Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama

5 Hoogtepunte in episode 7 van Nêrens, Noord-Kaap

Nuus
12 Oktober 2021
Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.
Nerens Noord Kaap – Episode 7

Kersfees

Kersfees praat met elkeen van die Adendorffs se harte. Daar is Frans (Geon Nel) wat op die ingewing van die oomblik in sy bakkie klim en na Ronnie (Albert Pretorius) in Kaapstad ry en Andries (De Klerk Oelofse) wat vir die eerste keer in ’n baie lang tyd plaas toe bel. Selfs ou Lourens (Frank Opperman) se hart raak sag wanneer hy uiteindelik instem om saam met die res van die mense van die plaas Kersfees te vier. Mens kan ook sien dat dit sy hart diep raak wanneer Jan-Jan (Dean Balie) en van die ander mans ’n liedjie van vrede sing.

Nog meer stukkies val in plek

Ons weet nou dat die laslappiekomberse wat so belangrik vir die seuns is, deur klein Ronnie (Lehan Swanepoel) gemaak is toe hulle klein was. Ons weet ook dat Lourens snr. ’n beroerte gehad het en dat die seuns op ’n baie jong ouderdom reeds met die dood gekonfronteer is toe oom Kreukel (Corneels Koopman) tydens die Kersopvoering dood is. Lourens het beslis ook nooit werklik oor Katja (Tinarie van Wyk Loots) se dood gekom nie. Daar was ’n tyd wat hy ’n baie gelukkige man was, maar nou is hy in sy bedroefheid en kwaad vasgevang.

Iewers is daar liefde

Die drie seuns se moeilike verhouding met hulle pa kom weer onder die soeklig. Ronnie erken aan Suzette (Daneel van der Walt) dat hy jare laas op die plaas was en Andries is aanvanklik baie kwaad vir Fleur (Melissa Willering) toe sy plaas toe bel en sy pa die foon antwoord. Maar ons besef ook hoe afhanklik Lourens van sy seuns is veral toe hy vir Maggie (Ilse Klink) vra: ‘Frans gaan terugkom, nè?’

Lourens gaan plaas toe

Suzette probeer vir Lourens (Arnold Swart) oortuig dat die oop lug op die plaas hom ligter sal maak. “Ek sal probeer om nie meer so hartseer te wees nie,” sê hy vir haar. Hy neem die boek wat sy vir hom vir Kersfees gegee het – The happy prince and other stories deur Oscar Wilde – saam wanneer hy saam met sy oom Frans plaas toe ry.

Grond

Klein Lina (Taihiyya Jenkins) bring vir Lourens ’n speelgoed-bokkie met ’n klein Kersversiering aan en later die aand praat sy en haar boetie, Tommie (Al-Jerray Jenkins), weer met hom. “Ons huis is klein, want ons is klein,” sê Lina op ’n kol vir Lourens. Wanneer hy dan die volgende oggend vir Jan-Jan wakker maak en begin penne op ’n stuk grond inslaan, is dit aanvanklik nie seker hoekom hy dit doen nie. “Dis jou grond, Jan-Jan,” sê hy dan. “Bou vir jou kinders ’n huis.”

Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.