Christiaan Olwagen neem die klassieke teaterstuk, The Seagull deur Anton Tsjechof, en verplaas dit na Suid-Afrika in die 1990’s, bykans ’n honderd jaar nadat dit geskryf is.
Opsomming:
Elkeen van Tsjechof se volronde karakters sukkel met hul eie vrese, verlange, twyfel en frustrasies, wat natuurlik as gevolg van hul eie toedoen is. Ons ontmoet die teaterdiva Irene (Sandra Prinsloo), wat sukkel om gewoond te raak aan streeksrade wat nie meer bestaan nie en kunstefeeste wat haar loopbaan se voorland is; haar sieklike ouer broer, Piet (Marius Weyers), wat wens hy het meer kanse gevat in sy lewe; die onsekere, verlore en vergete seun, Konstant (Albert Pretorius), wat net sy ma se aandag en goedkeuring soek; die naïewe aspirerende aktrise Nina (Rolanda Marais), wat wil wegkom uit die kloue van haar ouers en die klein dorpie waar sy woon, en dan nie weet wat om te doen wanneer sy die geleentheid kry nie; die immer-teneergedrukte Masha (Cintaine Schutte), wat ’n liefdesdriehoek moet handhaaf; die opgewekte filosoof dr. Eugene (Gerben Kamper), wat alles van ’n afstand waarneem; die onafgewerkte plaasbestuurder Elias (Deon Lotz); sy onderdanige vrou Paulina (Martelize Kolver); die armoedige onderwyser Simon (Geon Nel); en die bekende skrywer Boors (Alyzzander Fourie). Elkeen van die karakters dra by tot die gevoel van gevangenheid wat die vakansie op die familieplaas onder ’n vergrootglas bring.
Olwagen se unieke styl, wat ons leer ken het in Johnny is nie Dood nie (2016) – ’n tegniek vervolmaak deur kinematograaf Christiaan Vermaak – dra by tot die suksesvolle verplasing van hierdie teaterstuk na film, een honderd jaar later, aan die ander kant van die wêreld.
Rolverdeling:
Sandra Prinsloo
Marius Weyers
Albert Pretorius
Rolanda Marais
Deon Lotz
Martelize Kolver
Cintaine Schutte
Gerben Kamper
Geon Nel
Allyzander Fourie
Agter die skerms:
Regisseur: Christiaan Olwagen
Vervaardigers: Jaco Smit en Roelof Storm
Oorspronklike draaiboek: Saartjie Botha en Christiaan Olwagen
Die Seemeeu: Foto’s