Logo

Adam Tas en vriende hou konsert vir boere

Nuus
01 Februarie 2016
Die Manna vir die Boere Konsert word op 20 Februarie by die Voortrekkermonument se amfiteater gehou, en Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Kurt Darren en ­Laurika Rauch gaan onder andere optree.
Manna vir die Boere
Adam Tas en sy musiekvriende gaan ’n konsert hou om geld in te samel vir boere wat tans onder droogte gebuk gaan. Die Manna vir die Boere Konsert word op 20 Februarie by die Voortrekkermonument se amfiteater gehou, en Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Kurt Darren en ­Laurika Rauch gaan onder andere optree.

“Boere sorg dat ons elke dag kos het; hulle wy hulle lewe aan die natuur en die grond, maar is ook uitgelewer aan die wette van die natuur. Hulle ervaar nou groot geldnood,” sê Tas.

Om dié konsert ’n werklikheid te maak, het Adam hande gevat met Caring Daisies. Dié liefdadigheidsorganisasie het vroeër vandeesmaand die land aan die praat gehad met die vervoer van amper 2 000 bale voer na boere in Noord-Wes, die Vrystaat en Noord-Kaap.

Anria van Heerden, hoof van Caring Daisies sê: “Ons wil graag vir almal die geleentheid gee om ander mense in nood te help. Die boere het nou hulp nodig. Met die Manna vir die Boere Konsert kan elkeen wat ’n kaartjie koop direk bydra tot hulp vir dié boere.”

Lood Bester van Wildswinkel het van die inisiatief te hore gekom en het dadelik hierdie toonaangewende wildorganisasie se ondersteuning aangebied. Op sy beurt het Louis van der Watt sy eiendomsgroep se ondersteuning deur middel van Atterbury bewillig. Jean Engelbrecht, een van die eienaars van Hinterland Vleishandelaars, het ook Hinterland se finansiële steun aan hierdie projek toegesê.

Onlangs het die motorvervaardiger Toyota en Media24, deur publikasies soos Landbouweekblad en Rapport, hulle ook agter die Manna vir die Boere Konsert geskaar.

Van die gewildste en grootste Afrikaanse sangers gee hulle tyd en talent gratis vir die konsert. Fondse wat ingesamel word sal deur Caring Daisies bestuur en versprei word.

Meer inligting

Datum: Saterdag, 20 Februarie 2016, 15:00-18:00
Plek: Voortrekkermonument, amfiteater
Hekke open: 13:00
Gratis parkering en busvervoer
Kaartjies: Computicket
Koste: R 200 vir volwassenes, R100 vir skoolkinders en gratis vir voorskoolkinders
Verversings (kos en drank) beskikbaar vir eie rekening
Eie piekniekmandjies welkom (geen eie alkohol word toegelaat nie)
Kunstenaars soos: Laurika Rauch, Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Adam Tas, Corlea Botha, Jak de Priester en Jannie Moolman
Musiek en orkes: Onder leiding van Matthys Maree