Logo

Kersfees-fliek met ’n kinkel – Asseblief en dankie

Nuus
30 November 2021
Asseblief en dankie wat op 25 Desember om 20:00 op kykNET en is ook beskikbaar op Showmax vanaf 25 Desember 2021
ASSEBLIEF & DANKIE

’n Hawelose vrou red ’n skatryk sakeman se lewe en in ’n ongewone oomblik van Krismisgees, nooi hy haar om in sy luukse dakwoonstel aan te sterk. Hy ignoreer haar bewerings dat sy van ’n ander wêreld kom, tot sy eie lewe omgekeer word ...

Dít is die kort en lank van die TV-fliek Asseblief en dankie wat op 25 Desember om 20:00 op kykNET uitgesaai word en is ook beskikbaar om te stroom op Showmax vanaf 25 Desember. Die regisseur is die bekroonde skrywer Tertius Kapp wat ook vir die draaiboek verantwoordelik was. Laudo Liebenberg en Crystal Donna Roberts speel die hoofrolle en Asseblief en dankie is grotendeels in Kaapstad se middestad verfilm. 

“Soos met die meeste van my idees, was daar nie een spesifieke oorsprong nie,” sê Tertius. “Dit was maar ’n kombinasie van stories wat al eeue lank vertel word, en die wêreld waarin ons vandag woon. Dan was daar ook een nag langs die Gariepdam, halfpad Johannesburg toe ’n gesprek met vreemdelinge wat die eerste vonk vir die storie was.”

Tertius sê hy is lank reeds ’n aanhanger van beide Crystal Donna en Laudo en dat hy baie bly was toe hulle ingestem het om die projek te doen. “Die rolle bied nogal uiteenlopende uitdagings en ek dink kykers sal geniet om te sien hoe hulle dit hulle eie gemaak het.”

Wat hoop hy kry kykers uit die fliek?
“Eerstens hoop ek hulle hou van die komedie daarin,” sê Tertius. “Op ’n ander vlak is Asseblief en dankie vir my ’n moderne feëverhaal; ’n Kersfees-wonderwerk waarby mense van alle agtergronde kan aanklank vind. Ek sou graag dat dit kykers ’n gevoel gee van medemenslikheid en welwillendheid – die ware gees van Kersfees.”

 Asseblief en dankie wat op 25 Desember om 20:00 op kykNET en is ook beskikbaar op Showmax vanaf 25 Desember 2021.