Logo

Aandele en waagkapitaal in die kollig

Nuus
05 Maart 2015
Divan en Santie vind meer uit oor beleggings en entrepreneurskap.
kn_winslyn_20150303_aandele



Hierdie week se episode van Winslyn het die kollig laat val die aandelemark en waagkapitaal (venture capital).

Eers was Mia Kruger, aandele-ontleder en portefeuljebestuurder van Kruger Internasionaal, in die ateljee om wenke te gee oor hoe om ’n mens se beleggingsportefeulje te struktureer. Die JSE bied ’n uitstekende geleentheid om in baie Suid-Afrikaanse maatskappye te belê, en goeie beleggingsopsies vir 2015 sluit in Discovery, Mediclinic en Woolworths.

Dit is ook belangrik om ’n groot deel van ’n mens se kapitaal na die buiteland te diversifiseer, meen Kruger.

Daarna het Clive Butkow, nie-uitvoerende hoof van Growvest, kom verduidelik wat die voordele van waagkapitaal vir beleggers is, en dat dit ’n al meer lewensvatbare bate-opsie word. Dit is baie belangrik dat maatskappye innoverend moet wees, sê hy.

Volgende aan die beurt was John Nicolakakis, hoof van Roman’s Pizza, wat oor die uitdagings van die voedselbedryf kom gesels het: “’n Mens moet weet wat jy doen.”

Roman’s het 161 plaaslike takke, en dus is Nicolakakis nie te bekommerd oor die aankoms van die Amerikaanse Pizza Hut en Domino’s Pizza in Suid-Afrika nie.

Ryan Bacher, medestigter en besturende direkteur van Netflorist, het kom verduidelik waarheen dié aanlynreus op pad is, en toe is daar via Skype met die jong entrepreneurs Carla Erasmus en Christa Botha oor hul meubelonderneming, Bofred, gesels.