Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Lui Maar Op Belinda

144Komedie13

Belinda en ’n paar nuwe gesigte gaan oplui dat dit klap!

Nuus
17 Maart 2023
Lui maar op, Belinda se derde seisoen begin op Maandag 3 April om 20:00 op kykNET.
LMOB S3 Artikel Image

Wanneer die kykNET-komedie Lui maar op, Belinda in vroeg in April weer na die kassie terugkeer, gaan kykers vir Chris van Niekerk in die rol van Frans, die geliefde karakter in die reeks, sien. Eric Nobbs, wat voorheen die rol van Frans vertolk het, het tydens die produksie van die reeks op 23 Oktober 2022 gesterf.

Lui maar op, Belinda se derde seisoen begin op Maandag 3 April om 20:00 op kykNET. Dit volg die wel en weë van ’n groepie aweregse karakters wat betrokke is by ’n hardewarewinkel in George.

Bekende karakters van die reeks keer terug. Brümilda van Rensburg vertolk steeds die naamrol teenoor Annelisa Weiland (Annetjie) terwyl Duncan Johnson (Ian), Wian Taljaard (Dirkie) en Carmen Maarman (Maggie) steeds sorg vir heerlike vermaak.  Eric sal wel nog tot in die derde episode as Frans te sien wees, maar in daaropvolgende episodes vertolk Chris dié rol.  

Verskeie bekendes akteurs soos Karli Heine, Albert Maritz, Richard van der Westhuizen, Eckard Rabe, Wilhelm van der Walt en Helene Truter gaan in die reeks te sien wees. Ook Sonja Herholdt gaan ’n verskyning maak.

Dit sal ook die eerste keer wees dat Brümilda en Eckard weer teenoor mekaar in ’n TV-reeks speel ná hulle laas onderskeidelik as Louwna en Chris Edwards in die bekende M-Net-sepie, Egoli verskyn het.

Die skryfspan bestaan uit Desiré Gardner en Marcel Spaumer. Desiré is ook die draaiboekskrywer en die ster van Magda Louw, wat tans op kykNET uitgesaai word. Dit sal deur Lui maar op, Belinda in dieselfde tydgleuf opgevolg word.

Aan die einde van die vorige seisoen van Lui maar op, Belinda wat in 2021 uitgesaai is, het Belinda ontdek sy het borskanker en volgens die regisseur Ben Heyns gaan Brümilda in die opkomende episodes kykers op ’n tuimeltrein van emosies neem oor die manier waarop sy Belinda se moeilike reis uitbeeld.

“Ons gaan lag saam met haar, maar ons gaan ook ordentlik saam met haar huil. Ons sien ook uiteindelik ’n sagter kant van die reeks se feeks, Maggie, en sy behoort in almal se harte in te kruip,” sê hy.

“En glo dit of nie, maar Belinda en Annetjie se paaie het reeds in hulle jonger dae gekruis en ons sien presies wat daardie dag gebeur het,” onthul Ben.

“Daar sal dus in een van die episodes ’n terugflits wees na hul jong dae.”

Die jonger weergawes vir Belinda, Annatjie en Frans word onderskeidelik deur Ilse-Lee van Niekerk (Troukoors), Augusta Zietsman (Dinge van ’n kind) en Adriaan Havenga (Die Byl en Fraksie) vertolk. Adriaan is by die onlangse kykNET Fiësta-toekennings as beste opkomende kunstenaar vereer.

Oor die terugslag van Eric se heengaan sê Ben dit het elke lid van die rolverdeling en produksiespan baie diep geruk.

“Dit was bitter moeilik om terug te keer stel toe, maar almal wou dit vir Eric se nagedagtenis doen. Eric was ’n baie gedissiplineerde akteur en het soveel toewyding gehad – niks het hom as akteur laat struikel nie – hy sou beslis gesê het ‘the show must go on . . .’”

Die derde seisoen van Lui maar op, Belinda begin op Maandag 3 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).