Logo

April-bederf met nuwe reekse

Nuus
07 April 2015
Vuurwarm kykgenot lê hierdie maand op kykNET voor.
Jou Show Emo

Vuurwarm kykgenot lê hierdie maand op kykNET voor.

Jou Show-aanhangers kan regmaak vir dié program se terugkeer. Dis egter nie die enigste ou bekende wat weer op die kassie gaan verskyn nie. Verder is daar splinternuwe reekse om na uit te sien.

Proesstraat

Woensdae om 21:00

Na drie suksesvolle reekse is die Proestraters (Melt, Pierre, Wikus en Cindy) terug om ons maagspiere behoorlik te laat kielie.  Waldi Schultz keer terug vanuit Amerika, en Nina Swart en Pedro Kruger is ons nuwe spelleiers.  ’n Splinternuwe reeks wat jou behoorlik gaan laat PROES!

In die eerste episode, wat op Gekkedag uitgesaai is, het ons gesien hoe Waldi sy vriende in Proesstraat met sy tuiskoms verras het.



Kampkos

Donderdae om 17:30

Wanneer ’n mens kamp, wil jy eenvoudige maar smullekker maaltye voorberei. As jy dit boonop met vriende en familie kan deel, eet jy nie net lekker nie; jy kuier nét so lekker.

Kampkos is ’n uitbreiding van SleepTV, en kykers kan uitsien na ’n reeks vol lekker kamp-kuiers saam met die aanbieders John-Henry Opperman en Beáte Olwagen.

In die eerste episode was tannie Poppie Coetzer een van hul gaste.

Springbok Stories

Vrydae om 17:30

Kom leer ons helde beter ken wanneer aanbieder John van Rensburg huidige en oud-Springbokke besoek. Van Rensburg hou die atmosfees lekker lig, en gee die Bokke kans om die storie agter die storie met kykers te deel.

Leef jou reis

Vrydae om 21:00

“Travel is like reading a book, those who do not travel only read one page.” Saint Augustine

’n Reis met ’n verskil. In die derde reeks van Leef jou reis gaan Gerrie Pretorius dieper delf om onder ’n bestemming – en sy mense – se vel te kom. Afrika en interessante oorsese plekke word besoek.

’n Ierse avontuur is eerste op die lys.



Jou Show

Vrydae om 21:30

Jou Show is terug op die kassie, met lekker gaste, optrede en nóg beter poetse. Dit beloof om te beïndruk. Waar anders gaan jy ooit vir Kevin Leo van die Soweto-torings sien afspring? Vir Louis Loock sien regopstaan-roei? En vir Wicus van der Merwe as ’n fopdosser sien?

Emo is steeds aan die stuur van die skip, met Wicus van der Merwe wat ons gaste deur allerhande ditjies en datjies vat. Dan bring ons ook ’n paar splinternuwe poetsbakkers aan boord.

Safari 4x4-roetes

Maandae om 17:30

Safari 4x4-roetes slaan hierdie jaar met hul 8ste reeks ’n splinternuwe blaadjie om. Tydens die afgelope 7 reekse het André de Villiers, 4x4 spesialis, die kykers touwys gemaak oor hoe om 4x4 te ry in moeilike terreine en omstandighede, en allerande wenke gegee en tegnieke demonstreer. Dit alles was ter voorbereiding vir die gróót toets – om in Afrika te gaan 4x4 roetes ry en dus op safari te gaan! Omdat dit glad nie wys is om Afrika, of die onbekende, alleen aan te durf nie, besluit André om vanjaar ’n spesiale gas saam met hom op sy roetes te neem. Die spesiale gas is die bekende Petri de Wet van Hier Gaan Ons Alweer.

’n Ander wêreld – met Coenie

Begin 12 April om 20:00

In dié nuwe dokumentêre reeks nooi gesoute en bekroonde aanbieder Coenie de Villiers kykers om plekke en mense te besoek wat hulle moontlik nie normaalweg sou doen nie. Hierdie onbekende wêrelde verg nie dat kykers op ’n vliegtuig klim om na ’n ander land te reis nie: dis ’n “ander” wêreld wat vlak onder die oppervlak van ons daaglikse bestaan lê. Die program stel ons voor aan mense wat hul harte oopmaak oor hul eie bestaanswerklikheid. Dis dikwels ’n wêreld waaroor ’n mens wonder, maar waaraan ’n mens min aandag gee.

MegaBoere

Begin 14 April 2015 om 20:00

Daar is al gesê 20% van Suid-Afrika se boere verskaf 80% van die land se kos. MegaBoere is ’n landbousake-program met ’n persoonlike aanslag. Die aanbieder, Dr Piet Croucamp, stel in elk van die dertien episodes een van die suksesvolste boere in die land aan die kyker bekend en stel eerstehands vas wat hulle suksesvol maak. Die reeks ondersoek die grootste landbou-uitdagings en hoor watter oplossings die land se superboere daarvoor bied.

Terug na Egipte

Begin 14 April om 20:30

Terug na Egipte is die reeks wat volg op Vlug na Egipte.

Dit is vier maande later en die inwoners van Breipaal wat ons nou al goed ken, leef hul lewens voluit. Daar is twee nuwe “inkommers” op die dorp: Woestyn (gespeel deur Adrian Alper) en Pieter Wolf (André Weideman). Beide van hulle gaan van die eerste dag af moet besef dat daar nie iets soos ’n ‘geheim’ op Breipaal bestaan nie, en dat die Karoliete onwrikbaar saamstaan wanneer hulle voel dis nodig.