Logo

Beesstert wat verlei

Nuus
29 Mei 2015
kykNET fokus vandeesweek op kos. Die fiksheidskenner Linda Kriel vertel ons meer van die disse wat haar hart verower.
Linda Kriel
kykNET fokus vandeesweek op kos. Die fiksheidskenner Linda Kriel vertel ons meer van die disse wat haar hart verower.

Wat is jou gunsteling-gebak?
Ek bak nooit koek nie; dit flop altyd.

Soet of sout?
Definitief sout. Ek het nie eintlik ’n soettand nie.

Het iemand al ooit jou hart probeer verower met kos? Indien wel, het dit gewerk?
Peet, my man, verower my hart baie maklik met sy beesstertpotjie. Met spesiale geleenthede, soos Moedersdag, maak hy dit altyd vir my en dit wérk. Dit laat my spesiaal voel.

Vertel ons van jou kleintyd-herinneringe van kos.
Iets wat ek baie lanklaas geëet het, wat my altyd aan my kinderdae laat dink, is vetkoek. Lekker groot vetkoeke met maalvleis of appelkooskonfyt en kaas. My ouma was die bobaas-vetkoekbakker en die hele familie het gewoonlik bymekaar gekom vir ’n vetkoekaand. Later het my ma die tradisie voortgesit, maar ongelukkig het dit daar gestop. Nie ek of my suster kan vetkoek bak nie. Ek sal wát gee om weer een van my ma se vetkoeke te proe. Eers wanneer hulle nie meer daar is nie, mis ’n mens sulke klein dingetjies.

Wie maak kos in jou huis?
Ek maak gedurende die week kos en my man hou daarvan om naweke vir ons te braai of potjiekos te maak.

Sal jy ooit onthaal vir vriende en familie, en self kosmaak? Of het jy al?
Ja, ek het al baie onthaal. Ek verkies dit om al my geregte klaar te maak voordat die gaste opdaag, sodat ek die aand saam met hulle kan geniet.