Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Beveilig jou só teen kuberkrakers – Binnelanders

Nuus
28 September 2020
Binneland Kliniek het op die harde manier geleer oor hoe vinnig kuberkrakers jou lewe ‘n nagmerrie kan maak.
ep79 5

Eers was daar die drievoudige betalings wat soos administratiewe foute gelyk het, maar toe gaan al die yskaste wat sensitiewe medisyne bevat af. Conrad (Hykie Berg) het ook deurgeloop toe die krakers toegang tot die kamera van sy rekenaar gekry het en presies geweet het wat in sy kantoor en sy lewe aangegaan het.

Wat is kuberkraking?
In Engels word dit hacking genoem. Daar is verskillende soorte kuberkrakers. Soms is dit persone wat gewoonlik aanhangers van tegnologie is en deel is van ‘n subkultuur wat kyk of hulle by stelsels kan inbreek. Etiese-krakers (ethical hackers) is kenners wat by stelsel inbreek juis om te kyk hoe kuberkrakery gekeer kan word. Dan is daar iets wat hacktivism (hacker + activism) genoem word. Dit is persone wat vir hulle eie doel, soos byvoorbeeld geloof of die omgewing, by stelsels inbreek om hulle saak te stel.

Die gevaarlike persone is egter dié wat die sekuriteit van stelsels kan ondermyn en dit vir kwaadwillige doeleindes doen soos om bedrog te pleeg, spionasie, inligting te bekom, iemand se identiteit te steel, ander persone af te pers en dies meer.

Hoe beveilig jy jouself?

  • Maak seker daar is ‘n anti-virus-sekuriteitstelsel op jou rekenaar om te keer dat daar nie by jou ingebreek kan word nie.
  • Doen gereeld enige opdaterings (updates) op jou rekenaar of selfoon aangesien daar sekuriteit in hierdie opdaterings ingebou is wat jou sal help om veilig te bly.
  • Jou wagwoord/wagwoorde moet onbreekbaar wees. Dit is gewoonlik ‘n lang wagwoord met minstens een hoofletter, kleinletters, syfers en ‘n simbool in. Probeer om nie dieselfde wagwoord oor en oor vir jou verskillende rekenings te gebruik nie.
  • Moenie webblaaie besoek as jy nie seker is van jou veiligheid nie. Daar is byvoorbeeld webblaaie met advertensies wat outomaties op jou rekenaar aflaai en so probleme kan veroorsaak. Vermy veral webblaaie met volwasse inhoud, dobbelary of blaaie waar jy gratis flieks en reekse kan aflaai. Afspraakwebtuistes het ook al vir baie hartseer gesorg wanneer mense op soek na liefde deur swendelaars ingetrek word en kort voor lank is hulle hul spaargeld kwyt.
  • Moet nie aanvoegsels in e-posse oopmaak wat jy nie vertrou nie. Virusse kan maklik in enige dokument weggesteek word.
  • Moenie enigiets aflaai van webblaaie wat nie betroubaar is nie.
  • Skakel jou rekenaar af wanneer jy klaar is en indien moontlik, sit die wi-fi af.
  • Moenie jou wi-fi-wagwoord deel met mense wat jy nie vertrou nie.
  • Maak kopieë van al jou werk, foto’s en ander inligting en stoor dit op ‘n eksterne-hardeskyf of USB-stokkie.
  • Gaan slegs in jou rekeninge, soos byvoorbeeld jou bankrekening, van jou eie rekenaar of selfoon. Indien jy gedwing word om dit van ‘n ander rekenaar soos by ‘n internet-kafee te doen, maak seker dat jy ná die tyd afteken.
  • Gebruik jou kredietkaart vir aanlyn-aankope. Indien jy ‘n slafoffer van bedrog is, is dit makliker om by die bank te bewys dat dit nie jy was nie.
  • Maak seker dat jou sekuriteitstellings korrek is op al jou sosiale media. Wees ook versigtig om nie te veel te deel nie soos jou volle geboortedatum, waar jy bank, jou adres en so meer.
  • Wees versigtig wanneer jy wi-fi in ‘n openbare plek gebruik. Maak seker niemand kan jou afloer en jou wagwoord/e kry nie of toegang tot enige van jou rekenininge nie.
  • Wees versigtig vir phishing. Dit is wanneer jy byvoorbeeld ‘n e-pos sal ontvang wat lyk of dit van ‘n bank of selfs regeringsinstansie soos SARS kom. Hulle sal jou probeer oortuig om jou inligting te deel omdat daar kwansuis ‘n fout is met jou rekening en dan so toegang kry. Moet ook nie enige van jou persoonlike inligting oor die foon deel nie.