Logo
Arendsvlei S5 Slim BB
web uni tv guide

Arendsvlei

145Telenovela13

Arendsvlei se Curtley: ‘Die probleem lê by die boelie, nie by jou nie’

Nuus
11 Februarie 2022
Sportiewe Curtley droom groot
thumbnail Joshua 1

Toe hy die rol van Joshua Meyer in Arendsvlei gekry het, het die jong akteur Curtley Pitt self pen op papier gesit om sy karakter vir homself uit te bou.

Vertel ons meer van Joshua.

Ek het vir Joshua ’n karakteranalise geskryf sodat ek hom kan uitbou. Vir my is Joshua die volgende: 18 jaar oud en in matriek. Sy ouers lewe nog en hy is die enigste kind, maar ons family is nie all sunshine and rainbows nie. My pa het ’n alkoholprobleem en wanneer hy dronk is, abuse hy my. Wanneer hy nugter is, is hy OK. My ma is my alles en sy vat die punches vir my. Die ander leerders het ’n soft life en hulle weet nie van struggle nie. Diep binne wil ek ook so gelukkig soos hulle wees. Dit voel of niemand oor my worry nie. Ek weet nie wat ek na skool wil doen nie. My pa dink ek gaan rugby speel, maar ek wil gaan studeer want ek’s skerp genoeg vir dit.

Hoe verskil jy van Joshua?

Joshua glo om mense af te druk sal hom beter laat voel. Ek aan die ander kant glo deur mense te help groei en te sien hoe jou hulp hulle laat groei, gee vir jou die beste gevoel ooit! Joshua los sy probleme op om verbaal mense af te druk en ook fisies mense seer te maak. Ek aan die ander kant los konflik op deur te communicate met my medemens en dinge te sien uit hulle perspektief eerder as my eie perspektief. ’n Storie het altyd twee kante, maar Joshua glo net aan sy storie en aan sy manier van dinge doen.

Was dit vir jou maklik om te flirt in die tonele waar dit nodig was?

Ja, dit was maklik. Ek was in karakter gewees toe ek die toneel doen. My karakter hou van aandag en om voor op die wa te wees. Om met die juffrou te flirt het daardie kant van hom gewys. Ek het die ervaring geniet, want my persoonlike doelwit is om elke oomblik op stel te geniet, om my passie voluit te leef. Ek is altyd in karakter wanneer ek opvoer. My persoonlike gevoelens en manier van dinge sien los ek buite.

Wat is jou raad aan kinders wat geboelie word?

Kinders wat geboelie word moet nie voel asof hulle nie goed genoeg is nie. Hulle moet weet dat die probleem by die boelie self le. Die boelie is nie gelukkig met homself nie. So hy/sy druk ander mense af om goed oor hulle self te voel. Meeste van die tyd is hulle bang om te wys wat hulle omstandighede is. So hulle is geneig om “fake” te wees, want hulle wil wegsteek hoe gebroke hulle eintlik van binne voel.

Watter ander planne het jy vir die res van die jaar?

Ek is nie net ’n TV-akteur nie. Radio, stemwerk, TV-aanbieding, teater en om toneelstukke te skryf is nog ’n passie van my. Hierdie jaar hoop ek om meer geleenthede te kry in hierdie verskillende kategorieë en om naam te maak, veral in radio, TV-aanbieding en stemwerk. Nog ’n groot doelwit is om my toneelstuk, Mooiplaas, in teaters by feeste op te voer. Op die oomblik wag ek vir terugvoer van die KKNK en die Nasionale Kunstefees. Ek se altyd ek is nie ’n akteur nie, maar ’n kunstenaar

Jy het self ’n loopbaan as rugbyspeler oorweeg. Mis jy rugby?

Rugby sal altyd ’n groot deel van my wees, maar kuns het my hart gesteel. Ek sal vir altyd rugby ondersteun, maar om ’n kunstenaar te wees beteken alles vir my.

Wat doen jy oor naweke?

Ek hou van buitemuurse aktiwiteite, soos hiking, touch rugby met my vriende of vyf aan ’n kant sokker met my vriende. Ek kyk ook sport oor die naweek - rugby en sokker. Ek is ’n baie groot Man City-ondersteuner. As ek nie dit doen nie, spandeer ek tyd met my meisie en doen aktiwiteite met haar of ek braai saam met my vriende.

Het jy enige verskuilde talente?

Ander talente: Swem, tweekamp, rugby, atletiek, sokker, rap, script writing, teater, stemwerk, radio-aanbieding, TV-aanbieding. Ek het op skool volkleure vir atletiek gekry en was in 2013 die beste junior atleet in my skool. Ek het halfkleure vir rugby gekry en halfkleure vir tweekamp.

Skakel elke Maandag tot Donderdag om 19:30 in en bly op hoogte met al die drama!