Logo

Afri-Visie: op die spoor van 'n treffer

Nuus
23 Maart 2015
Op Maandag 30 Maart om 20:30 begin kykNET se liedjieskryfkompetisie, Afri-Visie! Die aantreklike Nico Panagio is die aanbieder, met Joe Niemand, Loyiso Bala en Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties as beoordelaars.

kykNET is trots om aan te kondig dat ons binnekort ‘n unieke en dinamiese koers inlsaan ten opsigte van Afrikaanse vermaak én televisie-innovering. Die loods van ons Afri-Visie – “Skryf ‘n Treffer”-kompetisie het die musiekwêreld aan die gons.

Dié unieke platform, waarvan die eerste episode op die 30ste Maart om 20:30 op kykNET geloods word, vorm die basis vir kykNET se soeke na nuwe, vars en oorspronklike Afrikaanse liedjies. In hierdie die geval is die liedjie egter die ster in die verhaal en die skryf daarvan die deurslaggewende faktor.



Die program met Eurovision as inspirasie word aangebied deur televisie- en aktualiteitsster, Nico Panagio. Dié veteraan spog natuurlik met 15 jaar ondervinding in die vermaaklikheidsbedryf en het al gesig gewys in verskeie verhoogproduksies en lokkettreffers.

Saam met Nico is Afri-Visie bevoorreg om as beoordelaars die dienste van musieklegendes Loyiso Bala, Pierre Greeff en Joe Niemand te kon bekom. Hulle ervaring met uiteenlopende musiek-genres maak hulle die ideale keuses en die unieke insette wat hulle deelnemers kan bied is van onskatbare waarde. Al hierdie elemente beloof om as katalisator te dien vir die volgende groot Afrikaanse treffer.

*Lees meer oor Nico en die beoordelaars.

Altesame 1575 liedjies deur 411 liedjieskrywers is ontvang en in die eerste episode word daar geloer wat gedurende die uitdunne gebeur het. Ons ontmoet vername gaskunstenaars soos Bouwer Bosch, Danie Niehaus, Hunter Kennedy, Matthys Roets en André Swiegers, en hoor wat dit behels om ‘n trefferliedjie te skryf.

Die tafel is gedek vir ‘n vir ‘n liriekefees wat iets oorspronkliks beloof vir elke fynproewer se oor. Kom geniet die reis saammet ons. 30 Maart, 20:30, kykNET, kanaal 144.

Bravo!-aanbieder Hannes van Wyk het meer oor Afr-Visie gaan uitvind en met Nico en die beoordelaars gesels:



Episode 1
Vanuit die Kaap tot in Kaïro is 1575 liedjies deur 411 liedjieskrywers vir die Afri-Visie Skryf ‘n Treffer kompetisie ingeskryf . In die eerste episode sien ons wat tydens die uitdunne gebeur het, hoor wat die kriteria is vir ‘n treffer, ontmoet ons top liedjieskrywers en hoor die treffers wat deurdring na die volgende rondte.