Logo
Arendsvlei S5 Slim BB
web uni tv guide

Arendsvlei

145Telenovela13

Arendsvlei se nuwe leerlinge (Deel 2)

Nuus
08 Oktober 2021
Leer ken die nuwe leerders van Hoërskool Arendsvlei!
A3

Lisa-Maree Bruiners is Michelle, ’n graad 12-leerling by die skool. Sy is uitgesproke, wild, maak baie grappe, maar weet hoe ver sy kan gaan sonder om in die moeilikheid te kom. Almal het ’n sagte plekke vir haar. Sy is kompeterend en maak altyd tyd vir Ezra, maar wanneer sy nie die aandag kry wat sy wil hê nie of Ezra kry meer aandag, kan sy bitter venynig wees.

Vertel meer van jouself. Waar kom jy vandaan, hoe het jy in die vermaakwêreld beland en hoe het jy die rol in Arendsvlei gekry?

Ek is van Kraaifontein en wou nog altyd ’n performer gewees het. Ek love die verhoog, hou van sing, hou van lag, hou van die kunste. Dis ’n diep passie van my. Ek was nege toe ek in ’n Kers-produksie by die kerk was. Ek was elke liewe jaar Maria – dis hoekom daar mense is wat my nou nog Lisa-Maria noem.  Op laerskool het ek ’n onderwyser gehad, Joey Erasmus, wat vir ons dramaklasse gegee. Hy het my baie geleer. Op hoërskool by Bernadino Heights het ek ook aan al die produksies deelgeneem. My groot droom was om drama op Stellenbosch te studeer, maar ek het nie keuring gekry nie. Ek het ’n BA-graad met teaterstudies gedoen, maar toe ek ’n tweede keer weer nie keuring kry nie, het ek oorgegaan na City Varsity om drama te studeer en waar ek nou in my tweede jaar is.

Ek het by ’n agentskap aangesluit en deur hulle ’n oudisie vir Arendsvlei gekry, eers vir ’n ander rol en toe vir die rol van Michelle. Ek het sommer geweet ek gaan goeie nuus kry nadat ek die oudisie tape gestuur het, maar met my tweede oudisie was ek so op my senuwees dat ek gedink het dit was net goed genoeg dat ek ’n oudisie vir Arendsvlei gedoen het. Toe bel my agent en sê daar was fout met die klank en ek moet die oudisie weer gaan doen. Ek glo dit was God se plan, want sewe dae ná hierdie oudisie het my agent gebel om te sê ek het die rol gekry.

Wat hou jy van jou karakter? Het julle enige raakpunte?

Sy hou van lag en doen net genoeg om nie in die moeilikheid te beland nie. Ek dink ek kan die rol goed vertolk omdat daar soveel raakpunte is. Ek wil nie te veel uitpraat nie want ek wil nie te veel weggee nie, maar ek sal dalk in die toekoms meer kan vertel wat met my gebeur het toe ek op hoërskool was en hoekom ek so emosioneel raak wanneer ek oor Michelle praat. Ek love die karakter en is mal daaroor to bring her to life.

Wat is jou drome vir die toekoms?

My groot droom is om teater te doen. Behalwe die skoolproduksies, was ek nog nooit in ’n ware teaterproduksie nie. Ek wil graag groot plays en musicals te doen en saam met mense soos Veronique Jephtas en Marlo Minnaar te werk. Ek sal ook graag ’n play wil skryf. En natuurlik sal ek graag Broadway toe wil gaan en kyk of ek ’n kans kan kry. Ek dink die verhoog is ’n baie spesiale plek.

As jy Arendvlei in drie woorde moet beskryf, wat sal dit wees?

You make dreams come true met die laaste drie woorde uitgelig. Dreams come true. Dankie aan Arendsvlei wat my drome laat waar word het.

Chanté Grainger is Jamie-Lee Kampher, ’n slim meisie wat wat dikwels in die agtergrond verdwyn. Sy sluit by die debatklub aan en sy bevriend vir Ezra wat haar bietjie uit haar dop laat klim. Jamie-Lee sou graag meer selfvertroue wou hê, maar nie noodwendig die middelpunt van almal se belangstelling nie. Sy is gedurig alleen en dit vreet aan haar.

Vertel meer van jouself. Waar kom jy vandaan, hoe het jy in die vermaakwêreld beland en hoe het jy die rol in Arendsvlei gekry?

Ek is van Uitsig in Kaapstad, gebore en grootgeword. Ek het met drama en toneel begin toe ek nog baie klein was. Ons het baie toneelstukke in die kerk opgevoer, gesing en gedans. Mense het toe al gesê hulle kan sien ek is ‘n entertainer. Op hoërskool het ek dit ernstig opgeneem en drama as vak geneem. Ek moes in matriek besluit het wat ek wou doen en daar was teenkanting, maar ek het geweet dit sou uitwerk.

Ná skool het ek drama op Universiteit Stellenbosch studeer en verlede jaar het ek gegradueer. Ek het met mense soos Nicole Holm en Stian Bam, om net ’n paar te noem, te doen gehad en baie geleer.

In die begin van die jaar was daar baie oudisies en ek het moedeloos begin raak omdat ek niks gekry het nie. Met die oudisie vir hierdie rol het ek geen verwagtinge gehad nie, maar ek was so bly toe ek hoor ek het dit gekry. Ek het nuwe hoop gekry en is baie dankbaar vir die kans. Hulle het twee karakters gestuur en ons kon vir al twee ’n oudisie doen, maar ek het besluit ek gaan net een doen. Die week daarna het ek ’n boodskap van my agent gekry om te sê ek het die rol gekry.

Wat hou jy van jou karakter? Het julle enige raakpunte?

Ek hou daarvan dat sy ‘n goeie voorbeeld stel, maar soms gebruik sy dit om ‘n ander doel te bereik. Die personeel hou van haar omdat sy hierdie ster-leerder is so hulle sal altyd haar kant kies, maar soms gebruik sy dit om ander te manipuleer. Ek dink nie ek is soos sy nie, maar ek probeer altyd die regte ding doen. Jamie wil op ‘n sekere manier gesien word en ek seker ook.

Wat is jou drome vir die toekoms?

Ek wil nou net blom in my loopbaan. So veel as moontlik doen. Ek wil aksieflieks doen, internasionale werk. Dit klink dalk vergesog, maar ek glo dit kan gebeur. Ek wil die hele tyd myself uitdaag en so veel moontlik produksies doen en my loopbaan so bevorder, dat ek ’n huishoudelik naam word.

As jy Arendvlei in drie woorde moet beskryf, wat sal dit wees?

Lekker, lieflik en vol drama.

Arendsvlei saai Maandae tot Donderdae om 20:00 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145) uit.