Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama

5 dinge wat uitgestaan het in episode 3 van Nêrens, Noord-Kaap

Nuus
14 September 2021
Ons kyk terug na 'n paar oomblikke vanuit die derde episode van Nêrens, Noord-Kaap.
5

Die sonde van die vadere

Die kompleksiteit van sommige seuns en hulle pa’s se verhoudings is so oud soos die berge en dit was duidelik in die derde episode. Eerstens was daar klein Lourens (Arnold Swart) wat by die skool geboelie is oor sy pa se skandes by die swemgala. Selfs sy vriend se woorde “jy is nie jou pa nie” was nie genoeg om die seer weg te neem nie. Wanneer Lourens later na Ronnie (Albert Pretorius) gaan, is dit duidelik dat Ronnie enigiets sal doen om Lourens se vergifnis te kry.

Ook Andries (De Klerk Oelofse) se gesprek met Maggie (Ilse Klink) het gewys dat hoewel hy so ver moontlik wil wegbly van die plaas, hy tog besorgd is oor sy pa. Dan is daar Frans (Geon Nel) en Lourens snr. (Frank Opperman) se verhouding wat die beste van tye stram is. Frans is as’t ware gedwing om op die plaas te bly, maar het nie die vryheid om dit te bestuur soos hy wil nie.

Die telefoonoproep

Maggie neem haar kans en bel vir Andries in Thailand en hoewel dit duidelik is dat hy bly is om van haar te hoor, is hy nie reg dat sy te na aan sy hart kom nie. “Wanneer kom jy huis toe, kind? Ons mis jou,” het Maggie gesê, maar Andries kon nie vinnig genoeg die telefoonoproep kortknip nie. Wat sal dit neem vir Andries om weer Nêrens toe te gaan? Hoeveel poskaarte moet daar nog teen Lourens se muur geplak word?

Die liefde is geduldig

Volgens Tannie Jan in die Blue Diamond is die Adendorff-mans “banger vir ’n vrou as vir ’n pofadder”. Frans maak reg om vir Lorrie (Shana Mans) vir middagete te kry – al voel dit vir hom of die hele Noord-Kaap weet van hulle afspraak - maar sy moed begewe hom by die hek van die plaas. Wanneer hy later vir haar sê “ek is te swaar vir jou, Lorrie” en sy agter sy bakkie in die stofpad aanhardloop wonder jy: Hoe lank gaan sy geduldig bly?

Die liefde hou nie boek van die kwaad nie

Niks is toevallig nie. Wanneer Ronnie in ’n oomblik van swakheid nog ’n bottel drank koop en dan vir Suzette (Daneel van der Walt) in die parkeerarea raakloop, kan hy nie gou genoeg wegkom nie. Maar wanneer sy later ongenooid by sy deur opdaag – “Lekker. Ek love ’n braai.” – weet jy sy is ’n vrou wat dieper kyk; iemand wat ’n groot hart agter ’n morsige uiterlike raaksien.

Die liefde is vriendelik

“My naam is Andries en ek praat Afrikaans.” Andries en Fleur (Melissa Willering) se eerste ontmoeting by ’n kroeg in Thailand waar hulle al twee werk, is ’n magiese oomblik. ’n Nederlander soos sy ma. ’n Donkerkop soos sy ma. Sagte oë soos sy ma. Is Fleur die een wat Andries se kruistog in ’n ander rigting gaan stuur?

Skakel elke Dinsdag om 20:00 in vir 'n nuwe episode van Nêrens, Noord-Kaap en onthou dat elke episode ook beskikbaar is op die DStv-app om in jou eie tyd te geniet.