Logo
Oppiestoep
web uni tv guide

Oppiestoep

145GeselsprogramPG

Afrikaanse Taalraad vereer taalvoorstanders

Nuus
21 November 2018
Lees meer.
KLOP

                                          Heindrich Wyngaard. FOTO: Claudia Witbooi

Sewe Kokertoekennings is die afgelope Vrydagaand in Pretoria by die sesde Kokerfunksie van die Afrikaanse Taalraad (ATR) uitgedeel. Die toekennings word jaarliks uitgedeel aan mense uit alle agtergronde wat Afrikaans in verskeie taalfunksies aktief bevorder, beskerm of die sprekers deur Afrikaans bemagtig. Ter viering van die Taalraad se tiende bestaansjaar is ’n dekadeboek ook bekendgestel, waarin verskeie rolspelers hul ervaring van die ATR-landskap oor die afgelope dekade deel.

Die TV-aanbieder en joernalis Heindrich Wyngaard, ’n voorstander van ’n vriendelike, inklusiewe Afrikaans, het die Koker vir die bevordering van Afrikaans ontvang. “Hierdie toekenning gee erkenning aan my ma en die anties wat saam met haar op die uieland gewerk het. Dis waar ek voorskools my Afrikaans geleer het: in die koelte onder die plaaslorrie. Dit moedig my ook aan om meer te doen vir die opheffing van bepaald bruin en swart Afrikaanssprekendes wie se beeld steeds nog dié van ‘tekortskietende wesens’ in Jakes Gerwel se woorde is.”

Die Koker in die beskermkategorie het aan prof. Ina Wolfaardt-Gräbe gegaan. Sy het die voortbestaan van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, die enigste Afrikaanse akademiese tydskrif met internasionale aansien, verseker. Volgens Wolfaardt-Gräbe het ’n gasredakteur die tydskrif onlangs bestempel as “een van die laaste vestings van Afrikaans as akademiese taal”.

LEER KEN HEINDRICH WYNGAARD VAN NADER

Vanjaar se bemagtigingstoekenning het gegaan aan vader Vernon Macaskill Meyer as verteenwoordiger van die Oratorium van Sint Filip Neri van Oudtshoorn. Meyer en sy kollegas bedryf die Afrikaanse Taalapostolaat van die Konferensie van Suider-Afrikaanse Katolieke Biskoppe onder die vaandel van die Afrikaanse Taal Pastorale Streek. Hulle werk behels onder meer die verskaffing van amptelike Afrikaanse vertalings van kerkdokumente en geestelike en pastorale leesstof in gedrukte en elektroniese formaat.

Drie jeugtoekennings is op die aand ontvang deur YOMA (Claudia Witbooi), Nico Scheepers en Sonia Elie. YOMA het as kletsrymer met haar album Moedertaal ’n wye bewustheid geskep oor die belangrike rol van Afrikaans as moedertaal onder veral jong vroue. Nico Scheepers, dramaturg en regisseur, maak sedert 2014 sy merk op die Afrikaanse teaterlandskap met innoverende tienertonele. Sonia Elie bedryf ’n boekwinkel, Die Boekfeetjie, uit haar huis in Eldoradopark. Sy bevorder ’n leeskultuur in Afrikaans vir kinders, maar veral ook vroue deur middel van boekklubs en boekbesprekings.

’n Spesiale Kokertoekenning is oorhandig aan Sakkie Kotze vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaans deur die bevordering van gehalteonderwys en onderwysleierskap. Hy het ook ’n wye reeks dinamiese kultuurprojekte in Afrikaans en oor taalgrense heen geïnisieer. Hy sê hy is baie lief vir Afrikaans en praat dit met trots. “Dit bly ’n voorreg om ons taal op allerlei wyses te bevorder.”

Die ATR se dekadeboek kyk nie net terug op die afgelope tien jaar se hoogtepunte en uitdagings (steil hellings, diep slote en ontwrigtende padversperrings) nie, maar ook op vordering met alliansiebou, en jongmense se begeesterde liefde vir hul moedertaal. Buiten die terugskouing, roep die boek die leser op om saam met die ATR die uitdagings van die volgende tien jaar aan te pak.

“Tale is ’n belangrike bate op Suid-Afrika se balansstaat,” het Japie Gouws, voorsitter van die ATR, by die funksie gesê. “Ons moet hierdie bate gebruik tot voordeel van alle sprekers daarvan, en ook die waarde van veeltaligheid ontsluit tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.”

Tim du Plessis, hoof van aktuele sake by kykNET en die genooide spreker by die geleentheid, het gesê die ATR is ’n belangrike ruimte waarin die gemeenskaplikheid van bruin, swart en wit Afrikaners verken word. Hy het bygevoeg dat dit altyd ’n proses sal wees en nie ’n einddoel nie.

kykNET wil vir Heindrich Wyngaard baie geluk wens op hierdie toekenning. Kom kuier saam met hom elke Sondag om 19:30 op DStv-kanaal 145 in die kykNET&kie-geselsprogram KLOP! .