni tv guide

Bewonder & Bewaar Met Bonné De Bod

144NatuurPG13

Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod

Nuus
02 Junie 2022
Die bekroonde ‘STROOP’-span keer terug na kykNET met ‘Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod’
Bewonder en Bewaar

Foto’s: Susan Scott

Die bekroonde TV-aanbieder en vervaardiger Bonné de Bod, en regisseur Susan Scott, se nuwe natuurprogram, Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod, saai vanaf Sondag 17 Julie 20:00 uit op kykNET, DStv-kanaal 144.

Bonné en Susan is veral bekend vir die dokumentêre films STROOP – journey into the rhino horn war en Kingdoms van Vuur: Ys en Feëverhale. Beide films is by meer as 50 filmfeeste wêreldwyd vertoon en het al verskeie plaaslike en internasionale toekennings ontvang.



Hulle het al gesamentlik meer as 55 benoemings en toekennings ontvang vir hulle werk as aanbieder, vervaardiger en redigeerder by onder meer die SAFTA-, Jackson Wild-, Wildscreen Panda-, IMPACT DOCS- en SANParke Koedoe-toekennings, sowel as IWFF (International Wildlife Film Festival).

Die bekroonde regisseur, Susan Scott, staan aan die stuur van Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod met haar uitsonderlike beeldmateriaal en teks. Bonné en Susan het al regoor die wêreld verfilm – in Afrika, Asië, Europa, die Noordpool, sowel as Noord- en Suid-Amerika. Vir hierdie reeks het dié gedugte span, bekend vir hul ongekende toegang tot afgesonderde wildernisgebiede wat moeilik, maar terselfdertyd ook beeldskoon is om in te verfilm, natuurlewe-navorsers in die vooraanstaande wildernisgebiede van Suid-Afrika, Namibië en Argentinië op kamera vasgelê.



Bonné is bekend vir haar vermoë om bewaringswetenskaplikes, veeartse en navorsers op hulle gemak voor die kameras te plaas. Regdeur die reeks bring sy die warmte en passie na vore wat hierdie voorste wetenskaplikes vir hulle navorsingsonderwerpe het.

Deur hulle oë kom ons ook meer te wete oor die wilde diere en ongerepte wildernisse waaraan hulle hul lewens wei. Op haar reise na die afgeleë uithoeke van die wêreld ervaar Bonné eerstehands hoe sekere van die planeet se mees toegewyde navorsers die geheimenisse van Moeder Natuur ontsluit, en kom sy agter hoe hierdie mense nie net met klein en groot gediertes werk nie, maar terselfdertyd hulle drome nastreef met ’n daaglikse bestaan in die natuur.



Hierdie interaksies gee ons ’n dieper insig tot die menslike gees, maar nóg meer: dit is ’n ontdekkingsreis vir Bonné terwyl sy haarself in hulle bestaan ingrawe om uit te vind wat die hartklop is van hulle baanbreker-navorsing – en of hulle werklik daardeur vervul word.

Hier is ’n paar van die temas waarna jy kan uitsien:

  • Wildehonde:
    Die Kruger Wildtuin se wildehonde roer die hartsnare van staatsveearts dr. Louis van Schalkwyk. Bonné vind uit hoekom, en sien ook die tegnologie wat hy gehelp ontwikkel het in aksie.
     
  • Poemas:
    Poema-navorser, dr. Emiliano Donadío, kry ’n sein van ’n strik in een van Patagonië se canyons. Hy en Bonné beweeg oor moeilike terrein om ’n nekband aan te sit vir wetenskaplike navorsing.
     
  • IVF in bedreigde spesies:
    In hierdie Dawid en Goliat-storie wys dr. Morné de la Rey vir Bonné hoe hy IVF- en stamstel-tegnologie gebruik om die onmoontlike te vermag: om ’n spesie van uitwissing te red.
     
  • Woestynleeus:
    Namibië se woestyn-aangepasde leeus is ’n skaars natuurskat. Dr. Philip Stander is hulle beskermengel gedoop. Bonné sluit by hom aan en leer meer oor baanbrekersontdekkings aan die Skedelkus.
     
  • Fynbos:
    Fynbos se lof word besing as ’n botaniese wonder van Suid-Afrika, maar Bonné delf dieper saam met dr. Martina Treurnicht, wat die sluier lig oor hierdie wonderwêreld in die beeldskone Kaap.
     
  • Guanacos:
    Guanacos het Darwin só betower dat Bonné die pad na Patagonië vat om uit te vind hoekom. Sy sluit by navorser Emanuel Galetto aan wat ’n nekband aan een wil sit, maar die taak is moeilik!
     
  • Pikkewyne:
    Bonné sluit by navorser Albert Snyman op die afgeleë Dassen-eiland aan, waar hy en sy span van SANCCOB ’n week spandeer om Afrika-pikkewyne met transpondeerders toe te rus vir navorsing.

Skakel vanaf Sondag, 17 Julie 20:00 in vir Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees.