Logo
Arendsvlei S5 Slim BB
web uni tv guide

Arendsvlei

145Telenovela13

Arendsvlei-akteurs bring hulde aan Shaleen Surtie-Richards

Nuus
12 Oktober 2021
Kykers moes verlede week afskeid neem van die legedariese aktrise Shaleen Surtie-Richards, toe sy haar laaste verskyning maak in kykNET & kie se eerste telenovelle, Arendsvlei, as Muriel Foster.
TROUE 4

Muriel het ’n draai in Arendsvlei kom maak om haar enigste kleinseun se troue by te woon. Maar kort ná die onvergeetlike troue het sy besluit om weer haar goedjies te pak en terug te keer na die skepe waar sy al die jare gewerk het as ’n verpleegster.

Sy het vir haar seun, Lionel (Jody Abrahams), ’n pragtige brief gelos wat lees: “My liefste Baltjies. Jammer dat ek soos ’n dief in die nag uit die huis verdwyn het, maar my tyd in die Vlei het tot ’n einde gekom. Ek het ’n call gekry van ’n skip wat wag en ek moet op hom wees voor die water invaar. Dit was heerlik om by die wedding te kon wees en te sien hoe jy jou laaitie so beautifully accept het. Jy’t ’n seun ryker geword en ek het nog ’n kleinseun bygekry – wat meer kon ek vra. Liefde vir julle. En sê vir Janice ek het een van haar lekker-ruik sepies in die badkamer saam my gevat. Soetwees Baltjies. Mammetjie.”

Shaleen het in Junie vanjaar ’n paar dae ná die opname van haar tonele onverwags afgesterf en vir ewig ’n leemte in ons harte gelos.

’n Paar Arendsvlei-akteurs deel wat dit vir hulle beteken het om vir Shaleen saam met hulle op stel te hê.

Celeste Matthews (Gertie Cupido)

“Die eens lewenslustige wyle Shaleen Surtie-Richards was enig in haar talent en het ’n groot impak op ons kreatiewe landskap gehad – as 'n geliefde aktrise op ons verhoog én skerms. Shaleen was reguit, sterk, mededingend, ’n spanspeler en ’n geloofwaardige kunstenaar. Sy was ook ’n besonderse vriend en mede-ster, en iemand wat ek sonder twyfel sal mis en aanhou treur,” sê Celeste.

Jolene Martin (Beatrice Cupido)

“Om saam met antie Shaleen te werk was ’n droom wat waar geword het. Sy was die eerste een wat Kaaps gepraat het op ’n groot televisiereeks wat ek as kind gekyk het. My mooiste herinneringe van haar sal altyd wees in die bussie wat ons huistoe neem ná ’n dag se verfilming. Sy het altyd staaltjies en waardevolle lesse met ons gedeel. May se rest in Power,” sê Jolene.

Melanie du Bois (Ronel Martins-Cupido)

“Shaleen het nie sommer reëls gevolg nie, sy het altyd van die hart gelei en haar waarheid geleef. En dit terwyl sy ons vermaka het! As ek haar in ’n paar woorde moet beskryf, sal dit classy, sassy and a total bad ass wees. Sy leef voort in ons almal wat die geleentheid gekry het om saam met haar te werk, haar te ontmoet of sommer net te sien hoe sy keer op keer magic op ons skerms maak,” vertel Melanie.

Crystal Donna Roberts (Janice Cupido)

“Wat ek die meeste onthou (op stel) is haar massiewe wysheid met ’n aansteeklike stoute sin vir humor en die oop hart waarmee raad en insig gegee was,” sê Crystal.

Roberto Kyle (Lee-Roy Rossouw-Foster)

“Dit was een van die grootse vreugdes, nie net van my loopbaan maar ook van my lewe, om saam met antie Shaleen te kon werk. ’n Hart wat kan bars met lewe, goedheid en omgee vir ander, is wat sy gehad het. Sy het my lewe geraak – en die wêreld is vandag ’n beter plek as gevolg van haar,” sê Roberto.

Craig Adriaanse (Wesley Rossouw-Foster)

“In my kinderjare het ek antie Shaleen op televisie gesien en na haar op gekyk, ek het dit ook vir haar genoem! Sy was so snaaks op stel, sy't elke dag ’n glimlag op jou gesig gesit. Om in haar teenwoordigheid te wees, was ’n kinder-droom wat waar geword het. Dit was soveel fun om die troue met antie Shaleen te skiet, ons het gedurig as ’n cast tussen tonele vir haar grappies gelag,” vertel Craig.

Roberta Jansch (Kreatiewe vervaardiger van die telenevolle)

“Almal was mal daaroor om Shaleen op die stel te hê. Haar warmte, grappies en absolute liefde vir die kuns was altyd daar. Sy het elke oomblik op stel geniet en was mal oor die rol van Muriel Foster. Ons mis haar baie,” sê Roberta.

Theltom Masimila (Mede-kreatiewe vervaardiger, Hoofskrywer)

“Dit was ’n absolute voorreg om Shaleen op Arendsvlei te hê tydens seisoen twee en drie van die reeks. Ek was baie opgewonde toe sy instem om die rol van Muriel Foster te speel en kon nie wag om haar op stel te ontmoet nie. Ek was vir baie jare ’n groot aanhanger van haar en toe kry ek die geleentheid om haar laaste TV-rol vir haar te skryf. Dis die grootste present ooit. Shaleen kon selfs ná haar dood kykers laat skaterlag en as ons haar vir ewig kon hou dan sou ons dit sonder twyfel doen,” sê Theltom.

Ons sal vir Shaleen vir ewig onthou. Rus sag, ons eie Mammatjie.