Logo
Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Dankie, Lottoland

144RealiteitPG

13 jaar se hulp ­– Dankie, Lottoland

Nuus
04 Junie 2021
Huis Jabes se hart van goud.
Lottland Article BB

In vandeesweek se episode van Dankie, Lottoland het Leah en Therese Bam ‘n verskil gemaak by Huis Jabes met behulp van Lottoland.

Ons het bietjie met Adri gesels oor dié veilige hawe vir vroue en kinders.

Wanneer het jy begin met Huis Jabes? 

Huis Jabes is gestig op 1 Junie 2008; vanjaar is ons reeds 13 jaar oud.

Hoekom is dit belangrik dat elke vrou en kind wat by jou aanklop, bederf word met nuwe handdoeke en linne?

Ek sien die nuwe linne en beddegoed simbolies as ‘n nuwe begin.  Dis ‘n nuwe tydperk in hulle lewens met ‘n reinigingsproses na liggaam, siel en gees. (Geen stukkende goed vir stukkende mense nie)

Hoe het Dankie, Lottoland  vir Huis Jabes gehelp met die skenkings?

Huis Jabes is ‘n NPO en ten volle afhanklik van mense met mooi harte, ons kry geen staatsubsidie nie, maar bly in geloof  dat  die Here altyd sal voorsien.  Die geskenke aan die vroue het hul uniek en spesiaal laat voel... bederf wat hul nie vir hulself sou aankoop nie. Die gebaar van diensbaarheid het gebou aan hulle menswaardigheid.  

In die episode word die dames bederf met ‘n spa-dag: Hoekom is dit belangrik vir die vroue om so bederf te word? En wat beteken dit vir hulle?

Baie vroue is fisies verwaarloos en het nog nooit bederf gevoel nie, dit het my hart seer gemaak toe meeste van hul sê dat hul nog  nooit ‘n spa behandeling gehad het nie, vir sommige was dit ook die eerste keer dat iemand aan hulle voete of hande gevat het om mooi te maak. Hulle het baie selfies geneem, en baie mooi en spesiaal gevoel.

Kan jy dalk uitbrei oor van die redes hoekom vroue in hierdie tipe situasies vasgevang word?

Vroue is bang of word gedreig, bv. dat hul kinders van hul weggeneem sal word. Baie vroue ken nie ‘n lewe sonder mishandeling nie, want hierdie siklus van geweld was presies soos hul en hul ma's ook grootgeword het. Soms is hulle oningelig en weet nie dat daar opsies in die lewe is om voluit te kan lewe nie.

Wat is jou raad aan iemand wat die artikel lees en in dieselfde situasie is?

Daar is ALTYD hoop en hulpbronne, moenie stilbly nie, reik asseblief uit. Dis jy as ma en vrou se verantwoordelikheid om hierdie siklus te breek, en al hoe jy ‘n voorbeeld aan jou dogter kan stel om nie dieselfde paadjie te loop nie, is om dit te stop en hulp te vra.

Hoe word die vroue voorberei op die lewe na Huis Jabes?

Vroue word holisties bemagtig, bv. om weer ‘n werk te bekom deur ‘n nuwe CV wat vir hulle opgestel word, ons help hulle om weer behuising te bekom, en met die hulp van donateurs probeer ons ook meubels en huis voorraad verskaf. Dis vir ons belangrik dat hul geestelik versorg is om ‘n nuwe lewe in die oë te kan kyk sonder om afhanklik te wees van ‘n ander persoon.

Kan jy dalk meer vertel oor die proses wanneer die dames by die huis arriveer – is daar berading of iets soortgelyks wat hulle ontvang?

‘n Proses van maatskaplike intervensie word geloods met bv. trauma ontlonting en  hulp om interdikte te bekom.  ‘n Mediese dokter help met wonde en beserings, ‘n sielkundige lewer psigoterapie,  en geestelike groei dmv ‘n Bybelstudiegroep. Die veilige huis benut hulpbronne in die gemeenskap om elke vrou holisties op te bou en te versorg.

Ons kan nie wag om te sien hoe dié Dankie, Lottoland ‘n verskil gaan maak vir die inwoners van Huis Jabes nie. Skakel Saterdae om 17:30 in vir #DankieLottland op kykNET, kanaal 144.