Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama

5 dinge wat uitgestaan het in episode 1 van Nêrens, Noord-Kaap

Nuus
03 September 2021
Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.
NNK BB

Die landskap
Die Noord-Kaap was nog nooit so mooi nie. Suid-Afrika is ’n beeldskone land met landskappe wat wissel van tropiese woude tot woestynagtige leegtes. In die eerste episode van Nêrens, Noord-Kaap het ons gesien watter bekoring hierdie kokerboom-besaaide leegtes kan hê. Voeg daarby Franco Prinsloo se meesleurende musiek en jy wéét: hierdie reeks gaan op ál jou sintuie speel.

Het jy geweet? Kokerbome (Aloidendron dichotomum) is eie aan die Noord-Kaap en dele van suidelike Namibië. Dit is die enigste plek in die wêreld waar hulle voorkom en word so genoem omdat die San en Khoi die bas en takke gebruik om kokers vir hulle pyle te maak. Kokerbome is nie bome in die ware sin van die woord nie, maar eerder ’n vetplant wat aan die aalwyn-familie behoort.

Maggie se verhouding met die Adendorffs
Dit is van die begin duidelik dat Maggie (Ilse Klink) die gom is wat die Adendorffs bymekaar probeer hou. Sy is die een wat by die seuns ’n soen op die voorkop kry, die een wat seker maak Lourens neem sy medisyne, die een wat saam met hom op die troue dans wanneer die dansbaan geopen word. Maar dit is ook sy wat erken dat sy nie die seuns se ma se belofte gehou het nie. “Ek het vir julle ma gesê ek sal na julle kyk, maar ek het nie my belofte gehou nie,” sê sy wanneer sy sien Andries gaan wegloop van die plaas.

Die broers se plek in die gesin
Reeds in die eerste episode word die drie broers se plek in die gesin – en selfs die wêreld daarbuite – vasgelê. Frans (Geon Nel) is die oudste broer wat swaar dra aan die verantwoordelikheid wat dit bring. Ronnie (Albert Pretorius) is ’n losbol met ’n liefde vir die bottel. Vir Andries (De Klerk Oelofse), wat as kind vir ure saam met sy ma na ’n aarbol kon kyk, is die plaas die laaste plek waar hy wil wees. In Andries en Lourens se gesprek is dit duidelik dat hy sy pa – en die plaas – die skuld gee vir sy ma se dood.

Erfgoed, swerfgoed
Wanneer Andries vir Lourens geld vra om te gaan reis en Lourens ’n tjek uitskryf, neem die kyker aan dit is vir Andries. Maar later op die onthaal oorhandig Lourens die tjek aan Ronnie. En dit ná hy reeds die seuns se ma se trouring vir Ronnie gegee het, iets wat Frans gelate aanvaar het. Was dit die laaste strooi wat Andries sy ma se koekblikke laat pak en die pad laat vat het?

Wanneer wêrelde ontmoet
Soos iemand op ’n dag gesê het: In die Noord-Kaap word Engels net as selfverdediging gebruik. Daar was ’n skeut humor in die eerste episode veral met Ronnie se skoonma, die snobistiese Olivia (Aletta Bezuidenhout), wat nie te vinde is met haar dogter Shannon (Natalie Robbie) se huwelik nie. Dit was ook duidelik dat die Noord-Kapers – van Jan-Jan tot Frans en Lourens – nie juis gemaklik met die Engelse taal is nie.

Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.