Logo

Bak is ’n kunsvorm vir Mari-Louis

Nuus
26 Maart 2015
Mari-Louis-Profiel-300x200

Mari-Louis Guy is ’n kookboekskrywer, koekbrood-ghoeroe en kosstilis. Sy en haar broer, Callie Maritz, is ’n skrywerspan en eienaars van die koekboetiek Cakebread.

Dit is vir haar heerlik om saam met haar broer te werk, sê Mari-Louis.

“Hy is so ’n bondel energie, liefde en slimmigheid. Meeste dae is ’n plesier, ons verstaan mekaar se familiedruk. Ons kinders is klein en ons wil daar wees vir hoogtepunte, so ons beplan ons dagboeke om dit. Ons is mekaar se kinders se pleegouers, so eintlik het ons elkeen vyf kinders.

“Ons kan ook soos Italianers op mekaar skreeu en vyf minute later giggel oor ons eie ou grappies. Ons is sterk in verskillende gebiede, wat ons ’n gedugte span maak.”

Bak is vir haar ’n eindelose leerskool.

“Daar is iets magical omtrent bak; met eiers, meel, suiker en melk kan jy ’n magdom verskillende disse omtower. Bak is ook ’n kunsvorm en vir my is daar niks meer ’n bewys van liefde as iets met moeite en liefde gebak vir iemand se spesiale dag nie. Ek bak as ek hartseer is, en ’n meelwolk is ’n groot teenvoeter vir depressie; ek bak as ek gelukkig is en tyd saam met my kinders wil deurbring.”

Al drie haar kinders is vreeslik lief daarvoor om haar in die kombuis te help – al is daardie hulp nie áltyd welkom nie, skerts sy: “ ’n Driejarige wat wil eiers kraak lank nadat jy reeds genoeg in die beslag het. verstaan nie rede nie.”

As stilis sien Mari-Louis haarself as ’n kunstenaar, en bak as kunsvorm. “Daar is baie tegniek en dis natuurlik skeppend. Ek hou nou van so ’n nuwe mini-koekie genaamd merveilleux, van Belgiese herkoms. Dit is gemaak van meringue-lae en versier met heerlike versiersels en sjokoladeskaafsels. Hemels en beeldskoon.”

Vir haar was die lekkerste van Koekedoor om omring te wees deur mense wat haar belangstelling deel.

“Ons kon dae lank gesels oor ons gunstelinge, tegnieke en nuwe tendense. Huiskok, Errieda du Toit, wat aan die inhoud gewerk het, is seker een van die interessantste mense wat jy kan raakloop. Ewig nuuskierig. Almal wat aan Koekedoor gewerk het, het ook met hul eie wêrelde gekom, van teatermense tot skrywers en natuurlik van die kameramanne wat reg oor die wêreld aan produksies gewerk het. Elke persoon op daardie stel het mens se lewe verryk.”

Wanneer sy nie in die kombuis is nie, besoek Mari-Louis soveel moontlik bakkerye, koffiewinkels en restaurante om nuwe idees te kry.

“As ek kan lees elke dag heeldag sal ek gelukkig wees. Ek het altyd ’n boek by my. Meeste van my tyd spandeer ek by kinderpartytjies; ek het drie kinders en dis waar jy my oor naweke sal vind.”

Koekedoor is op Facebook, Twitter en Pinterest.