Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama

5 Hoogtepunte in episode 6 van Nêrens, Noord-Kaap

Nuus
05 Oktober 2021
Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.
Nerens Noord Kaap – Episode 6

Foto-herinneringe


Foto’s van Katja (Tinarie van Wyk Loots) is twee keer deel van episode 6. Eers is daar ’n jonger Lourens (Gideon Lombard) wat met ’n sigaret en drank in die hand na foto’s, wat van skyfieprojektor op ’n laken geprojekteer word, kyk. Jare later maak die ouer Lourens (Frank Opperman) die skyfieprojektor reg en kyk hy, weer met ’n drankglas naby, na foto’s teen die sinkmuur van ’n skuur op die plaas. Al twee kere is dit Frans (jong Frans is Thommi Swanepoel, ouer Frans is Geon Nel) wat sy pa moet help – eers deur te bid dat sy pa gehelp sal word en later deur ’n besope Lourens in die bed te gaan sit.

Die braai


Ronnie (Albert Pretorius) het Suzettte (Daneel van der Walt) gewaarsku dit gaan rof wees, maar niks kon hulle voorberei op die onsmaaklike – en wrede – gesprek aan tafel nie. Dit het gelyk of Ryan (Francis Chouler) nie kon wag om vir Lourens (Arnold Swart) te sê hy gaan nie saam Mauritius toe nie. Sit daarby die nare ouma Olivia (Aletta Bezuidenhout) wat wil hê Lourens moet kosskool toe gestuur word en jy kan verstaan waarom Ronnie en Suzette nie vinnig genoeg Lourens se goed kon pak nie. Gelukkig het Suzette haar stekie na die arrogante Ryan se kant toe ingekry toe sy vroeër na hom, in sy gesig, as Shannon (Natalie Robbie) se beursie verwys het.

Lourens se las


Die las wat jong Lourens (Arnold Swart) dra, is te swaar vir sy jong skouers. Al wat hy wil weet, is of sy maatjie Willem (Leo Geldenhuys) OK is. Daar is ’n konfrontasie met Willem se ma by die hospitaal en later word Lourens as ’n loser uitgekryt op die klas se WhatsApp-groepie. Maar daar is ook ’n video wat iemand vir Lourens aanstuur wat wys wat gebeur het en dat dit Danie was wat die moeilikheid begin het. Die ete by sy ma en stiefpa se huis is net nog ’n klap in sy rigting. Wanneer Lourens later die aand die pad see toe vat, word Suzette genadiglik wakker. “Ons hoef vir niemand te sê nie,” sê sy wanneer Lourens vra wat hulle vir sy pa gaan sê. Dit is duidelik dat die band tussen Suzette en Lourens al sterker word en as daar iemand is by wie sy geheim veilig is, is dit sy.  

Frans en Lorrie


Hy sê dalk hy wil haar nie hê nie, maar dit is duidelik Frans (Geon Nel) wil nie hê ’n ander man moet om Lorrie (Shana Mans) kom draai nie. “Vat verantwoordelikheid vir jou woorde,” sê Shana vies vir Frans wanneer hulle mekaar Sondagoggend by die kerk sien. Later toe Frans vir Lourens op die bed help, sê Lourens vir hom hy moet haar nie verloor nie en hoewel hy nie Lorrie se naam noem nie, weet ons dit is van wie hy praat.

Andries maak oop


Dit is eers nadat Fleur (Melissa Willering) vir Andries (De Klerk Oelofse) van haar eie lewe vertel, wat hy effens oopmaak. Ons weet ook nou dat Katja ’n mediese student in Nederland was wat haar studies opgegee het om vrywilligerswerk vir die Rooikruis in Suid-Afrika te kom doen. Andries vertel ook vir Fleur van Maggie, maar kan haar nie vertel hoe sy ma oorlede is nie aangesien die seer nog te vlak lê. Later gee hy vir haar ’n bandjie met die woord “jakkals” op wat duidelik baie spesiaal vir hom is.

Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.