Logo
Arendsvlei S5 Slim BB
web uni tv guide

Arendsvlei

145Telenovela13

Arendsvlei-speler se vele talente

Nuus
16 Maart 2021
Dean-Richard Olivier, wat die rol van Anton speel, is een van die talentvolle skrywers wat al op Arendsvlei gewerk het.
Untitled design

Daar is van die spelers in Arendsvlei wat nie terugstaan vir ‘n uitdaging nie. Meer as een van hulle dra meer as een hoed wanneer dit by hierdie gewilde reeks kom. Dean-Richard Olivier, wat die rol van Anton speel, is een van die talentvolle skrywers wat al op Arendsvlei gewerk het.

Vertel asseblief meer van wat jy ook agter die skerms by Arendsvlei doen?
Ek was vir ‘n tyd lank een van die skrywers by Arendsvlei. Hier het ek saam met skrywers soos Wilmien Rossouw en Theltom Masimila gewerk. Dit was my eerste keer wat ek op ‘n TV-reeks gewerk het en ek was bevoorreg om baie by hulle te leer. Ek het ‘n sterk teateragtergrond wanneer dit by skryf kom, so die kamera was ‘n medium wat my kreatiwiteit baie getoets het. Ek was deel van die skryfspan vir die tweede seisoen van Arendsvlei, maar op die oomblik is ek besig met ‘n splinternuwe reeks waaroor ek ongelukkig nog nie veel kan sê nie. Al wat ek kan sê is dat dit iets anders is om na uit te sien.

Wat is vir jou die grootste uitdaging om voor én agter die kameras te werk?
Ek het nie enige spesifieke uitdagings ervaar nie, dit was vir my baie pret. Om voor en agter die skerms te kon werk het vir my 'n beter prentjie geskep van die volle storie, die impak van storie, die bou en verhoudings tussen karakters en so aan. Ek kan wel sê dat as skrywer is dit soms 'n uitdaging om nie persoonlik te raak wanneer jy een van die karakters ook vertolk nie, so jy moet leer om jouself op 'n afstand te hou wanneer jy skryf.

Is daar dalk nóg iets wat jy graag op die produksie wil doen?
As regisseur. Ek dink dit sal ongelooflik wees om bietjie meer te kan leer oor regie. Hoe om alles saam te knoop en 'n storie te skep. Ek dink dit sal my soveel meer kennis en perspektief bied. Dis iets wat ek baie graag nog wil probeer. Ek sal ook 'n draai wil maak by die kunsdepartement. Ek is baie lief vir kuns - om te plak, skeer, knip, verf en te bou is een van my stokperdjies. Om stelle te kan bou vir sepies en flieks sal my so gelukkig maak.

Wat geniet jy die meeste van jou werk agter die kameras?
Ek kry die geleentheid om nie net toneel te speel nie, maar ook om stories te skep. Om te skryf laat my toe om in my verbeelding te spring en saam met die karakters lewe te skep. Ek geniet dit ongelooflik baie om karakters te buig, te bou en te toets en skryf gee my die geleentheid om dit te doen. Die kennis wat ek ook opdoen weens die navorsing wat gedoen moet word wanneer jy oor 'n sekere tema of onderwerp skryf, is vir my pret.

Hoekom dink jy het Arendsvlei so in kykers se harte ingekruip?
Ek dink en glo daar is verskillende redes vir elke kyker, maar een van die redes is omdat so baie van ons onsself, famile en vriende in hierdie karakters sien. Die stories is stories wat baie van ons op een of ander manier ervaar het. Dis lekker om saam met 'n karakter te kan lag, kwaad te word en te huil. 

Arendsvlei saai Maandae tot Donderdae om 20:00 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145) uit.