Logo
Bolhuis 1600x160 Slim Homepage
web uni tv guide

Bolhuis

144Realiteitsprogram16

Aan huis met Bolhuis – Bolhuis 2

Nuus
10 Desember 2020
Mike Bolhuis vertel meer oor die tweede reeks van Bolhuis wat in Oktober begin het.
Untitled design (1)

Wat is vir jou die hoofdoel met dié reeks?
Elke persoon in hierdie land – of hy nou arm of ryk, geletterd of ongeletterd is – word deur misdaad beïnvloed. Hierdie is ’n anti-misdaadprogram om mense te help om ingeligte besluite te neem, om misdaad te verhoed en aan te spreek.

Mense kyk graag realiteitsreekse, maar dit word gedramatiseer. Ons s’n is nie vermaak nie, alhoewel dit baie entertaining is. Dit is soos dit werklik is. Ons wys dis nie ’n speletjie nie, maar ’n gewigtige saak. Ek dink ook dis ’n doodskoot vir die stories en gerugte oor my – van my haarstyl, my ongeskiktheid, die manier hoe ek dinge hanteer, my aura en en en. Dit wat jy op die program sien, is hoe ek en die ondersoekbeamptes is.

Ons kyk nie – soos met die eerste reeks van Bolhuis – na die programme voor dit uitgesaai word nie. Ek het die eerste episode saam met die res van die land gekyk en was baie beïndruk. Dis next level en staan gelyk aan enige soortgelyke Amerikaanse reekse. Ek is baie dankbaar vir die harde werk wat die produksiemaatskappy en kykNET in die reeks gesit het. Omdat Rian [van Heerden, die veraardiger] my so goed ken, wys hulle my soos ek is.

Watter groot onopgeloste sake in Suid-Afrika, soos byvoorbeeld Inge Lotz se moord, dink jy kan nog opgelos word?
Ons sit met ’n gros onopgeloste sake, sogenaamde cold cases. Dit is skokkend hoeveel nie opgelos word nie. Baie van hierdie onopgeloste sake is oud en vertroebel deur die outoriteite wat miskien daardie tyd nie die vermoë of infrakstruktuur gehad het wat ons vandag het nie, maar ons is altyd oop vir cold cases. Ons het al baie sulke versoeke gekry. Soos byvoorbeeld met die saak oor Karel Vandekeere wat homself vroeër vanjaar aan die polisie oorgegee het nadat hy sewe jaar op vlug was ná die moord in 2013 op Chantelle Barnard. Dit was nadat ons na hom begin soek en aanhoudende druk uitgeoefen het dat hy homself oorgegee het.

Op watter saak wat jy en jou span opgelos het, is jy die trotsste?
Daar is nie ’n saak wat ek noodwendig as my flagship sien nie. Vir my is dit partykeer die kleinste dingetjies wat ek byvoorbeeld oor die foon oplos wat my die meeste bevrediging gee. Kom ek gee jou ’n eenvoudige voorbeeld: ’n Vrou bel my en sê haar man is verskriklik agressief en hy wil haar die hele tyd bliksem en sy sukkel nou al jare met hom. Wat kan sy doen? Baie keer vra ek net of hy daar is en dan sê ek sy moet vir hom die foon vat. Dan vra ek die man of wat sy vrou beweer waar is en as jy “ja”antwoord, sê ek vir hom as hy nou weer aan sy vrou vat, gaan ek hom halfdoodbliksem en gewoonlik sal die man sê hy het hierdie talk nodig gehad en kan hy my kom sien om hom te rehabiliteer.

Daardie sake is vir my net so nice soos wanneer ons ’n moordenaar of verkragter gevang het. Ek waardeer daardie boodskappe wat ek kry waar mense sê ek het ‘n verskil gemaak. Ek sien myself as gereedskap in die hande van die Here God en die publiek. As jy ’n dienaar is, sal jy die meeste geag word. Ons kan natuurlik nie almal help nie. Twee Suid-Afrikaners het vier opinies en vyf kerke. Baie mense dink as hulle na my toe kom, swaai ek so ’n septertjie en dan is alles f****n reg en weg. Dit is nie hoe dit werk nie en die reeks wys dit.

Mense besef nie dat jou selfoon meer van jou sê as een van jou druppels bloed nie. As ek jou selfoon het, het ek álles. Al-les. Insluitend jou DNA. Jou girlfriend, jou vrou, jou kodes vir jou hekke, jou bankdetails, al jou skelmpies, al jou porn, alles wat jy te sê gehad het oor Ramaphosa, al jou rassistiese uitlatings en dreigemente. Alles is daar. Maar gaan ons publiek luister? My skat, nee, want hulle is verslaaf aan k*k praat.

Wat kan mense doen om hulself teen swendelaars te beskerm?
Moet geen groot besluite oor jou foon neem nie. Kry raad by kenners oor enige finansiële besluite. Alles gaan oor geld. Daar is misdade wat dalk ’n emosionele sy het, maar meestal gaan dit oor geld. If it sounds too good to be true, it is. Pasop vir identiteitsdiefstal en foto’s wat gemanipuleer word. Ek kan ’n foto van jou neem en jou in die bed saam met drie mans sit. Photoshopping is die nuwe ding. Kubermisdade is ’n groot gevaar.

Wat is die een ding van jou wat mense die meeste misverstaan?
Daar is ’n paar, maar ek dink die hoofding is hulle dink ek is ontoeganklik en so hard en taai. Mense vra dalk hoekom is Mike so hard op die druggie? Hoekom praat hy so reguit met die man wat sy vrou bliksem? Ek is nie daar om mense te beïndruk nie. Ek is daar om misdaad aan te spreek en dit op te los. Mense moet my nie op my baadjie takseer nie. My versoek aan die publiek is altyd om na dinge in konteks te kyk – wat is ‘n persoon se doel in sy lewe? Daar is ’n rede hoekom ek is soos ek is.

Wat was vir jou die positiefste van die grendeltyd?
Ek sou sê die introspeksie om te sien hoeveel brode jy eintlik onder jou arm het terwyl jy steeds kla.

Ook die versterking van familie- en spesifiek gesinsbande. Dan was daar die bewusmaking dat die wêreld op sy knieë gebring kan word nie deur ‘n atoombom nie, maar deur die kleinste dingetjie wat leef. Dis asof God gesê het julle neuk nou rond, kom ek wys julle.

Hoe nietig is die mens? Besef die mense werklik hulle is nie God nie? Ons moet ophou rondf*k. Ons moet die natuur en mekaar respekteer. En ons moet skoon en netjies wees.

Ander ding wat my heavy geslaan het, is hoe verslaaf hierdie land aan drank en sigarette is – die misdaad wat gepleeg is met die gesmokkel daarvan en die knocks en scams as gevolg van die drankverbod en die korrupsie van die regering en die polisie wat daarby betrokke was.

Ons land se nasionale gode is sport en drank en sigarette. Mense het in lockdown meer gekla oor drank en sigarette as oor kos wat min op die rakke was.

Wat is die grootste uitdaging vir Suid-Afrika? Wat is daardie een ding wat ons almal moet doen om by te dra tot ’n suksesvolle land?
Naasteliefde. Hierdie land kan nie voor en agter “Liewe Jesus” sê en ’n Bybel onder die arm hê en nie naasteliefde hê nie. Daar is mense wat sal vra maar wie is jou naaste? Jy kan nie Die Bybel spoeg en plak soos dit jou pas nie. Naasteliefde beteken die persoon naaste aan jou. Dis jou buurman, jou vrou, jou kinders, die mense wat jy raakloop by die skool. Dis die man wat in jou tuin werk en die vrou wat in jou huis werk. Dis jou werkers op jou plaas.

Nou hier is die bottom line: As jy mense soos f****n k*k hanteer, waarvoor sal daardie persoon jou anders hanteer? Hoekom sal hy of sy jou wil beskerm? Waarom sal hy of sy saam met jou wil staan teen misdaad wat hom of haar dalk net soveel kan beïnvloed?

As daardie pennie net by mense kan drop. Kom ons indentifiseer die gemeenskaplike vyande, soos moord, geweldsmisdade, ernstige ekonomiese misdade, korrupsie in die regering. Daar is aan weerskante van die spektrum, soos byvoorbeeld boere en die EFF, sekere punte waaroor almal saamstem.

Die nadeel deesdae is dat alles oor kleur gaan. Die divide het so groot geraak en rassisme so erg van beide kante dat ek dink die enigste oplossing is vir al die partye om alle wapentuig neer te lê. Daar is geen wenners in oorlog nie. Daar is geen oplossing in rassisme nie. Rassisme is die lont. As jy wil k*k en hare hê, moet jy rassisties wees. End of story.

Bolhuis speel Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.