Logo

Terug op die lug! – Boer Soek 'n Vrou 13

Nuus
07 Desember 2020
Die langverwagte nuwe reeks van Boer Soek ‘n Vrou is terug op die lug!
13

Op Donderdagaand 21 Januarie om 20:00 is die nuwe aanbieder, Marciel Hopkins, op haar pos om te kyk of die tien boere liefde kan vind.

Marciel, wat in 2016 ‘n Mej. SA-finalis was en deesdae ‘n model en lewensafrigter is, is die sesde aanbieder van die gewilde reeks. Sy het ‘n honneursgraad in sielkunde en het met die aankondiging dat sy die nuwe aanbieder is gesê sy is reg vir die uitdaging. “Ek is passievol oor mense en om ‘n impak op hulle lewens te kan maak. Ek kon nie vir ‘n beter geleentheid as Boer Soek ‘n Vrou gevra het nie.”

Vanjaar se tien boere is Albert (24) van Clanwilliam, Hannes (52) van Kroonstad, Marthinus (25) van Arlington, Neil (32) van Grabouw, Richann (29) van Vredefort, Déan (29) van Nelspruit, Kobus (52) van Randfontein, Mathys (25) van Dullstroom, PF (30) van Laingsburg en Stephan (41) van Lichtenburg.

Hierdie is die dertiende reeks wat uitgesaai word en het deur die jare nie net kykers vasgenael gehou nie, maar dit ook reggekry om ware liefde vir ‘n hele paar boere te vind. 

Boer Soek ‘n Vrou begin op 21 Januarie om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.