Voor vlnr.: Zolani Mahola en Kyla-Rose Smith. Agter vlnr.: Josh Hawks, Simon Attwell, Julio Sigauque, Peter Cohen en Shaggy Scheepers.
Die Kaapse rockgroep Freshlyground, wat gehore reg oor die wêreld bekoor, is pas terug ná ’n onlangse toer in Kanada en Amerika. In September is dié groep op die SuperSkouspel-verhoog te sien. Ons het met hulle gesels.
Waar kom die naam Freshlyground vandaan?
Die naam is voorgestel deur die stigter van die groep, Aron Turest-Swartz, nadat hy ’n droom gehad het waarin die naam aan hom deur ’n diep stem geopenbaar was.
Julle is welbekend, plaaslik én internasionaal. Verduidelik vir ons in ’n paar woorde hoe julle die wese van die groep sal beskryf?
Die lede van die groep is almal afkomstig van Suider-Afrika. Ons musiek word nie net geïnspireer deur die res van die kontinent nie, maar ook deur die res van die wêreld. Ons musiek integreer verskillende genres, rasse en ouderdomme, en ons doel is dus om te verenig deur middel van musiek.
Wat inspireer jul musiek?
Ons musiek word geïnspireer deur gebeure om ons, deur ons geliefdes, en deur ons innerlike wesens. Ons vervaardig gereeld musiek om sodoende uiting te gee aan ons innerlike passie.
Is daar dalk ’n loopbaan-hoogtepunt wat uitstaan?
Ons was gelukkig genoeg om saam met Stevie Wonder by die Radio City Music Hall in New York op te tree, waar ons betrokke was by die 46664-konsert. Hierdie was ’n ongelooflike ervaring, en dit was dus ’n groot hoogtepunt vir ons.
Freshlyground toer gereeld. Watter optrede staan uit?
Van Suid-Afrika tot Amerika, tot Japan; dit is baie moeilik om ’n hoogtepunt uit te wys. Ons is alreeds vir die afgelope 14 jaar saam, en ongelooflik dankbaar vir die ervarings wat ons saam gehad het. Ons is ongelooflik dankbaar dat ons hierdie ons werk kan noem.
Freshlyground het onlangs ’n enkelsnit, “Don’t Leave Me”, bekend gestel. Wat is die boodskap wat julle hiermee wil oordra aan aanhangers?
Deur om dit wat ons bymekaar bring te waardeer, en om die tyd wat ons saam het te waardeer. Ons wil die land herinner aan hierdie verbintenis, want hoe verder ons van mekaar beweeg, hoe verder beweeg ons gemeenskap uit mekaar, en hoe makliker is dit vir die donker om ons dus te oorweldig.
Wat lê voor vir Freshlyground in 2015?
Ons is pas terug in Suid-Afrika na ’n maand-lange toer in Kanada en die Verenigde State. Ons sien uit daarna om vir ons aanhangers regoor die kontinent op te tree en om aan nóg ’n nuwe enkelsnit, wat later vanjaar uitgereik gaan word, te werk.
SuperSkouspel vind plaas naby Erfenisdag hierdie jaar, en is een in sy soort. Wat is julle boodskap aan Suid-Afrikaners?
Kom ons vergeet nie van ons geskiedenis, en die onreg wat mense aangedoen is nie. Kom ons kom saam, en gebruik die ervaring en kennis vanuit die verlede om hierdie land ’n mooi plek vir ons almal te maak. Kom ons strewe daarna om respek en liefde nie net aan onsself nie, maar ook aan ons mede-landgenote te toon.
Kan die gehoor enige duette verwag?
Ja! Ons gaan saam met die talentvolle Karen Zoid optree, want Karen en Zolani (Mahola, die groep se voorsanger) is wonderlik saam op die verhoog. Hulle sal ook op 23 en 24 September saam optree by Artscape, saam met die ongelooflike Zanne Stapelberg. Moenie dié optrede misloop nie.
Freshlyground tree op by SuperSkouspel op 19 September 2015.